top of page

Om te vergelyk, vernietig!

deur Noelene Bester


‘n Valse beeld en bittere hoë wêreldse standaarde, meet jy jouself hiermee? En die gevoel wat dit jou mee agter laat is steeds nie genoeg nie? Dis mens om na iets te kyk en te dink: “ek wil ook so lyk” of “daardie mamma het alles agtermekaar” , maar is dit werklik so eenvoudig? Ons vergelyk onsself gedurig met ander, maar om jouself te vergelyk gaan nie jou eiewaarde verander of verbeter nie. Dit is die vinnigste manier om op die ashoop van mismoedigheid te beland. Ek besef vandag net weer: ek gaan nooit perfek wees, en alles 100% reg sê en doen nie. Ek gaan nie altyd in beheer wees, of altans so voel nie. Ek kan nie almal tevrede stel nie, en soms is my ‘nee’ doodeenvoudig om myself te beskerm. Selfsugtig? Nee. Hoe kies mens? Jou waarheid of myne? Emosies kan ons soms om die bos lei. Jou keuses in die verlede was dalk nie die beste nie, jy hou dalk sommige gebeurtenisse in jou agterkop en hulle duik onverwags uit wat jou net weer laat vergelyk of aan al die “wat as…” dink. Hoe pas mens dan in, in ‘n stukkende wêreld? Vandag wil ek vir jou kom sê: die wêreld gaan jou nie vul nie, jy gaan nie innerlike geluk vind deur jouself te vergelyk nie. Is jy dan nie reeds presies waar God jou wil hê nie? Is jy nie die vrou vir jou man, en die ma vir jou kind wat jy moet wees nie? Nie een van ons se lewenspadjies is dieselfde nie, en dit is die eerste ding wat JY moet aanvaar. Elke dag het plek vir groei, selfs daardie moeilike dae.. Sy plan is altyd die beste plan vir ons, ons moet toegewyd wees en aan Sy woord vasklou en nie vergelyk met ander nie. Wees die meester van JOU skip en leef vry. Vier jou lewe op die skip waarop jy seil. Jou stormwater en jou vriendin se stormwater is nie dieselfde nie. Fokus op jou eie lewe, jou eie drome, jou eie “eilande” wat jy wil bereik. Dis jou reis. Maak jou los van die vergelykingspeletjie wat baie tyd verg en ongelukkigheid veroorsaak. Jy mag dalk tyd saam iemand spandeer en volgens jou perfekte wêreld gaan julle saam seil, net om op ‘n dag te sien dié persoon het sy anker opgetrek en in sy eie rigting in gevaar. So volg elkeen sy eie roete en vind sy pad wat vir hom bestem is, en soms behels dit om net deel te kan wees vir ‘n seisoen. As jy nie ‘n wag voor jou eie hart se deur sit nie, maak dit gou genoeg spasie vir die vyand om te kom vernietig. Moenie iemand anders se droom probeer leef nie. Ek kies vandag om nie deel te wees van ‘n wêreld wat seer maak nie, om heeltyd opgeweeg te word by iemand, vergelyk te word gaan nie my geluk steel nie. Ek weet wie ek is, en my identiteit lê in my Skepper. Ek daag jou uit om op te staan uit ‘n wêreld wat vernietig, wat in jou menswees kom krap en die lelik uithaal. Word stil vandag in God se teenwoordigheid, jou geluk sal van binne af borrel en jy sal God se liefde straal. Wees eerder daardie lig en inspireer iemand anders om meer van God te wil hê. Pas in by God, by Sy Woord. Leef sy lig uit en jy sal sien hoe vinnig jy voel jy behoort in plekke waar jy onseker was of nie genoeg gevoel het nie. If you are humble nothing will touch you, neither praise nor disgrace, because you know what you are. Mother Teresa

479 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page