top of page

Om Pleisters op Gebreekte Bene te Plak

Ek het nog altyd geglo lesse word geleer wanneer mens terug kyk op jou pad. Net soos daardie gesegde wat lees dat jy nie die lewe vorentoe kan leef vanuit jou truspieëltjie nie, net so kan ons nie die lesse wat op die pad voor ons lê vryspring nie. Die lesse wat jy vanuit jou truspieëltjie kon leer, was eens ‘n les wat nog op die pad voor jou gelê het. Ek kan verstaan hoekom ons geliefdes ons altyd probeer waarsku om uit hulle foute te leer, want soms maak die lewe blêrrie seer. Maar nog geen les wat die moeite werd was om in my lewe te leer, was uit iemand anders se foute vir my geleer nie.


Ons kan soveel aspekte van ons lewens neerpen waar ons dalk te maklik ons koppe stamp. Vriendskappe en verhoudings sal uitskieters vir meeste van ons op hierdie lys wees. Ek identifiseer deesdae hierdie aspekte in my lewe as ‘hairline fractures’. Dinge wat jou eintlik seer maak, maar waarvoor ons altyd eers verskoning soek voordat ons dit finaal uit ons storie uit skryf. Ons almal het ‘hairline fractures’ in ons harte, sommige daarvan kies ons self, bewustelik of onbewustelik, en ander het die lewe uitgedeel nog voor ons die geleentheid gehad het om ‘nee dankie’ te kon sê.


Iets wat ek die laaste rukkie oor en oor en oor moes leer om te aanvaar, was die blote feit dat almal nie dieselfde hart as jy het nie want almal was nie deur dieselfde ervaringe as jy nie. Iemand anders ken dalk nie depressie, hartseer, die dood of eensaamheid nie, so hulle weet nie wat dit beteken om werklik ‘daar’ te wees wanneer jy hulle nodig het nie. ‘Daar wees’ lyk anders vir jou as vir hulle. Dis nie jou skuld nie, en dis ook nie hulle skuld nie. Onkunde kan verander word wanneer kommunikasie verbeter word, maar die werklike ‘hairline fractures’ kry nog ‘n hou wanneer jy besef dat kommunikasie nie die probleem is nie, maar iemand anders se ‘commitment’ om werklik oor iets belangrik te praat en te luister. Jy kan oor en oor praat, verduidelik of selfs baklei – as iemand anders nie belangstel om te luister na wat jy te sê het nie, staan jy ‘n beter kans om met ‘n plant te praat, ten minste sal iets positief daaruit groei! Ongelukkig is daar ‘n harde realiteit wat ons moet ‘face’ om hierdie ‘hairline fracture’ te genees. Prioriteite.


Ek was altyd geneig om baie maklik vir mense se optrede verskoning te maak. Ek weet in my hart hulle optrede verdien nie regverding of verdeiging daarby nie, maar die engel en die duiwel op my skouer is gewoonlik in oorlog wanneer dit by sulke mense kom. Ons almal het so iemand in ons lewens leer ken, iemand wat jou menswees en inspraak as vanselfsprekend aanvaar het. Jy is mos die vriendin wat altyd omgee, en altyd weer ‘n kans gee – die een wat altyd beskikbaar is vir almal en altyd te vining teveel van jouself, jou hart en jou kosbare tyd gee. Teveel omgee. Omgee wat van iemand anders gaan word, of selfs omgee wat ander gaan dink as jy dalk bietjie minder omgee oor wat ander gaan dink en meer oor jouself omgee. Dit is absoluut waansinnig, ek weet, maar dit is hoe vrouens soos ons dink.

Ek verstaan nou hoekom die engel en die duiwel so vuis geslaan het, dit was ‘n ‘hairline fracture’ wat gewag het om te gebeur. Die duiwel tart jou met net-net genoeg krummels van aandag om jou aan ‘n lyntjie te hou – naby genoeg vir jou gedagtes om te maal, maar vêr genoeg vir jou hart om te twyfel. Hy water naiefheid in sy doringboom tuin, hy oortuig jou dat jy weer ‘n ongevraagde verskoning sal maak want begrip is so sentraal deel van jou menswees. Die engel aan die ander kant, is vermom as vriendinne wat die rooi vlaggies sien en keer op keer sin van jou situasie probeer maak. Soms as mens hard-op hoor hoe dinge van ‘n buitestaander se oogpunt af lyk, besef mens eers dat hierdie nie van God af kan kom nie. Die bybel leer ons dan juis, ‘Yster slyp yster, ons vorm mekaar’ en nie ‘yster slyp yster, ons misbruik, kneus en breek mekaar’ nie. Herken jy al jou engel en jou duiwel?


‘n Leuen wat ek vinning moes identifiseer om my ‘hairline fractures’ te begin genees, is dat ‘besig’ ‘n relatiewe term is. Winkelsentrums op Black Friday is ‘besig’, mense kies net wat vir hulle belangrik is. ‘Besig’ is vir my sinoniem met ‘hierdie is nie nou vir my ‘n prioriteit nie.’ Ek besef dit klink hard, maar dit gaan albei kante toe. As iemand nie op ‘n tyd te ‘besig’ was vir my nie, sou ek nooit werklik leer wie en wat vir my ‘n prioriteit in my lewe is nie. Vandag is ek dankbaar om na ‘n to-do lysie, boodskap of koffie date te kyk en te kan analiseer: is hierdie nou vir my ‘n prioriteit? Hoe is my gemoed, kan ek nou met hierdie deal? Gaan dit my koppie vul of net verder tap? Hoe belangrik is dit, verdien dit enigsins my aandag? Ja - dan gee jy niks minder as 100% nie en maak seker jy is ten volle teenwoordig in elke oomblik. Nee – wonderlik, dan spandeer ons geen aandag, tyd of energie daaraan nie. Albei vrae en albei antwoorde is geldig. Jy mag nee sê wanneer iets nie positief bydra tot jou lewe nie, en jy mag ja sê sonder om jouself te verduidelik. Jy mag jouself kies. Asseblief doen, anders gaan jy so gevaarlik vining jouself verloor!


