‘n Ma se Gebedslewe
Om ‘n mamma te wees kan meeste van die dae voel soos ‘n ‘rollercoaster’-rit. Daar is die hoogtepunte en tye wat jy dink ‘ek het dit, ek kan alles doen.’ Dan is daar die lae, lae dae waar jou geduld al voor sewe in die oggend, sakkie gepak, by die deur uit is. En dan is daar so baie oomblikke wat jy voel jy onderstebo hang met net jou voetjies wat nog in die lug bly skop, want jy het geen idee watter kant toe nie.
Moederskap is ‘n mengelmoes van emosies. Dis nooit net een ervaring in ‘n oomblik nie. Dis terselfdetyd vervullend en uitputtend. Dis ‘n stryd tussen vuilword en leer, en te wens dat die huis net vir ‘n paar uur kan netjies bly. Dis geduld wat jy vir niemand anders het nie en frustrasie op ‘n hele ander vlak. Dis om die hier en nou te geniet, en te droom oor die toekoms.
Ek vra onlangs ‘n ouer vriendin wat haar geheim is dat sy haar seun so mooi en ordentlik grootgemaak het. Haar antwoord: gebed. So ‘n eenvoudige antwoord, maar so kragtig. Verstaan ons werklik wat gebeur en watter invloed ons het wanneer ons bid vir ons kinders?
Gebed moet ons lewenslyn word. Dis ons kragprop in die grootste Bron van ons krag en geduld en hoop. Om mamma te wees is soms skrikwekkend. Daar is so baie dinge waaroor ons nie beheer het nie. Daar kom tye wat ons ons kind se hand moet los en laat hy self loop en moontlik val. Daar kom ‘n tyd wat ons nie meer hulle keuses vir hulle kan maak nie. Ons enigste hoop hier is om te bid en dinge in die hande te los van die Een wat ons kinders selfs meer lief het as wat ons ooit kan.
Elevation Worship en Maverick City sing ‘n liedjie getiteld Talking to Jesus. Dit gaan oor ‘n ouma en ‘n ma wat gebid het. Wat hardop gebid het en met Jesus gepraat het waar hulle kinders kon sien en hoe dit uiteindelik lei dat die kinders self ook leer om met Jesus te praat.
Gebed is soveel meer as net ‘n vinnige rympie tydens aandete of ‘n naggebedjie voor slapenstyd. Dis ‘n daaglikse, onophoudelike gesprek met Jesus. Ons Verlosser en Redder. Ons het die voorreg om met Hom te kan gesels. Verbeel jou net die impak wat dit in ons kinders se lewens kan hê as ons as ma’s so lewe dat hulle in elke oomblik kan sien hoe ons met Jesus kommunikeer. In die goeie oomblikke, Hom loof en erkenning gee vir Wie Hy is en hoe goed Hy is. In die swaar tye wat ons op ons knieë gaan en alles oorgee in die hande van Hom vir wie niks onmoontlik is nie.
Gebed hou ons gegrond wanneer die bekommernisse wil oorneem. Gebed gee hoop in onsekere tye. Gebed maak ons sterker en maak ons uiteindelik beter mammas.
Jy het nie nodig om al die antwoorde te hê of alles reg te doen nie, maar jy kan gaan gesels met die Een wat wel die oplossing het.
Moet nooit die krag van gebed onderskat nie. En moet nooit dink dat jou gebed nie ‘n verskil kan maak nie. Al neem dit jare, moenie moed opgee nie. Jou gebed val nie op dowe ore nie en sal nie onbeantwoord gaan nie.
Mag gebed ons nuwe manier raak van kommunikeer. Mag ons kinders sien hoe ons bid. En mag gebed ons en ons kinders se lewens kom verander.