top of page

’n Bietjie wegkruip en baie wyn drink

Vandag was een van dáái dae. Een van dáái waar alles eenvoudig net genadeloos verkeerd loop.

Een van daai waar jy teen 10uur wens jy het aan die ander kant van die bed opgestaan, teen half 12 gefrustreerd jou lewensbesluite en vermoëns betwyfel, teen 2uur ooremosioneel verby die vrugte en gesondheidsbroodjie stap en gaan troos soek by die oorblywende gedeelte van gister se sjokolade, teen 4uur vir die 3de keer ‘finaal’ opgegee het en al wat jy teen 5uur desperaat wil doen, is ’n bietjie wegkruip en baie wyn drink.


Ons almal ken dáái dae.


My dag het begin met my 2 jarige dogtertjie wat, soos oudergewoonte, 3uur graag haar ‘tietie’ wou drink, maar moedswillig dit nie in haar kot wou doen nie. Om die rus en vrede van my man en my 3maande oue baba te bewaar het ek haar eenvoudig op die bed in haar kamer aan die slaap laat raak, net om teen half 5 wakker te raak van voetjies op die houtvloer in die gang en ’n benoude stemmetjie wat na mamma soek.

Daarna het alles opdraande gegaan. Ek moes my 5uur oefen roetine kortknip, want my ‘sit-ups’ was meer as wat haar gestel kon hanteer. Ek moes my stiltetyd boek opsy skuif vir “My Skatkis Stories”. Ek moes weer koue koffie drink. My gesigpoeier wat eers gekompakteer was, was net ’n houer vol krummels.


Die hakskoen wat ek na my vergadering wou aantrek het natuurlik gebreek net toe ek by die deur moes uit. En ek kon nie die koffie (waarvoor ek aangedring het om te betaal en broodnodig gehad) bekostig nie, want my bankkaart het steeds na Saterdag se inkopies in die pram by my huis gelê. Ek was nog nooit so bly om ’n R100-noot in my beursie te ontdek nie.


Kort nadat ek by die huis afgelaai is, het ek onthou dat my man vir die dag uitstedig is en teen daardie tyd was ek glad nie verbaas dat my huis sleutel nie in my handsak was nie. Ons geëlektrifiseerde heining het my nie eers toegelaat om op my eie stoep te wag vir beter dae nie. Gestrand en haweloos moes ek ’n vriendin met my probleme opsaal en genadiglik was ek ’n halfuur later gewapen met ’n rekenaar om my soektog na spesifieke sagteware voort te sit.


Teen die tyd wat manlief my kom kry het, was my moed diep in my skoene want die hele middag se navorsing het nie naastenby die gewenste uitkoms gelewer nie. Teen half 6 was ek byna waansinnig toe daar nie spaghetti of bolognaise sous in koskas was vir die spaghetti wat ons oor ’n halfuur moes eet voor die beurt krag inskop (of afskop?) nie.


Met ’n baba wat huil en aandag eis en ’n oorgestimuleerde en oormoeg kleuter wat neul vir ’n ander storie op YouTube, het ek ’n desperate hunkering gehad om net ’n bietjie te kon wegkruip en baie wyn te drink. Ironies genoeg was selfs dít nie vir my beskore nie, want daar was nie ’n bottel wyn in sig of ’n wegkruipplek waar my kleuter my nie sou kry nie.


Mooistevrou, ek deel hierdie dag uit my lewe om vir jou te sê jy is nie al een wat soms voel jou lewe draai buite beheer nie. Jy is nie al een wat skrikkerig en skepties wakker word en wonder wat vandag alles nog kan skeefloop nie. Soms is die sameloop van omstandighede wreed. Soms is dit regtig net buite ons beheer.

Ons hoef egter nie net bewegingloos te staan en die aanslae van die lewe te verdra nie. Met God se genade is ons meer as oorwinnaars. Met my God kan ons ’n bende stormloop. Met my God kan ons oor ’n muur spring.


Ek hoor jou vra: “Okay, hoe doen ons dit prakties?”

Die antwoord is eenvoudig. Beplanning en organisering.

Na baie selfrefleksie het ek tot die besef gekom dat baie van my frustrasie vermy kon word deur bloot net beter te beplan. Neem my woord as ek sê dat basiese beplanning en organisering vaardighede ’n mens vêr kan neem.


Benjamin Franklin het gesê: “By Failing to prepare, you are preparing to fail.”


