top of page

’n Koppie swaarkry

Ek is ’n absolute ‘sucker’ as dit by ’n mooi koppie kom. Nie stelle koppies wat saamhoort nie. Individuele en unieke koppies. Met Bybelverse en inspirerende woorde op. In kleure wat my dag ophelder. In vorms en groottes wat my siel voed. Ek het lank terug reeds vrede gemaak - ek sal nooit genoeg koppies kan hê nie. Noem dit maar ’n koppie-probleem.


Uit hierdie koppies drink ek, suinig en selektief, aan tientalle soorte koffie. Kitskoffie, skuim koffie, room koffie, kondensmelk koffie, melk koffie, rykmans-koffie, maar nooit ooit swart of sterk of bitter koffie nie. Ek maak my koffie lékker. Soos ék daarvan hou. Soveel soos wat ek wil. (En kan bekostig.)


Elke nou en dan word ek, onaangenaam, verras deur iemand wat vir my ’n koppie koffie maak. Een waaraan ek swaar sluk. Nie almal het die vermoë gekry om ’n verruklike koppie koffie te maak nie. Die lewe is ook so.

Elke nou en dan kry ons ’n koppie swart, sterk en bitter koffie. Een waaraan ons swaar drink. Een wat te warm is. En sleg smaak. Een wat ons nie wil hê nie. ’n Koppie swaarkry.


Dalk kry jy vandag swaar. Dalk dra jy swaar aan ’n verhouding wat seermaak. ’n Mediese kondisie waarvoor daar nie medisyne of fondse is nie. ’n Huis wat eensaam is. Werksomstandighede wat ondraaglik is. ’n Bankrekening en yskas wat leeg is. Dalk kry jy nie die ekstra paar kilogramme afgeskud nie. Dalk kom jy nie uit verslawing se greep nie. Dalk treur jy oor ’n geliefde se dood. Dalk is jy moedeloos oor die graad wat jy nie met lekkerheid kry, of enigsins mee klaarkry nie.


Dalk is jy moeg en leeg. Dalk vra jy vandag: “Here, waar is U? Hoekom gryp U nie in nie? Wanneer gaan my swaarkry einde kry?”


Dalk het jy jou lot aanvaar en glo jy dat ’n lewe vol swaarkry God se wil vir jou is.


Ek het nie vandag vir jou ’n ‘kwiek-fieks’ vir jou swaarkry nie. Ek kan nie vir jou die top 10 wenke gee om swaarkry te beëindig of vry te spring nie. Ek kan wel net vir jou sê dat swaarkry en ellende nie God se wil vir jou lewe is nie. Hy beplan vir ons voorspoed en ’n toekoms.


Ek hoor jou vra: “As dit nie God se wil is nie, hoekom laat Hy dit toe?” Ek voel jou.

Ek het ’n paar weke gelede op ’n Sondagmiddag hierdie vraag voor God gestel nadat my ma ’n slagoffer van ATM-diefstal was. “Hoekom Here?” Ek het Sy stem duidelik in my gees ervaar. “Sal ’n rede die gebeurtenis minder traumaties maak? Sal dit jou minder ontstel? Sal die gevolge beter wees?”

Dit sou nie.


’n Gedeelte in die Bybel wat ek nog nooit gelees het nie, het die hele Sondag by my gespook – Maleagi. Ek het dit gaan lees en God het die volgende insig by my tuisgebring.


Somtyds lê daar in swaarkry ’n les om te leer. Dalk moet ons leer om beter finansiële besluite te neem en te begroot. Dalk moet ons begin om getrou ons tiende te gee en in God se Koningkryk te belê eerder as in Bitcoin. Dalk moet ons leer om te rus, te oefen en ’n gesonder leefstyl te handhaaf. Dalk moet ons leer om sagter met mense te werk en in die regte verhoudinge te belê. Dalk moet ons ons denkwyse en gesindhede verander. Dalk moet ons ons tyd beter bestuur en ons dagboeke losmaak van afsprake wat nie noodsaaklik is of waarde toevoeg nie.


Steve Harvey het dit só mooi gestel: “Make sure you’re not the weapon formed against yourself that is causing you not to prosper.”


Somtyds het ons swaarkry niks met ons te doen nie en lê daar ’n les vir iemand anders in die wyse waarop ons swaarkry verduur. Soms raak ons swaarkry ander sodanig dat hul nie anders kan as om vir God te soek nie. Soms is ons getuienis só groot dat dit mense na God toe lei. Hoe swaar hierdie las ook al mag wees, dit is en bly ’n voorreg om op só ’n kragtige wyse deur God gebruik te word – al voel dit nie nou so nie, ek belowe jou, dit gaan elke stukkie swaarkry werd wees. God seën gehoorsaamheid. Dalk nie vandag of môre nie. Dalk nie eers op aarde nie. Maar na hierdie lewe lê ’n ewigheid vir ons en wag.


En dan is daar kere waar swaarkry ons tref sonder dat ons dit verwag of verdien. Een van die mooiste en gevaarlikste dinge wat God vir ons gegee het, is vryheid van keuse. Elke besluit, het gevolge. Soms is ons die “collateral damage” van iemand anders se besluit. Die slagoffer van iemand wat drink en bestuur. Die slagoffer van misdaad. Die slagoffer van ’n gewelddadige man of pa. Die slagoffer van ongelykheid. Die slagoffer van Covid. Die getraumatiseerde kind wat deur sy ouers mishandel of misbruik was. Die broodwinner wat sy werk verloor omdat die eienaar van die besigheid onoordeelkundig met geld gewerk het. Ek kan aangaan.


Swaarkry maak seer.

Dit maak hard.

Dit maak swak.

Maar, dit maak ook sterk.


Swaarkry dryf mense uitmekaar uit en maak die gaping tussen verstaan en oordeel gróót.

Maar dit bring ook mense nader aan mekaar as ooit tevore. Gesinne, vriende, kollegas, gemeenskappe.


Soos Jesus ook beleef het, gaan alle koppies swaarkry ongelukkig nie by ons verby nie. Soms moet ons ook uit die leidingsbeker drink. Soms moet ons die swaarkry proe. Weens ons eie besluite, of die van ander.


Ons as gelowiges is nie gevrywaar van swaarkry nie. Ons is egter verseker dat God oorkant ons by die kombuistafel sal sit terwyl ons ons koppie swaarkry afsluk. Hy sal ons nie los nie. Hy sal nie Sy plan vir ons lewe verander as gevolg van ons of iemand anders se verkeerde besluit nie. Hy sal selfs die slegste besluit ten goede laat meewerk.


Ek bid dat elke dag vir julle ’n heerlike koppie koffie sal inhou.


Vir die wat tans besig is om van ‘n koppie swaarkry te drink, bid ek dat jou koppie sal klein wees en jou dapperheid en gehoorsaamheid spoedig met ’n groot stuk lemon meringue of tjoklit koek beloon sal word.


Vir die wat nog nie die bitterheid van ’n koppie swaarkry geproe het nie, bid ek dat wanneer ‘n koppie swaarkry wel eendag oor die tafel kom, Sy genade vir jou genoeg sal wees.


Deur Susan Westraadt

1,666 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page