Om Eg Te Wees
Êrens langs die pad het die mensdom sy vermoë verloor om eg te wees. Ons is dáár, maar ons probeer
so hard om in te pas. Ek gryp na enige geleentheid wat my, al is dit net vir die oomblik, gaan laat voel dat
ek saak maak, dat ek belangrik is, iewers hoort. Al is die oomblik so ver verwyder van wie ek is. Net om
dan môre weer met die vrees te sit dat iets gaan gebeur, iemand gaan beter doen as ek, en ek gaan weer
in die agtergrond verdwyn. Ons jaag die sosiale media na om nie die nuwe trends te mis nie. Daardie
following syfer word met valkoë dopgehou. Hoe meer followers, hoe belangriker is ek mos? Of hoe?
Waarteen meet jy jou waarde? Wat bepaal jou menswees?
Jy probeer so hard om dieselfde te wees, tot jy eendag in die spieël kyk en nie eers meer die persoon
herken wat vir jou terugkyk nie. Want dit was nooit wie jy veronderstel was om te wees nie.
Maar wat as?; Vra jy. Wat as ek my ware persoonlikheid wys en mense hou nie van my nie? Of ek deel hoe ek voel en hulle dink ek is kinderagtig, onrealisties, te sensitief? Hoe sê ek nee sonder dat ander vir my kwaad raak?
Ons egtheid het verlore geraak in die golwe van vrees en onsekerhede. Jy is so bang om jy te wees,
want was as daai jy nie goed genoeg is nie?
So jy hou jou ware emosies terug. Jy deel nie jou opinie nie. Jy plaas jou talente en gawes onder 'n klip.
En jy bly stil, stem saam, pas in. Want dit is veilig.
Toe ek en my man uitvind ons is swanger, is die eerste gedagte wat volg na al die opgewondenheid, die
wonder oor wat die geslag gaan wees. Natuurlik is die belangrikste dat die kleintjie net gesond sal wees,
maar aan die binnekant hoop en bid jy tog maar dat die Here jou daai seuntjie of daai dogtertjie gaan gee
waaroor jy gedroom het. Die feit is egter dat die oomblik toe daardie selletjies 'n mensie geword het, lank voor die ouers selfs besef hulle verwag, is álles klaar bepaal. Die geslag, die kleur oë, kleur hare,
liggaamsbou, persoonlikheid. Die hele menswees van daardie nuwe lewe is van die begin reeds
vasgevang en gereed om net te groei en te ontwikkel. In daardie oomblik het God reeds bepaal wíe jy gaan wees. Nie wie die wêreld sê jy moet wees nie. Nie wat jy moet doen om in te pas nie.
Jou DNA is aanmekaar geweef met die gare van Sy plan vir jou lewe. Jou saadjie is geplant met die doel
om op te groei in dit wat God jou bestem het om te wees. 'n Sonneblomsaadjie kan tog nie opgroei om enigiets anders te wees as 'n sonneblom nie.
Jy was nooit bedoel om by die wêreld in te pas nie. Jy is juis gemaak om uit te staan. Die wêreld het meer mense nodig wat eg is. Mense wat hulle ware self uitleef, selfs al is dit nie baie cool volgens die wêreld se standaarde nie. Mense wie is wie God hulle geskape het om te wees. Wat doen dit waarvoor hulle geroep is.
Ons is menslike we(es)ens. Ons is gemaak om te wéés. Nie te doen, na te boots of te probeer nie.
Al waar jy móét inpas, is in God se prentjie. Al waar jy hóéf saak te maak is in wat God van jou dink.
Al hoe jy die beste jy kan wees, is om te wees wie God jou gemaak het om te wees.
Vergeet van die wêreld. Jy is uniek. Jy is belangrik. Jy maak saak.
Wees eg. Wees opreg. En wees jý.