‘n Tyd om te groet én om te verwelkom…
Ons almal moes al iewers iemand totsiens sê op verskeie maniere, en ek glo dat elke groet iewers ñ leemte in ons los of ons oë oopmaak om dinge anders of beter te doen.
Ons dogtertjie word amper 3, en as sy hoor sy kan by Ouma en Oupa kuier of oorslaap dink sy nie 2 keer om haar tas te vat nie. Onlangs het dit sommer baie onverwags gebeur, dit was ‘n gejaag huistoe om haar goedjies te kry en daar is sy weg.
Gewoonlik berei ek myself ‘n paar dae verstandelik voor vir ‘n aandjie sonder ons pop, maar die keer was anders. Dieselfde aand moes ons my skoonsussie’le groet wat Nederland toe emigreer. So, alles was maar net teveel vir een aand. Die huis was stil en leeg sonder die klein asempie, en om ‘n geliefde te groet bly swaar.
Ek kom toe met die besef, om iemand te groet klink so asof dit ewig is, ek lees toe heel toevallig raak dat in plaas daarvan om te groet moet ons dankie sê. Dit klink net so vreemd, want hoekom dankie sê as iemand weg gaan?
Eerstens dink ek, dankie vir ons kleine meisiekind wat ons harte daagliks vol maak en die kleiner dinge raak sien, en meer waardeer. Dankie dat ons haar kan sien groot word, besluite neem en haar eie sterk persoonlikheid vorm.
Om iemand te groet is nie noodwendig vir ewig nie, maar ons kan dankie sê vir die kosbare herinneringe wat agter gelaat word. Dankie dat daardie mense so groot rol in ons lewens kan speel om groet so seer te maak. Dankie dat ons by daardie persone kan leer, as ek kyk na my skoonsussie’le , dis ‘n enorme stap om familie te groet en die onbekende in te vaar, hier sien ek dapperheid raak en ek kan dankie sê vir die voorreg om naby my geliefdes steeds te kan wees.
Maak seker dat wanneer jy groet jy dit nie met spyt doen nie, maar met vrede in jou hart om te weet dat God ook in hierdie saam jou is. Hy weet in watter seisoen ons wie of wat moet groet en dat dit ten goede sal meewerk.
Met elke groet is daar iets nuuts wat ons verwelkom. Iets nuuts gaan begin blom as ‘n nuwe hoofstuk begin, en dat groet nodig is, want dit bring groei. God weet presies wat vir ons beplan is en Hy weet verseker wat die groter prentjie is agter elke groet, al verstaan ons nie, al maak dit seer.
Ek is elke dag dankbaar om aan herinneringe vas te klou en dit saam my na môre te kan dra.
“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!”
JEREMIA 29:11 AFR83