Ons het julle baie lief, maar voel soms ‘n bietjie vasgeketting.
Deur Susan Westraadt
“Om n vrou te probeer verstaan is dieselfde as om die reuk van die getal 7 te probeer proe.” Sê mans regstreeks om die braaivleis vuur. ‘n Bietjie onregverdig, maar iewers in die onsin kruip daar tog ‘n stukkie waarheid weg.
Tyd vir eerlik wees Mooiste vrou. Het jy al ooit soos ‘n beer met ‘n seer poot by die huis rondgeloop omdat dit wat jy van jou man of kinders verwag het, nie gerealiseer het soos wat jy gehoop het nie? Ek ook. Baie kere.
Ons trap dikwels in die strik van verwagtinge stel, maar dit nie behoorlik kommunikeer nie. En oeg, hou die manne daarvan om híérdie misstap teen ons te gebruik nie! “Ek het nie geweet nie!” “Hoekom het jy nie gesê nie?”
Hoekom hét ons nie gesê nie?! Glo ons dat ons lewensmaat ons teen hierdie tyd al “behoort” te ken? (Hulle “behoort” ook te weet waar hulle die bakkie sleutels en die boorpunt ook neergesit het, maar tog loop óns en soek daarna.)
Of verwag ons dat hulle inisiatief moet neem of moet moeite doen om uit te vind? Dit is seker nie te veel gevra nie.
As ek vandag vir jou moet vra wat jy régtig wil hê, sal jy weet? As ek vra wat jy nódig het, sal daar ooit ‘n onderskeid wees? Of is dit wat jy wil hê nie net hartsbegeertes nie, maar primêre behoeftes?
Vroeër hierdie week het ek vroeg 1 oggend met my eie teleurstellings voor God geworstel. Ek was genoodsaak om my hart te ondersoek oor dinge wat ek van Hom gevra het. (Onder andere dat my kinders nie op daardie oomblik sou wakker word nie.) Selfsugtig? Vir seker. Maar my bedoeling was goed. Ek het gehunker om tyd saam met God te spandeer. Ek het vroeg opgestaan om vir ons tyd uit te koop. Ek wou my teleurstellings met Hom deel. Ek wou só graag net Sy nabyheid voel, raad kry en Sy liefde ervaar. In stilte. Sonder kinders wat my onderbreek en iets van my af nodig het. Ek het God geken en liefgehad lank voor ek ‘n vrou en ‘n ma geword het, en ek het tyd saam met Hom nodig soos wat ek suurstof (en Whispers) nodig het.
Na alles wat ek gesê en gevra het, het Hy nie in woorde teruggepraat nie. Al wat Hy vir my gewys het was kettings. My openbaring was as volg:
- In die huwelik is ons verbind aan die lewensmaat wat ons gekies het en as ouers is ons verbind aan die kinders wie God aan ons toe vertrou het. Ons het ‘n verantwoordelikheid om vir hulle te gee wat hulle nódig het – selfs al verskil ons behoeftes van hulle sin. - Wat ons vergeet is dat ons ook aan God verbind is. Hy gee vir ons alles wat ons nodig het. Hy is die bron van ons krag, en anders as Eskom, is Sy voorsiening konstant en betroubaar. - Hoe wreed sou dit wees om ‘n dier vas te ketting (aan jou te verbind) en dan nie vir hom te gee wat hy nodig het nie? (Kos, water, skadu en beskutting.) Tog doen ons dit in die huwelik aan mekaar. Ons weerhou liefde. Deernis. Vriendelikheid. Diensbaarheid. Onbaatsugtigheid.
Mooistevrou, die meeste van ons wil nie grand huise, duur vakansies en ‘n royal lewe hê nie. Ons wil net hê dat daar aan ons kern behoeftes voldoen word.
Omdat vrouens sukkel om te kommunikeer en mans sukkel om te verstaan, het ek dit goed gedink om (uit die verwysing van ‘n werkende vrou en mamma van twee) ‘n paar van ons vroue se behoeftes te lys, te verduidelik waarom ons dit nódig het en dit duidelik te maak wat dit nié beteken nié.
