Om te wees
deur Zandré Kotzé
So rukkie terug sit ek met my seuntjie op my skoot terwyl hy slaap, ek voel gespanne, want die wasmasjien se deuntjie het al twintig minute terug gespeel. Ek moet die klere gaan op hang en nuwes ingooi en dan sommer gou opruim en die vloere uitvee, sommer gou die honde ook kos gee voor hy wakker word. Ek dink aan ‘n lys van take wat alles afgehandel moet word in hierdie “hopenlike” uur en ‘n half middagslaapie van hom.
Vir 'n oomblik kyk ek af na sy voetjies wat van my skoot af hang, "hy het groot geword" dink ek by myself. Ek kyk na sy gesiggie, sy lang wimpers en amper bol-wangetjies, hy snork saggies terwyl hy slaap. "Jy is met vakansie," sê ek saggies. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd stry ek nie met myself nie. Ek kies om verder op die bed te sit saam hom dat hy rustig kan slaap. Ek kies 'n kosbare oomblik bo die wasgoed. Ek kies die oomblik bo 'n gejaag van die normale, daaglikse lewe. Ek kies myself om te wees in die oomblik.
Ek verdien ook 'n ruskans, hy verdien ook 'n mamma wat in die oomblik leef. Is die wasgoed regtig belangriker as daardie kosbare oomblik waar hy in my arms lê en slaap? Is skoonmaak regtig belangriker as daardie dertig minute se rustigheid en teenwoordigheid?
Ja ek weet dis die tyd wanneer ‘n tuisbly-mamma woeker in haar huis en Januarie is ek weer op my pos, maar vir nou kies ek ons.
Binne ‘n oogwink gaan my kleinding ‘n volwassene raak, ‘n ouer, nes ek. Ek het besef dat ek alles meér moet in neem, aan die oomblik langer moet vasklou.
Ek's altyd in 'n konstante gejaag, altyd in tweede rat, want die dinge moet gedoen word. Ek vergeet om myself te wees, ek vergeet om in die oomblik te lewe. Ek sien die mooi nie meer raak.
Ek praat namens myself, maar ek dink tog soveel mense kan hiermee vergelyk. Ons kies werk bo ons kinders, ons kies 'n oproep bo 'n koppie tee saam 'n geliefde, ons kies ‘n epos bo 'n geselsie saam 'n vriendin. Daar's altyd iets belangriker wat gedoen moet word voor ons werklik doen wat ons graag wil. Hoekom is dit so moeilik om ons self te kies en belangrik te ag? Vir wie is ons nou eintlik besig om iets te bewys?
Op die ou einde van die dag kyk ons nie terug en dink sjoe, my wasgoed was altyd op datum, ek het soveel geld in my lewe gemaak... Nee ek dink jy dink terug aan die tye saam jou geliefdes, die middagslaapies by die see, die kinderstories wat jy oor en oor moet lees, die sorgelose dae en tye waar jy jouself kon ag as goed.
Gun jouself die ruskans mooiste vrou. Gun jouself om alles in te neem. Koester die oomblik en bêre dit in jou diepste hartskamer.
Ek kies die vakansie om meér net te wees.