top of page

Onderdanig, onafhanklik en onweerstaanbaar.

Onderdanig.


Is dit iets wat jy kan wees? Spontaan en sonder teenstand? Of kom daar iets binne jou feministiese hart in opstand wanneer jy hierdie woord hoor?


Ek wonder hoekom dit vir die hedendaagse vrou so moeilik is om onderdanig te wees? Dit is tog ’n Bybelse beginsel – een wat deur die eeue heen op slegs een skrifgedeelte gebaseer word en so misverstaan word: Efesiërs 5:22: “Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is. Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is.”


Ek weet nie van jou nie mooiste vrou, maar vir my lê die kruks van die skrif nie in vrouens wat onderdanig moet wees of in mans wat die hoof van die vrou is nie, maar in “soos aan die Here” en “soos Christus”.

Vrouens is nie God se slawe nie. Ons is sy kinders en sy dienaars.


God is ook nie ’n slawedrywer en diktator nie. God is liefde.


Galasiërs 3:28 sê “In Christus is ons almal een.”


1 Korintiërs 7:3: “Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so moet die vrou ook haar huweliksplig teenoor haar man nakom.


Daar is soveel skrifgedeeltes in die Woord wat daarop dui dat oorheersing en eensydige onderdanigheid nie God se bedoeling vir die huwelik was nie, eerder wedersydse inspraak en kameraadskap, tog het onderdanigheid ’n tradisie en kultuur geword wat mans afdwing en vrouens teen skop.

God het vir mans ’n gees van outoriteit gegee en van vrouens ’n gees van onderskeidingsvermoë. Mans en vrouens vul mekaar aan. Vrouens het die vermoë om te onderskei of ‘n besluit of idee uitvoerbaar is of nie en mans het die vermoë om dit uit te voer en af te dwing.


Mooistevrou, wat veroorsaak dat jy en jou huweliksmaat so teen mekaar werk? Hoekom weier jy dalk vandag om onderdanig te wees soos Christus?


Gaan dit teen jou grein om onderdanig te wees aan ‘n man wat nie soos Christus is nie? Is jy van mening dat jou man selfsugtige en impulsiewe besluite neem sonder om God se wil te soek? Het jy so gewoond geraak om self besluite en beheer te neem omdat jy nooit op jou man kan reken nie?

Of is dit ’n kwessie van geregtigheid waar ons ons self wil laat geld? Sukkel ons as vroue dalk om onderdanig wees soos Christus? Is ons so “set in our ways”, dat ons nie ons mans toelaat om mans te wees nie?


Om die eersgenoemde probleem aan te spreek wil ek jou aanraai om onafhanklik te word.


Om die laasgenoemde probleem aan te spreek, wil ek jou aanraai om onweerstaanbaar te word.


Vroeër jare was die dinamika van die huishouding anders as vandag. Die man het gewerk en die broodwinner rol vervul, terwyl die vrou tuisgebly het om die kinders en die huishouding te versorg. Vrouens het makliker teruggestaan, omdat hul finansieel afhanklik was van hul mans. Van toeka tot nou loop vrouens onder mans deur wat hied en gebied en moet vrouens gebukkend staan onder die woorde en dade van mans wat nie soos Christus is nie. Mans vir wie óns gekies het. Mans wat waarskynlik hul ware kleure gewys het en waarvoor ons onder die bedwelmende verliefdheid kleurblind was.


Mooiste vrou, as jy vandag vir my wil skree dat jy nie onderdanig kan wees aan ’n man wat nie ’n verslawing wil aanspreek nie. ’n Man wat jou as ‘n slaansak vir sy vuiste of snybord vir sy woorde gebruik. ’n Man wat deur spandabelrigheid julle al dieper in ’n bodemlose skuld-put laat sink. ’n Man wat jou walg omdat jy die reuk van ’n ander vrou se parfuum aan sy klere ruik. ’n Man wie se liefdeloosheid en kulheid jou lewenslus blus.


Hierdie man is nie soos Christus nie. Vat jou onafhanklikheid terug. Maak klaar daai graad. Doen aansoek vir daai werk. Hê daai gesprek. Gaan kyk na daai woonstel. Benut jou talente en gawes. Dit gaan nie maklik wees nie. Dit sal met tye swaar gaan. Dit gaan slegter gaan voordat dit beter gaan. Maar daar sal uitkoms en verandering wees. Ons kan met soveel minder klaarkom as wat ons dink. Ons verdien soveel meer as wat ons glo. God werk op wonderlike maniere, ons moet net dapper genoeg wees om Hom te vertrou.


Vrouens wat onafhanklik raak, skep ’n wêreld wat mans dwing om meer soos Christus te raak. Mans is genoodsaak om te besin oor hul maniere en motiewe want vroue is nie meer genoodsaak om ’n huwelik te betree of in ’n huwelik te bly saam met ’n man wat nie godvresend is nie. Vrouens se kan ‘n bestaan maak sonder mans en daarom kan ons beter vir onsself kies. Onafhanklikheid skep ’n wêreld waar vrouens huwelike betree en in huwelike bly omdat hulle daar wil wees en nie daar móét wees nie.