Elke keer wanneer ons okay daarmee is dat iemand ons afskeep of verskoning maak vir iemand anders se keuse om ‘n vriendskap of verhouding ‘n prioriteit te maak, veroorsaak ons verder skade aan die bestaande ‘hairline fractures’. Jy sal nie deur ‘n boek blaai en elke nou en dan vir jouself aspris ‘n paper cut gee nie, so hoekom sal jy dan elke keer kies om nog ‘n stres impak op ‘n bestaande ‘hairline fracture’ te maak? Dit is hoe ons ons eie harte breek. Ja, iemand anders was dalk nie reg nie, maar jy is nie verantwoordelik vir wat iemand anders se keuse of optredes nie, ons kan dit probeer beinvloed, maar dit bly hulle eie verantwoordelikheid. Jy is wel verantwoordelik vir wat jy kies om in jou lewe toe te laat. Wat jy kies om in jou lewe toe te laat, skree boekdele oor jou self-respek en self-waardigheid.


Jy verdien nie krummels aandag nie. Jy verdien nie net-net genoeg kommunikasie om ‘n vriendskap of verhouding lewendig te hou nie. Jy verdien nie om te wonder waar jy met iemand staan nie en jy verdien virseker nie om in jouself of jou menswees te twyfel as gevolg van iemand ander se onvermoë om jou waarde te erken en jou te prioritiseer nie. Sal jy so iets aan iemand anders wil doen of iemand anders so laat voel? Nooit aspris nie! Ek is seker ons almal hier streef om ‘n Spreuke 31 vrou te wees, iemand na aan God se hart. So hoekom laat jy toe dat mense dit aan jou doen? God voorsien vir mossies en Hy maak seker die gras groei op die regte tyd, moet asseblief nooit smeek vir mense om in jou lewe te bly nie – God sal voorsien al is dit nie volgens jou tydlyn nie.


Daar is altyd ‘n tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan. Mense is soos seisoene. Moenie jou winters uit rek omdat jy bang is vir wat die somer inhou nie. Dalk moet jy juis jou winter laat gaan sodat jou somer vir jou nuwe blomme kan bring! Dit is nie malik nie, dit is ook nie lekker nie en dit maak seer – maar jy is reeds fully equipped om hierdie wegstap seisoen te face. Nou is die regte tyd om vorentoe te stap. Daar is geen beter tyd as nou om jou eerste tree in die onbekende te gee en die lesse wat jy tot hier toe op jou pad geleer het, in jou sakkie te pak en saam te vat vir die reis wat voorlê! Ek dink ons mis soms soveel meer uit op die avontuur van ‘n nuwe reis in ‘n onbekende seisoen omdat ons so vasgevang raak in ‘n bekende omgewing. Alles hoef nie altyd dood en grys te wees nie, beweeg net.


Op die einde van die dag moet elkeen van ons verantwoordelikheid neem vir die sonskyn of die donderstorms wat ons in ons lewens toelaat. Gaan jy aanhou om op jou bloukolle te druk of pleisters op gebreekte bene plak? Of gaan jy soos Dawid face to face met die Goliat op jou pad kom sodat jy kan genees en in vrede vorentoe beweeg, die besluit lê by jou. Kies die waarheid wat in lyn is met wat God oor jou lewe droom en beplan, nie die dinge wat jou in verbintenis hou omdat dit bekend voel nie. Kies genesing. Dit is nie maklik nie, want dit vereis dat jy moet laat gaan en meeste van die kere leer ons nuwe lesse van vergifnis. Maar ek hoop jy kies dit, want is dit moeite werd.


“Whatever you have faced in your past and wherever you find yourself today, you are not too far gone and your purpose is not lost. Don’t give up because the long way around with God is better than a shortcut without Him. He uses the fractured pieces of our lives to create marvelous mosaics that can be used to display His goodness and His purpose.”


  • PS: As enige dame voel daar is iets spesifiek wat op jou hart druk, stuur asseblief vir my ‘n persoonlike boodskap met jou prayer list, jy hoef niks te verduidelik nie, maar dit is belangrik dat jy weet jy hoef nie die journey van genesing alleen te stap nie.


Versies van Bemoediging:

‘When you pass through the waters, I will be with you; and through the rivers, they shall not overwhelm you; when you walk through fire you shall not be burned; and the flame shall not consume you.’

Isaiah 43:2


‘I have said these things to you, that in Me you may have peace. In the world you will have tribulation. But take heart; I have overcome the world.’

John 16:33


‘Count it all joy, my brothers, when you meet trials of various kinds, for you know that the testing of your faith produces steadfastness. And let steadfastness have its full effect, that you may be perfect and complete, lacking in nothing.’

James 1:2-4


Al my liefde,

Rouxnette


234 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page