Om Die Regte Ding Te Doen Is Moeilik, Maar Die Verligting Is Groot.
Toe hierdie jaar begin het, het ek die woord ‘diensbaar’ op my hart gehad. Die idee daaragter was om uiteindelik meer soos Jesus te raak. Hy is tog ons grootste voorbeeld van ‘n ware, nederige dienskneg. Soos die Bybel sê, Hy het immers gekom om te dien, en nie gedien te word nie (Mat 20:28). Maar tog, soos die weke verby gaan, voel ek net nie die woord nie. Dit praat nie genoeg met my en werk met my soos ek graag sou wou hê nie. Wat my nou al laat wonder het of hierdie werklik my woord vir die jaar moet wees.
Die laaste paar weke was deurmekaar en bedrywig. Met werksveranderinge, familie bekommernisse, ‘n siek baba, tyd wat net nooit genoeg is nie, en ‘n kurses waarvoor ek eers laat aand kans kry met die gevolg dat slaap maar min is, het ek op tye gevoel dat alles net te veel is. My gemoedere was maar swaar en om alles te kroon, het dit gevoel of die Here ook besluit het dat juis nou die perfekte tyd is om my uit te daag.
Gedurende my Bybelstudietyd is dit die afgelope paar weke oor en oor beklemtoon hoe ek nie moet lewe volgens my gevoelens nie, maar dat ek moet doen wat reg is volgens die Woord van God. Dat deur dit te doen, jy uiteindelik beter sal voel. Toe bevind ek myself mos in twee situasies – een waaroor ek sleg gevoel het, en ‘n ander een waaroor ek gestres het. Albei as gevolg van my wat nie dinge heeltemal op die regte manier hanteer het nie, al was my bedoeling nie sleg nie. Ek het met hierdie situasies geworstel en was nie seker hoe ek dit moes benader nie. Dalk net los en hoop dit gaan weg? Want om die regte ding te doen sou my forseer om uit my gemaksone te beweeg, om te erken ek het ‘n fout gemaak (en mens se trots kan so in die pad wees daarvan) en die risiko staan om teleurstelling of moeilikheid van die ander party te ervaar.
Soos ek met die Here begin praat hieroor en wil leiding vra, besef ek ek weet reeds wat die antwoord is. Doen net wat die Woord sê. Doen die regte ding. Dit het baie moed en oortuiging geneem, en my senuwees was klaar, maar ek het gedoen wat ek geglo het die Here sou wou hê ek moes doen. Dinge het grootendeels uitgewerk, maar dis die verligting wat ek gevoel het, wat alles die moeite werd gemaak het.
Daar is iets wat in ons harte gebeur die oomblik wat ons besluit om al ons eie gevoelens op sy te sit, om nie te fokus op mense se reaksies nie, en voluit net God se Woord te volg, ongeag wat dit van jou vereis. En dan maak dit ook nie werklik saak hoe die situasie dan uitdraai nie, want jy weet jy het die regte ding gedoen. En dis waaraan ons krag lê. Dis hier waar groei en geestelike volwassenheid begin plaasvind. Daar is hierdie hoop binne jou dat jy tog daardie persoon kan wees wie God jou geskape het om te wees.
Transformasie. Dis wat ek voel die Here tans op hierdie oomblik met my besig is mee. Hy verander my, en snoei my. Alles sodat ek meer soos Jesus kan word. En so slaan dit my. Diensbaarheid was dalk nie spesifiek my woord vir die jaar nie, maar die idee daaragter wel. Om meer soos Jesus te wees. Diensbaarheid is maar net een aspek van hierdie transformasie, maar die geleenthede is daar elke dag om te oefen en te besluit wat ek gaan maak - die wêreld of die Here volg?
Na die laaste twee situasie het ek die Here gevra of ek nou bietjie 'n breek kan kry. Dis nie aangenaam om so getoets en uitgedaag en gedissiplineer te word nie. Maar in dieselfde asem kom bid ek, verander my, Here. Kom maak my nuut. Kom maak my meer soos Jesus. Hier is ek. 'n Dienskneg vir U.