Hier gaan ons:
1. Ons het nodig om af en toe in skuimbad te lê en warm water by tap tot die geyser leeg is. Met ‘n glas wyn, kerslig en spa musiek in die agtergrond en ‘n charcoal cleansing masker op ons gesig. Ons moet soms stop en ons wese herlaai. Dit beteken nie dat badtyd saam met ons geliefde of kindertjies nie vir ons intiem of kosbaar is nie. 2. Ons het nodig om onsself te versorg en die tyd te vat om ons vel (wat met tye soos gekraakte, brak landbou grond lyk) te pamperlang. ‘n Gladde vel, ge-‘anti-agede’ “lag”-plooie en geverfde toonnaels gee ons weer bietjie van ons selfvertroue terug. Dit en jul komplimente oor ons voorkoms. Die effort beteken nie dat ons spyt is oor hoe stief swangerskap ons kop en hart en lyf behandel het nie. Die prys was dalk duur, maar die belonging was groot. 3. Ons het nodig om soms op ‘n Vrydagaand, met ‘n groot bak springmielies, in ons pajamas op die bank te lê en die Romcom te kyk wat óns gekies het. Dit is hoe ons afskakel en weer in voeling met onsself kom. Dit beteken nie dat ons anti-sosiaal is as ons nie vir die 3de naweek in ‘n ry vriende met ‘n braai wil onthaal nie. Dit beteken ook nie dat ons Cocomelon tv-tyd met ons kinders op ons skoot wil verruil nie. (Diep binne ons moet ons tog van Cocomelon hou – hoekom anders sing ons dit onbewustelik in die stort?!) 4. Ons het nodig om te gaan draf tot ons longe en bene brand, met die honde te gaan stap of ‘n Pilates-klas by te woon. Ons is aan die verkeerde kant van 30 en wil die Delila van ons jeug behou deur steeds begeerlik en aanneemlik vir julle te wees. Ons raak ook gespanne en oorweldig en het daardie ‘goed-voel-hormone’ só nodig. Dit beteken nie nie dat die tye wat ons (die ‘Kielie-monsters’) die kinders in die huis rond jaag of saam met hulle trampoline spring, nie ook vir ons goed is nie. Ook nie dat die passie in die slaapkamer ons nie goed laat voel nie. 5. Ons het nodig om volwasse gesprekke te hê, gehoor te word en ononderbroke na ander te kan luister. Kommunikasie is die fondasie van verhoudinge met ander. En ons hunker na spontane, diep gesprekke met jóú. Dit beteken nie dat die kinders se kreatiewe vertellings van die dag se gebeure of die slaaptyd gebedjies en fluister gesprekke in die donker, nie vir ons belangrik is nie. 6. Ons het nodig om die inkopie sakke op dieselfde dag uit te pak as wat die kruideniers gekoop is. ‘n Georganiseerde huis gee vir ons ‘n sin van beheer in die chaotiese wêreld waarin ons leef. Dit beteken nie dat ons nie saam wíl sit en rugby kyk, inkleur of klei speel nie. 7. Ons het nodig om ook betyds en gereed te wees vir afsprake. Ons werk volgens beplanning. Knope aanwerk, smeek vir samewerking en konflik oplos wanneer ons alreeds by die deur moes uit wees, veroorsaak dat ons laat, half gegrimeer én met net 1 van 2 oorbelle by ‘n afspraak opdaag. Dit beteken nie dat ons die kinders se avonture in die huis wil kortknip as hulle sonder klere in die gang af hardloop en gil: “Ek is ‘n kaal-bassie!” nie. Dit beteken ook nie dat ons nie aangetrokke tot julle is en nie “pret” wil hê nie. 8. Ons het soms nodig om na ‘n lang dag by die huis te kom en onsself vas te loop in ‘n glas wyn met die reuk van ‘n reeds gaargemaakte maaltyd wat in die lug hang. Of selfs MacDonalds of braaivleis. Enige iets wat ons nie hoef gaar te maak nie. Dit beteken nie dit is vir ons moeite om vir julle gesonde maaltye voor te berei of om op reënerige dae sop te kook en pannekoek te bak nie. 9. Ons het genoeg rus nodig om te kan funksioneer en vir julle goed te wees. Gooi ‘n kombersie oor ons bene, praat saggies in die huis en gun ons daai middagslapie once-in-a-blue-moon. Dit was ‘n rowwe week van vroeg opstaan en laat gaan slaap en ons doen dit vir julle. Dit beteken nie dat ons nie elke keer sal opstaan as julle ons in die nag roep nie. 10. Ons het nodig om versorg te word as ons siek is en getroos te word wanneer ons harte seer is. Medisyne van die apteek en sjokolade van die winkel af is baanbrekers. Mense wat lief is vir mekaar, is besorg oor mekaar. Dit beteken nie dat ons, ten spyte van hoe ons voel, nie altyd vir ons gesin sterk en beskikbaar wil wees nie. 11. Ons het nodig dat julle ‘n opregte verskoning aanbied wanneer julle disrespekvol teenoor ons opgetree het. Om te maak asof konflik nie gebeur het nie of om vir óns kwaad te wees oor ons reaksie op julle selfgesentreerde optrede, is nie aanvaarbaar nie. Dit beteken nie dat ons verwag dat jul nooit enige foute sal maak nie. Ons het julle báie lief, maar voel soms ‘n bietjie vasgeketting en onvervuld.
Mooiste vrou, jou kern behoeftes mag vandag aansienlik van hierdie lys verskil. Ek hoop nietemin dat jou gesin hierdie blog sal raak lees. Dat hul sal sensitief wees vir wat jý in jou verbintenis met hulle nodig het. Dat jy sal braaf wees om jou behoeftes op ‘n liefdevolle en ferm wyse aan hulle te kommunikeer.
Ek hoop dat wanneer jy die dag die bogenoemde nodig het, hulle bereid sal wees om dit wat normaalweg van jou verwag word, met ‘n goeie gesindheid te doen. Jy staan elke dag jou skoene vol, met oë wat moeg is en ‘n hart wat leeg is. Soms sonder ‘n dankie. Soms sonder erkenning. Ek salueer jou daarvoor.
Ek hoop dat jy jouself aanspreeklik sal hou om ook vir hulle te gee wat húlle nodig het.
En die meeste van alles hoop ek dat nie een van ons dit ooit nodig sal ag om ons behoeftes op ander plekke te gaan vervul nie.