top of page

Onsekerheid

Ek dink hierdie kort, maar kragtige woordjie, kan baie emosies en gedagtes by een en elkeen van ons wakker maak. Dis iets wat ons iewers in ons leeftyd, dalk sommer weekliks, beleef.


Maar, hierdie gevoel van ‘onsekerheid’ is nie iets wat ons eintlik eers wil beleef nie, maak nie saak of dit een keer ‘n week, maandeliks of elke nou en dan is nie.

Die hart en siel agter Mooistevrou het ‘n video gedeel hieroor, in ‘n tydperk waar ek dit nodig gehad het. Net om weereens te besef - WORD STIL, en WEET EK IS GOD!

In my onsekerheid, moes ek net weer herinner word dat dit wat nou op my lewensbord gesit is, is waarmee ons nou moet deel - ek hoef nie te wonder of te dink maar wat as, of hoekom nou nie. Ek moet vertrou, ek moet bly glo te midde van onsekerheid.


Daar is sekerheid in my onsekerheid.

God is seker, Hy is ook saam my as ek onseker voel.

Maar, hoe hanteer ek hierdie onsekerheid? Probeer ek self alles ontrafel en uitmaak wat hier aangaan, of gaan sit ek stil by Sy voete en wag vir Sy stem, vir Sy Hand om my net weereens op Sy skoot te tel en vir my Sy plan te wys?

““Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.””

‭‭MATTEUS‬ ‭11‬:‭28‬-‭30‬ ‭AFR83‬

Onsekerheid is iets wat my deur die dak kan dryf - ek is ‘n beplanner - ek wil weet en ek wil eintlik net seker wees. Maar, in ons lewe werk dit ongelukkig nie so nie.

Die lewe se curve balls tref jou onverwags en slaan jou plat op die vloer, dit laat jou wakker lê en wonder en dit dwing jou weereens tot op jou kniëe.


Daar waar ons hulp vandaan kom.


Die Here het vir ons elkeen ‘n sitplek voorberei op ons aardse reis. Hier is iets vir ons elkeen bestem, iets wat JY en JY alleen moet klaar maak. Dit behels jou werk, jou huwelik, jou rol as Ma en Vrou, die vriendin wat jy is - waarokal jy jouself tans in jou lewe bevind, dit is waar jy moet wees.

Soos wat ons daagliks meer bewus raak van Sy teenwoordigheid, sal jy besef en voel hoe elke stukkie onsekerheid ligter word en jy gevul word met vrede, en jy sal weet wie jy is in Christus.

“Samuel het vir die kok gesê: “Bring die deel wat ek aan jou gegee het en waarvan ek gesê het: Sit dit eenkant.” Die kok het die boud vleis gevat en voor Saul neergesit, en Samuel het vir hom gesê: “Dit is wat uitgehou is. Eet wat voor jou neergesit is, want vir hierdie geleentheid is dit vir jou gebêre toe ek die mense genooi het.” So het Saul dan daardie dag saam met Samuel geëet.”

‭‭1 SAMUEL‬ ‭9‬:‭23‬-‭24‬ ‭AFR83‬‬


Ek skryf hier vir myself, en vir jou ook, Mooistevrou:


Al floreer jy om jou doenlysie van bo na onder daagliks te kan af merk, al is jy ook ‘n beplanner en jou lewe voel heeltemal uitmekaar as onsekerheid aan jou deur klop; onthou…

God het jou en jou werksetiek lief. Hy wil hê dat jy hard moet werk en alles met uitnemendheid en vir Sy glorie doen. Dit is slegs wanneer ons behep raak met "doen dit alles" en al die erkenning wil hê, dat God 'n bruikbare bysaak eerder as die kern van ons lewens word.


Kom Nader, Sit by Sy voete…

Jy hoef nie hierdie onsekerheid alleen in die oë te staar nie. Die deur van gebed is altyd vir ons oop.


Wat ‘n vriend het ons in Jesus! Amen

384 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page