Onbeantwoorde Gebede
Ek probeer 'n lewe lei waar ek die Here in als vertrou. Selfs as dinge nie uitwerk of sin maak nie, poog ek om te glo dat daar 'n rede is en dat Sy plan groter is as wat ek kan sien. Maar soms kom ek op 'n punt waar ek die vraag vra, "hoekom nie, Here?" Want ek kan eerlikwaar geen goeie rede vind wat hier op aarde of in die Hemel genoeg sin maak nie. Ek besef dat ek nie weet wat God weet nie. En dat dit vir my menslike natuur heel moontlik nie gaan sin maak nie. Daar is net tye wat ek dink daar is nie n geldige rede nie en dinge is bloot net soos dit is oor ons in 'n onperfekte wereld bly. Maar wat is dan die punt om te vertrou vir iets wanneer dit in elk geval net gaan uitdraai soos dit bedoel was om uit te draai? Ons word geleer om te bid, "laat U wil geskied", maar die laaste tyd het ek die woorde so bietjie aangepas. "As U geen geldige rede het vir dit om níe te gebeur nie, laat dit toe" Asof ek met die Here onderhandel. Ek voel nie altyd so seker dat wanneer 'n gebed nie beantwoord word nie, dit die Here se wil was nie. Dalk bid ek verkeerd, maar in 'n manier wil ek net weet dat as hierdie gebed nie verhoor word nie, die Here 'n baie geldige rede daarvoor het en nie net omdat ons in 'n gebroke, deurmekaar wêreld leef nie. Ons sien God se wil as 'n 'ja' en 'n 'nee' op ons gebede. 'Ja', dan is dit Sy wil. 'Nee', dan is dit nie. Maar nie elke 'nee' is noodwendig nie Sy wil nie. God droom groot oor ons en Sy plan met ons lewe is groot, maar selfs al wil Hy hoe graag ons gebed verhoor is daar dalk iets anders wat eers aandag kort. Wat as ons gebede nie altyd vir Hom gaan oor die uitkoms waarvoor ons bid nie, maar meer oor die een wat bid? Nie dat God nie belangstel of omgee oor wat in ons lewens gebeur nie, maar jou hart in dit alles is vir hom veel meer belangriker. Iemand kan die onskuldigste gebed bid, maar as jou hart nie reg is nie, mag 'nee' dalk Sy wil wees vir nou, selfs al lyk daar of daar geen rede is waarom hy nie kan ja sê nie. Jy glo miskien jou motiewe agter jou gebed is opreg, maar Hy sien tot diep in jou hart. Daar is dinge wat jy dalk eers mee moet vrede maak, jou houding wat moet verander of jy moet bewus raak wat die regte bedoeling is agter jou begeerte. Maar die werklikheid is ook dat ons in 'n onperfekte wêreld leef en soms werk dinge net nie uit soos ons hoop of bid nie. Die waarheid is egter dat God goed bly, dat Sy plan vir jou lewe steeds goed is en dat Hy alles, selfs die hartseer, lelik en onregverdig, ten goede kan laat mee werk. Om God te vertrou gaan oor meer as net die antwoord op jou gebed te kry. Dis om te vertrou dat God jou die krag sal gee, selfs al gebeur die ondenkbare. Om te vertrou dat Hy 'n weg sal maak wanneer dit lyk of daar geen meer opsies beskikbaar is nie. Vertroue dat Hy nogsteeds in beheer is al lyk dit of niks reg uitwerk nie. Mense sê maklik alles gebeur vir 'n rede. Dis dalk waar in sommige gevalle, maar baie maal gebeur dinge oor ons eie of ander se doen en late. Om die Here die rede vir alles te gee is nie vir my 'n antwoord nie. Dat Hy wel alles ten goede sal laat mee werk is egter iets waaraan ek ongetwyfeld glo. Moenie ophou bid sodra jy dink jou kans op 'n wonderwerk is verby nie. Lasarus was al 4 dae dood toe Jesus hom kom lewendig maak. Net dalk bid jy te eenvoudig, te klein. Jy wonder hoekom God nie jou gebed wil verhoor nie, maar dan kom Hy deur, wanneer jy al dink dis te laat, en beantwoord jou gebed op 'n groter, wonderbaarlike manier as wat jy ooit van kon droom. Geen gebed bly ooit onbeantwoord nie, die antwoord lyk net nie altyd soos ons dink dit moet lyk nie. Maar dat God se antwoord die beste en mooiste vir jou lewe is, is iets waaroor jy altyd seker kan wees.