Net soos wat onafhanklikheid ‘n vrou se stem kan terug gee, kan dit ’n man sin wegneem. In vandag se ekonomiese klimaat het dit nodig geword dat vrouens ook ’n inkomste verdien. In die werksplek moet vrouens veg om gelyk te staan, soms sit ons hierdie geveg by die huis voort en wil ons daar ook gelykstaan. Ons moet ons harte ondersoek en vir ons self vra hoekom? Wat is ons ware motief?


Dit is heeltemal moontlik om die groter salaris te verdien en steeds jou man as hoof van jul huis te eer. Geld koop nie daardie rol nie. Ongelukkig is daar mans wat niks anders het om te bied as geld nie. Hul is nie eerbaar nie. Hul is nie eerlik nie. Hul is nie betroubaar nie. Hul is nie liefdevol nie. Selfs nie eers bedagsaam of beleefd nie. Dalk is jy vandag met so ’n man getroud.


Daar is iets onweerstaanbaar aan ’n hoflike man. ’n Man wat so seker is van homself, dat niks wat ’n vrou doen of bereik of wat hy doen of bereik hom minder van ’n man kan laat voel nie. ’n Man wat jou motor band met ’n goeie gesindheid omruil of sy baadjie vir jou aanbied, is onweerstaanbaar. ’n Man wat streng, maar regverdig is, is onweerstaanbaar. ’n Man wat gras sny, kinders bad en skottelgoed was, is onweerstaanbaar. ’n Man wat vir jou ’n bad tap en ’n glas wyn ingooi voordat hy jou saans wil om duik, is onweerstaanbaar. ’n Man wat sy vrou versorg en vir haar voorsien omdat hy dit as sy plig en voorreg beskou, is onweerstaanbaar. ’n Man wat vir sy vrou ’n lewe en loopbaan buite die vier mure van hul huis gun – sonder om deur haar sukses geïntimideerd te voel, is onweerstaanbaar. ’n Man wat sy vrou se insae verwelkom en dit in ag neem voordat hy besluite neem, is onweerstaanbaar. ’n Man wat weet wanneer om vir sy vrou in te tree en wanneer om haar vir haarself te laat praat is onweerstaanbaar.


Elke vrou wil hê haar man moet onweerstaanbaar wees, maar dalk het dit tyd geword dat óns ook onweerstaanbaar word. ’n Vrou wat na haar voorkoms kyk, is onweerstaanbaar. ’n Vrou wat terugsit, haar man in die oë kyk en na hom luister (al verskil sy), is onweerstaanbaar. ’n Vrou wat haar wysheid by God gaan soek voordat sy haar opinie beterweterig aan almal uitdeel, is onweerstaanbaar. ’n Vrou wat haar man eer en prys, veral voor ander, is onweerstaanbaar. ’n Vrou wat ag slaan op haar man se wense en onderdanig is aan dit wat goed en billik is, is onweerstaanbaar. ’n Vrou wat self die mayonnaise bottel kan oopmaak, maar dit vir haar man neem sodat sy (woordloos) vir hom kan herinner dat alhoewel hy nie emosioneel sterker as sy is nie, hy wel fisies sterker as sy is, is onweerstaanbaar. ’n Vrou wat selfstandig en onafhanklik is en haar eie identiteit en doelwitte het, is onweerstaanbaar.


Ek weet nie wat jou omstandighede vandag is nie, Mooistevrou. Ek weet nie of jou man sukkel om ’n hoof soos Christus te wees en of jy sukkel om onderdanig soos Christus te wees nie.


Wat ek wel weet is dat God vir ons elkeen die vermoë gegee het om ’n Spreuke vrou te wees. Dat ‘n Spreuke-vrou hom behaag. Dat ’n Spreuke-vrou baie werd is. Dat haar man op haar staatmaak en die vrugte pluk van haar harde werk. Dat sy vir hom net voordeel inhou. Dat haar kinders haar prys en haar man haar bewonder. Dat haar huisgesin versorg is. Dat sy ’n kop vir besigheid het en met haar talente woeker. Dat haar man by haar insig kry voordat hy sy planne met ander deel. “Gee haar wat haar toekom vir alles wat sy doen; laat haar werk haar roem wees in die stadspoorte.”


Net soos wat ons moet leer hoe om ’n spreuke vrou te word, so moet mans leer om ’n Spreuke-vrou te benader en lief te hê. Wees geduldig en intensioneel met die proses en weet, dat dit nie in alle mans se broek sit om ’n Spreuke-vrou lief te hê nie.


Mag jy ten spyte hiervan kies om ’n Spreuke-vrou te wees. Mag jy praat met wysheid en lei met liefde. Mag jy kry wat jou toekom en mag jou werk (wat hierdie seisoen ook al van jou verg) jou roem wees in die stadspoorte.


Alles van jou spreek van ’n sterk en edel persoonlikheid.


Onderdanig. Onafhanklik. En onweerstaanbaar.




932 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page