‘n Warm Kombers

In die wintertye is daar niks lekkerder as om onder ‘n warm kombers voor die televisie in te kruip nie. Vir ure kan ek daar lê en broei, maar dis wanneer dit tyd raak om op te staan en na ‘n koue kamer toe te beweeg, wat die hele ervaring nie so aangenaam raak nie. Dis dieselfde in die oggende. Die gasverwarmer word vroegoggend aangesit om die kamer op te warm, maar later as ek moet uitgaan werk toe voel die koue buitelug of ek ‘n yskas binnegaan.

Dit laat my wonder hoeveel maal ons nie die gemak van die lewe soos ‘n warm kombers om ons vou nie. Terwyl ons daar warm broei gaan dit vir die oomblik goed, maar dit verander nogsteeds nie die realiteit van minder aangename of onsekerhede wat ons in die gesig moet staar nie.

Ons gemaksones is een van die veiligste plekke om te wees - of só dink ons. Maar dit kan ook een van die gevaarlikste plekke word. Jou gemaksone beteken vir jou niks as dit jou nie vorentoe in die lewe neem nie. Natuurlik is dit 'n lekker gevoel om seker te wees van jou omstandighede, om te weet wat verwag word en 'n idee te hê wat die uitkoms van sake gaan wees. Min mense hou van die verrassingselement. Maar soms is dit juis buite daardie gemaksones wat jy werklik groei en 'n nuwe deel van jouself ontdek.

'n Tydjie terug het iemand oor die radio 'n interessante vraag gevra wat my nogals aan die dink gesit het. Waar sou ek vandag gewees het indien ek die risikos geneem het wat God op my pad geplaas het? Hoeveel keer gee God ons nie sekere geleenthede en maak vir ons nuwe deure oop nie, maar ons is so bang om die risiko te neem. Wat as dinge nie uitwerk nie? Wat as dinge nie dadelik verander en daar genoeg voorsiening is nie? Wat as ek onverantwoordelik of belaglik lyk?

Hoe ver is ons bereid om God te vertrou? Hy het ongelooflike groot en mooi planne vir ons lewens, maar Hy kan ons nie ten volle gebruik indien ons nie bereid is om ten minste net al 'n voet uit ons gemaksone te steek nie.

Ons kan wag vir 'n beter tyd. Wag tot ons meer gereed voel. Maar dis soos daardie warm kombers op ‘n koue wintersoggend. Die koue wag nogsteeds vir jou aan die anderkant. Jy kan tog nie heel winter hiberneer totdat die somer opdaag nie. Net so kan ons ook nie in ons gemaksones bly tot ons meer gereed voel of die omstandighede beter lyk nie.

Dit is dalk skrikkerig, maar waarvoor is jy meer bang? Om die kans te neem en jou gemaksone totsiens te waai? Of om gemaklik deur die lewe te gaan, maar eendag terug te kyk en te besef dat jy uitgemis het op die lewe wat God vir jou beplan het?


304 views0 comments

Recent Posts

See All