'n Volgeling van Hóm
Deur Bianca Brits
Niks berei jou voor vir die onsekerhede wat gaan toeslaan sodra jy die eerste keer 'n mamma word nie. Ek is bietjie meer as 'n maand die mamma van die pragtigste seuntjie, maar die onsekerhede, vrae en twyfel het sommer vroeg in hierdie nuwe reis sy kop kom uitsteek. Voor ek self 'n mamma geword het, het ek gelees hoe ander ma's vertel hoe hulle nie goed genoeg voel nie, twyfel of hulle die beste vir hulle kinders doen, sleg voel oor klein dinge. Ek het gedink dis net 'n saak van my emosies en gedagtes beter beheer. Toe nie. Binne die eerste week wonder jy of jy die beste vir jou kleintjie doen. Jy vergelyk jouself met ander mammas. Hoekom lyk dit of sy dinge so maklik het? Wat as mense my oordeel oor hoe ek dinge doen? Waarom het my planne, idees en wense nie uitgewerk soos ek gehoop het nie? Om ons self te vergelyk met ander het amper tweede natuur geword. Ons blaai deur sosiale media en sien Pinterest-perfekte oomblikke. Ander se lewens lyk so vol, suksesvol, produktief en foutloos. En jy wonder hoekom jy nie eers een van jou doelwitte kan bereik nie. Jy soek ook daardie lewe. Daardie oomblikke. Daai vrou se man lyk so gelukkig saam met haar. Daardie mamma lyk of sy alles onder beheer het. Sy doen die vrou-mamma-beroep lewe so moeiteloos. Dis so maklik om jou lewe te vergelyk met iemand anders se prentjie perfekte Instagram status, maar die waarheid is dat die nie-so-mooi stories nie altyd gedeel word nie. Mens weet ook nie van die opofferings, moeite en hardewerk wat wel agter die perfekte prentjie sit nie. Niemand se lewe is perfek nie. Daar is net Een wie nagevolg moet word. Een wie 'n perfekte lewe gelei het. Een wie vir ons die perfekte voorbeeld gestel het. Dis als goed en wel om mense op sosiale media te volg, maar ons moet 'n volgeling van Christus word. Efesiërs 5:1 sê "Omdat julle God se kinders is wat Hy liefhet, moet julle sy voorbeeld volg." Ons lewe moet Sy karakter naboots. In elke area van vrou, mamma, dogter, suster, vriendin, kollega wees moet ons probeer om meer soos Jesus te wees. Nie soos die vrou langsaan of die onberispelike bekende nie. Nie soos die doen-alles mamma of suksevolle beroepsvrou nie. Christus stel vir ons die voorbeeld hoe ons ander moet hanteer. Hoe jy as vrou jou man moet behandel. Hoe jy jou kinders moet grootmaak. Hy leer ons hoe om te lewe en wat werklik belangrik is. Belangriker as die perfekte prentjie. En Hy wys ons waar ons moet verander. Nie om beter te wees of om ons lewe te laat pas by iemand anders s'n nie, maar om meer soos Jesus te wees, 'n gehoorsame lewe te lei eat toegewy is om Hom tevrede te stel. Die enigste manier om die web van vergelykings en onsekerhede te stop is om jou fokus van die wêreld af te haal en op Christus te plaas. So vergelyk jy jouself met niemand nie en groei jy persoon in alle areas van jou lewe om uiteindelik die beste jý te word wie God jou geskape het om te wees.