‘n Tyd soos die…
Lockdown, level 4 dag 3 en wie weet of dit Donderdag, Vrydag of Saterdag is. Al wat saak maak is dat ons nog 'n dag nader is aan vry wees, al weet ons nog nie wat hierdie vry wees gaan beteken nie.
Alhoewel ek groot is op positief wees, dink ek baie van ons sit met soveel frustrasie en sukkel om saam met al die "influencers" daar buite die mooi in hierdie raak te sien. Ons sukkel om dieselfde dag oor en oor te leef en steeds te voel dat daar iets goed uit hierdie gaan kom of is. Dis nie goed om te sien hoe mense hulle werk verloor nie en die duisende harte wat geskeur word deur geliefdes wat sterf as gevolg van hierdie virus is ook nie iets wat ek sou afmaak as mooi nie. Ek verstaan nie hoe dit werk nie. Wie kies wie mag bly en wie moet gaan? Hoekom verdien ek nog om gesond te wees, maar die oom wat langs my bly en nie elke dag 8 koffies drink nie moes gaan. Sy tyd het gestop en ek verstaan nie?
Ek dink aan hoe skielik al die bekende "quotes" oor hoe ons nooit genoeg tyd sal hê nie nou 'n bietjie minder van toepassing is en hoe ons classic "ek het nie tyd nie" verskoning geen gewig dra nie. Op hierdie oomblik is dit juis tyd waarmee ons bekers oorloop, die einste tyd wat jy eens op 'n tyd langs die pad verloor het en gedink het jy nooit weer terug gaan kry nie. Die land stil weer effens stil en ek sien hierdie weer as 'n kans om in te haal, al ons emosionele baggasie af te pak en uit te sorteer. Ons kan as 'n beter individu aan die anderkant van hierdie uit kom, iemand wie se binnekamers mooi reggepak is en getuig van 'n lewe vol genade en guns.
In hierdie tyd lê ek meer as ooit. Ek lê en werk (hoop nie my baas lees hierdie nie). Op die bank, voor die tv of op die gras, maar uit al hierdie gelê het ek besef, as die lewe jou voete onder jou uitslaan en jy op jou rug land kan jy net Op Kyk. En met al hierdie Op Kyk, het ek besef hoe ons net mekaar het nou.
Geen geld of huisie by die see kan dit wat ons deur gaan fix nie. Die naaste wat ons aan “feeling fixed” gaan kom is mekaar.
Nog iets wat ek besef het in die tyd is dat ons altyd 'n keuse het. Nie oor wat gebeur nie, maar hoe jy gaan reageer.
Hierdie is 'n rou proses en ons sal nooit al die antwoorde hê nie, maar die son kom nog elke oggend op en dit moet iets beteken.
Met dit alles gesê hoop ek dat ons almal VREDE sal vind. 'n Tipe vrede wat jou hart rustig maak met die wete dat ons als wat oorbly gaan vat en 'n splinter nuwe begin gaan maak. 'n Begin waar mense nie sal vergeet om lief te wees vir mekaar nie, waar dit nie snaaks sal wees om vir vreemdelinge drukkies te gee nie en ook 'n begin waar ons almal besef dat ons deel is van iets soveel groter as onsself dat ons nooit eers sal kan begin om dit te verstaan nie.
