top of page

'n Lewe In Oorvloed

Tyd staan nie stil nie. Die dae vlieg behoorlik verby. Ek dink terug aan laas jaar hierdie tyd – net ‘n paar dae voor my seuntjie se geboorte. Hy word ‘n jaar oud en ek probeer vasstel waarheen die tyd gegaan het. Hoe is dit dat die oomblikke soms so lank voel, maar as ek kyk is dit amper asof jy dit gemis het so vinnig het dit verby gegaan?


Ek sit in die bed en staar na my seuntjie se slapende gesiggie. Ek het geweet hy gaan vinnig groot word – maar nie werklik besef hoe vinnig nie. Daar gaan 'n dag kom waar ek gaan verlang na hierdie dae. Ek is opgewonde om te sien die seuntjie en man wie hy eendag gaan wees. Maar terselfde tyd wil ek net vashou aan hierdie kleingeid. Ek onthou die dae wat ek gedink het ek gaan nooit 'n man vind nie. Trou en kinders het soos 'n onrealistiese droom gevoel. Die gedagte onwerklik en té groot. Maar tog sit ek hier vyf jaar getroud en 'n kleintjie in die arm. En daai dae van droom en wonder voel soos 'n ewigheid terug. Hoe het ek hier gekom? En so vinnig? En hoe lank gaan dit nie neem voor al die hier en nou ook net 'n vae herinnering is nie?


Om terug te keer werk toe was swaar. Dis so maklik om weer in die ou gewoonte te kom om die werksdae om te wens en te leef vir die aande wanneer ek by die huis kom en vir die naweke se rustigheid. Maar dit kom en gaan so vinnig en dan is nóg 'n week en nóg 'n maand verby. En die vraag is, 'wat het ek gedoen?' 'Geleer?' 'Het ek iewers 'n verskil gemaak?' 'Het ek iets gedoen wat my gelukkig maak?'


Het ek gelewe of het die lewe net weer verby gevlieg?


Oorleef. Ek dink dit is soms al waarop ons fokus. Net om te oorleef en in die tussentyd beweeg die lewe in 'n warboel verby. Ek moet net deur hierdie dag kom. Hierdie week. Hierdie jaar.

Maar is dit werklik hoe jy wil lewe?


So tyd terug lees ek 'n artikel in 'n tydskrif van 'n onderhoud met 'n bekende Suid Afrikaanse aktrise. Onderandere is daar 'n afdeling met 'n paar vinnige, kort vrae: wat maak jou gelukkig? Wat sal jy weer in jou lewe oordoen?

Na ek die artikel gelees het, rig ek uit interessantheids onthalwe die vrae aan myself. Dis eenvoudige vrae, maar ek moes so hard daaroor dink en kon nie dadelik by 'n ware, opregte antwoord kom nie. Wat maak mý werklik gelukkig? Wat is my waardes? Waaraan glo ek?


Ek besef dat ek nie eers weet wie ek is of wat vir my saak maak nie. Ek oorleef dag na dag, maar ek lééf nie, nie werklik nie. Elke dag het tog immers nodig om iewers betekenis te hê. Ongeag hoe klein. Daar moet meer opsetlik geleef word, dinge gedoen word en besluite gemaak word.


Elke dag is uniek ongeag hoe dieselfde dit soos gister voel. Elke dag wat ons opstaan is 'n nuwe begin. Om weer te probeer beter doen, slegte gewoontes te verbreek, iets nuuts te leer. Werklik te leef. Moenie dat die dae net verby gaan nie. Tyd gaan te vinnig en eendag gaan jy terugkyk en wens jy kon hierdie oomblikke oor hê om dinge anders te doen. Vra jou toekomstige self wat jy vandag moet doen om nie eendag spyt te wees nie.


'n Lewe in oorvloed. Dis om binne jouself vrede te hê dat wat jy vandag gedoen het, in lyn was met wie jy is en werklik wil wees. Dis 'n geluk wat nie tydelik of vlugtig is nie, maar ware diep geluk wat bly selfs al gaan dinge nie soos jy gehoop het nie. Dis geluk en vrede wat nie vanuit jouself kom nie, maar van Bo. Jesus het gesê, "Ek het gekom sodat julle lewe kan hê, en lewe in oorvloed." Johannes 10:10


321 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page