top of page

Mooistevrou, jou storie is nog ver van verby…


Soms wonder ek waar is daai 18-jarige ek… daai jong dame vol drome,nog bitterjonk, hoopvol (en dalk nog ‘n bietjie naief) ?


As ek maar net geweet het wat ek nou weet, sou die lewe dalk daardie tyd self NOG 'n bietjie makliker gewees het. Dalk net ‘n bietjie eenvoudiger? Min het daai jong meisie wie ek was geweet dat die lewe sommer baie harder houe kan uitdeel.


Ek gaan nie vir julle jok nie maar die afgelope tyd vind ek myself gereeld die vraag vra “Hoe nou Here?” Elke keer as dinge goed begin gaan, daag daar een of ander krisis voor my deur op wat maak dat my moed in my skoene sak en ek uit moedeloosheid vir die Here vra “Hoe nou Here? Wat nou nog?’’


Mooistevrou, voel jy soms dat jy dag-en-nag bid vir die Here en Hy net nie na jou wil luister nie? Voel jy soms dat ‘’it is what it is’’ en dat jy jou lot nou maar moet aanvaar want daai storieboek einde waarvoor jy so ongelooflik hard bid is net nie in sig nie?


Wel, as hierdie jy is dan wil ek vandag vir jou se, byt vas liewe mens, jou storie is nog ver van verby!


Wanneer jy jouself in daai plek bevind waar jy daai een probleem, gebed of selfs hartsbegeerte nie uit jou gedagtes kry nie en konstant top oor die saak is dit so ongelooflik belangrik om dit oor te gee aan God.


Pastoor Steven Furtick het in een van sy preke gese: ‘’What you worry about most, tends to show where you trust God the least “


Die waarheid van hierdie woorde het my hard geruk want ek het nooit besef hoe waar dit eintlik is nie. Om te laat gaan en laat God oorneem en in beheer wees van jou lewe is glad nie maklik nie. Ons het baie keer daardie ek-sal-self houding van ‘n 2 jarige kindjie en vertrou nie dat God in beheer is nie.


Maar die feit is, om te stres oor dinge waaroor jy geen beheer het nie is soos om op ‘n rondtomtalie te sit. Dit gee jou iets om te doen in daai oomblik maar dit laat jou nie vorentoe of eers agtertoe beweeg nie. Dis absoluut sinneloos…


Mooistevrou vandag wil ek jou uitdaag-


Wees braaf genoeg om te laat gaan van daai een ding waarvoor jy so hard bid en dit direk in God se hande te plaas. Hou nog stywer vas aan God selfs al verander dinge om jou. Of jy nou bid vir werk, ‘n swangerskap, ‘n lewensmaat, gesondheid watookal…plaas dit direk in God se hand en vertrou dat sy tyd alles is.


Die plan wat jy vir jouself het mag dalk na die perfekte uitkoms in jou kop lyk, maar God se plan is beslis nog beter! So byt vas!


Ek het iewers die woorde gelees- ‘’Delay does not mean denial. ‘’


As God vir Sarah kan laat wag tot op die ouderdom van 90 jaar om haar ‘n mamma te maak, wie is ons om Hom aan te jaag in Sy plan vir jou en vir my? Dit beteken nie dat as iets langer vat om te kry dat dit glad nie vir jou beskore is nie. Soms onderskat ons die werklike plan vir ons lewe en dit het net so bietjie langer tyd nodig om te realiseer.


Daar mag tye wees wanneer jy voel dat jy alleen is, dat jy verlore is, dat niemand vir jou omgee nie maar tog bring God ons keer op keer terug. God sal ons harte vertroos elke liewe keer wanneer ons terugdraai na Hom toe en Hom net vertrou.


Mooistevrou, ek dink dat die geheim tot sukses is om gelukkig en tevrede te wees met wat jy nou het, waar jy is en wie jy is. - AL IS DIT NOG NIE WIE, WAT EN WAAR JY WIL WEES NIE! Leef voluit VANDAG, leef doelgerig VANDAG, jaag jou drome VANDAG na, en doen dit VREESLOOS - die res sal mettertyd in plek val.


Jou storie is verseker nog ver van klaar. Ons almal leef op geleende tyd, genade tyd. Maak die beste gebruik van elke geleentheid en moenie op ‘n hopie sit en wag tot God jou drome bewaarheid nie.


Laat geloof, hoop en liefde die kompas wees op jou lewenspad en vertrou op God se plan en in Sy devine timing. Alles sal gebeur soos dit moet en jou storieboek einde is nog oppad…


572 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page