top of page

'n Brief aan die vrou in die spieël

Ek noem dié hoofstuk in my lewensboek die “mom jeans” hoofstuk.

Ek onthou 'n tyd in my lewe waar dit my sou onstel het as ek 'n nommer groter broek moes vat of 'n lospassende rokkie moes koop.


Deesdae boer ek in die ‘mom jeans” afdeling van die winkel en my rokke koop ek doelbewys 'n nommer groter sodat hulle gemakliker om my heupe sit. En ek is okay met dit. Eintlik meer as okay.


Ek staan vanoggend soos elke ander oggend en bekyk myself in die spieël voordat ek die dag aanpak.

Ek kyk vir haar en sy vir my.

Vir 'n paar sekondes deel ons 'n vinnige glimlag voordat 'n klein kinderhandjie my wegtrek om vir haar te gaan pap maak.


Terwyl ek my eerste beker koffie vir die dag geniet en kyk hoe my dogtertjie haar pap eet, dink ek weer aan die vrou in die spieël.

Daar is soveel wat ek nog vanoggend met haar wou deel.

Ek haal vinnig my inkopielysie van die yskas af en besluit om dit vir haar neer te skryf, sodat sy dié hoofstuk elke dag kan lees.

Liefste vrou in die spieël


'n Paar jaar terug het ons ure om gesels terwyl jy sorgvuldig jou grimering aangesit het. Deesdae doen jy dit in minder as vyf minute, want mammas het mos nie baie tyd nie.

Ons deel iewers in daai vyf minute 'n vinnige glimlag terwyl ek jou oorreed dat dit nie nodig is om jou maag in te trek en daai rekmerkroom aan te smeer nie. Jy lyk mooi nes jy is.


Terwyl jy jou broek vasmaak en oorweeg om dalk iets “mooier” aan te trek, herinner ek jou dat niemand gaan om gee oor jou “mom jeans” nie. Hoe anders gaan jy klimraam kan klim en 'n klein dogtertjie om die huis kan jaag?

Ek moet jou vra om asseblief nie meer jou geld te mors op oogroompies en gesigmaskers nie, want jou lagplooie en pigmentasie vlekkies vertel 'n storie.


So gepraat van lag- onthou tog om vandag 'n rede te soek om te lag, want jy verdien dit.

Jy hoef nie om te gee wat ander van jou dink nie. Wees net jouself en leef in die oomblik. Lag oop mond en klip hard as jy wil en eet daai laast blokkie sjokolade- sonder om skuldig te voel. Jy gaan nooit weer vandag terug kry nie.


Spandeer tyd saam met jou man en bid saam oor julle drome. Die skottelgoed gaan in elkgeval nooit ophou nie. Laat dit maar nog so bietjie wag.


Gaan speel in die sandput saam met jou kind en lek die lepel saam met haar af nadat julle die kolwyntjiebeslag in die oond gedruk het. Dit kan tog nie op jou heupe gaan sit as dit met liefde gemaak is nie.


Koop daai nuwe boek en maak tyd om hom te lees, want jy verdien dit.

Hou op om in jouself te twyfel. Jy is meer as genoeg!

Jy is 'n wonderlike vrou en die beste ma vir jou kind.


Vat jou vyf minute elke dag en laat jouself spesiaal voel. Maak vol jou beker, sodat jy genoeg het om vir ander in te skink.


Dankie dat jy my elke dag leer dat wat ons het, net deur Yahweh se genade aan ons gegee word.


Ek is trots op die vrou wat ek voor my sien! Jy is perfek geskape volgens Yahweh se beeld.

Jy is 'n knap vrou en meer werd as edelstene.


“Uiterlike skoonheid hou nie, 'n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy Yahweh dien, dan verdien 'n vrou om geprys te word.” -Spreuke 31:30.


Onthou altyd waar jou krag vandaan kom.


Al my liefde

Die vrou voor die spieël


- Lericia Janse van Rensburg -


979 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page