Thomas Edison slaan die spyker op die kop: “Good fortune is what happens when opportunity meets with planning.” Ek weet nie van jou nie, maar ek kan doen met ’n bietjie “good fortune”.


Dit het nie gereën toe Noag die ark gebou het nie. Hy was gehoorsaam en het beplan.


Deur 1 uur per week te neem en te beplan kan jou tot 10 ure se frustrasie en rondskarrel spaar.


Beplan maaltye vir die week sodat jy nie besluiteloos en sonder opsies voor ’n leë yskas hoef te staan nie. My ‘Fitness Pal’ is ’n gratis toepassing wat jou in staat stel om maaltye te beplan en jou kalorie-inname te monitor. Dit is ook versoenbaar met meeste slim-horlosies om die resultate van jou oefen roetine by te hou. Maak ’n inkopie lys op jou selfoon se ‘Note’-toepassing. Samsung Notes werk vir my doeltreffend.

Laai ’n tydsbestuur toepassing af en beplan jou week. Daar is letterlik honderde gratis en gebruikersvriendelike toepassings beskikbaar. Ek gebruik Clickup vir privaat en besigheids aangeleenthede om al my afsprake te dagboek, take te beplan en my vordering te monitor. Jy sal nooit weer iets vergeet nie. Die dae is eenvoudig net te besig om alles te probeer onthou of om heeltyd na die ‘to-do’ lysie te loop en soek wat jy vir die soveelste keer geskryf en verloor het.


Her organiseer en pak jou kinders se speel en doeksak so spoedig moontlik nadat jy weer tuis kom. Dit sal jou in staat stel om op kort kennisgewing gereed te wees om die huis te verlaat.


Beplan tyd vir jouself. Ek glo in die 20/20/20 principal soos wat ek in die Bybel glo. Elke dag staan ek ’n uur vroeër op – vir mý. Om mý liggaam, siel en gees te voed. Ek oefen vir 20 minute, hou stiltetyd vir 20-minute en lees, skryf of mediteer vir 20-minute. As hierdie 20-minute nie soggens aaneen kan wees nie, ruim ek dit deur die loop van die dag in. Dan lees ek my dagstuk tydens middagete, luister ’n motiveringspraatjie of “mom-hack” in die kar op pad na my afspraak. Of gaan stap vanaand met die kinders om die blok.


Beplan tyd vir jou huweliksmaat. Ja, skeduleer ’n aand of twee in die week sodat jou beenhare geskeer, jou tande geborsel en jou kop nie seer is nie. Ek hoor jou sê: “Planning is a passion-killer.” Mooistevrou, ek wil glo dat jou maat die tyd wat jy uitkoop en spesiaal opsy sit sal waardeer. Ons moet besin of dit die beplanning vir intimiteit is wat ’n ‘passion-killer’ is, of die gesindheid waarmee ons vir hierdie ‘afspraak’ opdaag?


Beplanning sal nie jou dae altyd glad laat verloop nie, maar dit sal daadwerklik ’n verskil maak. In jou huishouding se dinamika, in jou verhoudings en in jou emosionele welstand. Deur dit te doen neem ons beheer terug in eie hande. En as ons regtig wys is, sal ons hierdie beheer in God se hande plaas. Word stil en vra vir God om jou prioriteite in lyn te bring met Sy wil en dit waarvoor Hy jou in hierdie seisoen van jou lewe roep.


Ons beplan vir alle groot gebeurtenisse. Vir verjaarsdae, troues, ‘gender-reveals, geboortes, aftrede, begrafnisse. Ons kan sekerlik vir die elke-dag-se, alledaagse en eenvoudige dinge in ons lewe ook beplan?

Selfs God beplan. Jeremia 29:11: “Ek weet wat ek vir julle beplan...”

Spreuke 21:5: “Wat hardwerkende mense beplan, is nuttig, maar elkeen wat oorhaastig is, stuur af op gebrek.”


Spreuke 16:9: “'n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop.”


Mooistevrou, neem beheer. Beplan. Beplan vir die besige dae met ’n oorvol kalender. Beplan tyd vir die wat jy lief het. Beplan tyd vir jouself. En vir jou eie beswil – beplan sodat daar ten minste altyd vir jou ’n wegkruipplekkie en ’n bottel wyn is vir die dae wat selfs jou beplanning jou in die steek laat.


798 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page