top of page

‘n Jaar van Genoeg

deur Bianca Brits


‘n Pastoorsvriendin het onlangs in ‘n preek ‘n vraag gevra wat my tot stilstand gebring het: “As God niks vir jou doen nie, behalwe dat Jesus Christus vir jou aan die kruis gesterf het, is dit genoeg vir jou?”

Wow!! Sal dit genoeg wees? Ek weet nie of dit vir my noodwendig genoeg sou wees nie.

‘n Nuwe jaar begin gewoonlik met ‘n lys van resolusies van wat jy alles wil bereik en doen. Ons is altyd opsoek na meer. Na groter dinge. Beter prestasies. Vergenoegdheid is nie gevoel wat baie bekend is nie. En dan kom die einde van nog ‘n jaar en jy voel dat jy nie werklik al die grootheid en wondere ervaar het soos waarop jy gehoop het nie. Dan draai ons eerste na God en beveel antwoorde.


Laas jaar het baie uitdagings gehad en ek het ‘n paar teleurstellings gehad waar ek regtig vir die Here gevra het, “hoekom?” Ek het dan gebid oor die situasies. Hy het presies geweet waarop my hart hoop. Sê Sy woord tog nie, Hy sal ons die begeertes van ons hart gee nie? Ek deel hierdie met my vriendin en wat sy sê het soveel vir my laat oopgaan. Hoekom dien ons God? Oor dit wat Hy vir ons kan doen en gee? Of oor Wie Hy vir ons is? Hy het reeds vir ons die grootste Geskenk ooit gegee, maar dis meeste dae nogsteeds nie genoeg nie. Die oomblik wat ons planne nie uitwerk nie, ons nie kry waarvoor ons gebid het nie of die een teleurstelling na die ander volg, bevraagteken ons dadelik God se goedheid en voorsiening. Maar as ons wegkyk van ons eie wil, planne, begeertes, drome en opkyk na God en besef dat Hy alleen genoeg is, verander dit geheel en al hoe jy na jou lewe kyk en die gebeurtenisse sien. Wanneer ons ophou soek en vra na wat Hy vir ons kan doen, en Hom net sien vir Wie Hy is en wat Hy reeds vir ons gedoen het, verander jou persepsie van Hom.


Al misluk een van jou planne weereens. Hy is genoeg.

Al is die teleurstelling groot. Hy is genoeg.

Al moet jy ‘n droom laat vaar. Hy is genoeg.


Genoeg. Hierdie is my fokuswoord vir hierdie jaar. In elke situasie, ongeag, wil ek getuig, God is genoeg.


Net in hierdie jaar se eerste paar weke was dit asof God my al geleer het dat as Hy genoeg is, maak dit my hart oop om meer te gee. Jou fokus skuif van wat jy kan kry en bereik na wat jy kan gee en uitdeel vir ander.


Die uitdaging vir hierdie jaar is om tevrede te wees al verander niks groots vir my nie en al het ek niks bonatuurlike deurbrake nie. Al kan ons niks verander in ons huis soos ons graag wil nie, al bly my salaris wat dit nou is, al kan ek net maandeliks bekostig wat nodig is, en al gebeur daar niks groot Facebook aankondigings nie, in dit alles wil ek soos Paulus kan sê: “Ek het regtig geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is.” (Filippense 4:11) En dit alles omdat God vir my genoeg is.


Ek wil kan bly wees vir ander en vier in hulle suksesse en geluk, want omdat God reeds vir my genoeg is, kan ek vir ander bly wees.


Ek wil dankbaar wees vir al die seëninge wat ek reeds in my lewe het, want God het my reeds ontelbaar meer gegee as net Jesus wat vir my gesterf het.


Ek wil God elke dag prys vir die goeie, getroue God wat Hy is of Hy my nou gee wat ek wil hê of nie.


Ek wil amper hê dat al kry ek alles wat ek wil hê en voor hoop en oor droom dat hierdie níe vir my genoeg sal wees nie, want al verloor ek alles en het ek vir God, dan het ek niks meer nodig nie.


‘n Liedjie speel nou die oggend op die radio en dit vang eintlik vas waaroor alles gaan.


For me to live is Christ. To die is gain.


Christus is álles. Hy is genoeg. Méér as genoeg.


Dis my fokus vir hierdie jaar. God sal genoeg wees vir my. In alles.


Die groot wonderwerk in dit alles is egter hoe God reeds in hierdie kort tydjie al klaar meer voorsien het as waarvoor ek gevra het of verwag het.


Dis soos Sy Woord sê: “Maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is julle prioriteit, dan sal God al hierdie dinge byvoeg.” (Matteus 6:33)


Elke goeie ding wat hierdie jaar gebeur. Elke ekstra stukkie genade wat ek kry. En elke wonderwerk wil ek God dan met absolute oorgawe loof en prys want Hy het glad nie nodig om enigiets vir my meer te doen nie. Maar tog doen Hy omdat Hy ons lief het en ons Sy kinders is. Hy gee nie omdat Hy moet of omdat ons geregtig os daarop nie. Hy gee omdat dit is Wie Hy is. En dis my fokus. Op God self. En Hy is méér as genoeg vir my.


714 views2 comments

Related Posts

See All
bottom of page