top of page

Neem ‘n Ek-Oomblik

Is dit net ek of voel dit asof die lewe deesdae met ons weghardloop? Of daar net nie genoeg tyd is om by alles uit te kom en te doen wat jy moet doen nie. Nie eens te praat van tyd vir iets wat jy dalk graag sou wou doen nie.


Die laaste tyd het ek baie oomblikke gehad wat ek oorweldig gevoel het. Mamma-wees is ‘n dag se werk op sy eie, maar dan moet ek nog elke dag werk toe gaan - daar waar ek eintlik betaal word vir my werk. Ek het take om in te handig voor die eksamens begin. Dan is daar die onophoudende huistake. Ek het net die bodem van die wasmandjie gevind na ek die strykwerk oor drie dae oplaas klaar gekry het en dan is dit alweer wastyd.


Uiteindelik kom ek by ‘n punt wat ek net sit en niks doen nie, want dis al waarvoor ek krag het. Maar dit neem nie lank vir die skuld om binne te kruip en my te herinner dat ek tyd mors nie. Swaar staan ek maar op en veg weer voort.


Waarom voel ons so maklik skuldig om net ‘n oomblik vir onsself te neem? Ons kan onmoontilk nie net bly gee en bly doen en bly rondhardloop sonder om ‘n oomblik te neem om asem te skep nie. Jy sal neerslaan en wie gaan jou dan optel?


Selfs Jesus het oomblikke geneem waar hy net weg beweeg het van al die warboel van die lewe en die skare mense wat na Sy aandag gesoek het. Hy het gereeld op Sy eie weggegaan om te bid en was soms vir ure nie te sien nie. Na lang dae waar Hy en die dissipels mense bedien het, het Hy hulle aangeraai om eenkant te gaan en te rus.


Jesus nooi ons ook uit om na Hom toe te kom en rus te vind. In Matteus 11:28 së Hy: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.”


Ons het nie nodig om oorweldig en kragteloos te voel nie. En ons is geregtig op ‘n ek-oomblik sonder om skuldig te voel. Maak ‘n punt daarvan om iewers in jou dag net ‘n oomblik vir jouself te neem. Al is dit net 10 minute wat jy iewers kan afknyp en doen iets wat jy wil doen. Of dit nou is om ‘n boek te lees, ‘n stukkie te skryf in jou joernaal, net ‘n koppie koffie op die stoep te drink of ‘n paar minute met die Here te spandeer.


Hierdie oomblikke is nodig sodat ons net weer moed kan skep en weer vir alles en almal rondom ons die nodige aandag en tyd kan gee. Maar tussen dit alles, moet net nie van jouself vergeet nie. Jy is ook belangrik en verdien ‘n ruskans.


272 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page