Ons Alledaagse Oorloë
Ek het nog nooit regtig die punt van oorloë verstaan nie. Onskuldige mense - klein kindertjies - beland altyd in die slag. En is daar ooit werklik iemand wat die oorlog wen, want vir my voel dit of almal maar met een of ander verlies aan die anderkant uitkom. Was dit dan alles die moeite werd? Maar is dit nie dieselfde geval met die alledaagse oorloë waarmee ons in ons eie lewe mee te doen het nie? In jou huwelik. Met jou kinders. By die werk. In jou finansies, jou gesondheid, jou geestelike stryd. Die oorlog binne jouself. Niemand wen nie. Dis 'n eindelose stryd met trane, teleurstellings en gebroke harte. Tot iemand net uiteindelik besluit om die wit vlaggie te waai, die minste te wees, om te draai en weg te stap. Nie as oorwinnaar nie, want al die baklei het niks gebaat en niks bereik. En almal bevind hulself nogsteeds in die hopelose situasie. Hoe beveg jy die ooloë in jou lewe? Met jou man wat nie jou gevoelens in ag neem nie, nie as hoof van die huis wil optree nie of altyd omgekrap is met alles. Met jou kind wat weier om die Here te dien of die pad byster geraak het. Die probleme, bekommernisse en stres by die werk. Met die begroting wat nie wil klop nie en die onsekerhede oor die toekoms. Met jouself en jou eie onsekerhede, foute en teleurstellings. Staan jy altyd op aandag, reg om te baklei? Wat as daar 'n ander, beter manier, is? Wat as jy volgende keer - voor jy ontsteld raak of jou sê wil sê of oor die situasie weer begin stres - net 'n oomblik stop en God vra om die oorlog saam met jou binne te gaan. Voor jy opstaan en gereed maak om te veg, veg éérs op jou knieë. Stort alles voor Hom uit. En staan dan daarna op met die krag, geduld, genade en liefde van God. Loop die oorlog binne met die wete dat jy Sy kind is. Dat as Hy vir jou is, kan niemand teen jou wees nie. (Romeine 8:31) Dat jy reeds meer as 'n oorwinnaar is. (Romeine 8:37) Dat God saam met jou sal gaan. (Deuteronium 20:4) Dat geen wapen wat teen jou gevorm word suksesvol sal wees nie. (Jesaja 54:17) Dat God namens jou sal veg. (Eksodus 14:14) Met God aan jou kant is dit nie altyd 'n waarborg dat die oorlog gewen gaan word nie (of altans hier op aarde nie), of dat die ander mense gaan verander of die situasie omgekeer gaan word nie, maar jy gaan God leer ken op 'n vlak soos nooit van te vore nie, jou vertroue en geloof in Hom gaan groei en jý gaan verander. Daar is iets wat binne jóú gaan plaasvind en jy gaan met ander oë na die oorloë in jou lewe kyk. Jy gaan die uitdagings en stryd anders aanpak. En uiteindelik gaan jy die anderkant as 'n oorwinnaar uitstap. 'n Oorwinnaar in Christus. En 'n groter, beter uitkoms kan daar nie wees nie. God het nooit belowe dat daar nie moeilikhede hier op aarde sal wees nie, maar Hy het wel belowe dat Hy ons nooit sal verlaat of in die steek laat nie. Moenie jou oorloë meer alleen aanpak nie. Jy het 'n God wat jou wil help die oorwinning behaal. Onthou Dawid en Goliat se verhaal. Die reus voor Dawid was ver te groot en sterk vir hom om te oorwin, maar Dawid het nie op sy eie Goliat in die gesig loop staar nie. Hy het met God langs sy sy gekom en so totale oorwinning behaal. Net so in jou lewe. Maak nie saak hoe groot of hoe onmoontlik die situasie lyk nie, by God is alles moontlik en sal Hy alles ten goede laat meewerk. So gaan op jou knieë, trek die wapenrusting van God aan en stap soos 'n Dawid jou oorloë binne. God sal met jou wees.