Oorvloed Genade
‘n Tyd terug by die werk het ek deur 'n ongelukkige voorval gegaan. Wat alles erger gemaak het was die feit dat ek 'n belangrike detail gemis het wat gelei het na 'n hele drama van 'n storie wat ek beslis nie weer wil deurgaan nie. Alhoewel alles in die uiteinde oraait uitgedraai het (danksy baie gebed) en almal aanbeweeg het, sit ek nog met die wonde van die krises. Skielik het ek alle vertroue in myself verloor. Ek voel of my reputasie gekneus is en of ek nou dop gehou word vir die volgende fout. Ek is nog al die jare baie hard op myself. Daar is hierdie idee in my kop dat ek perfek moet wees teen alle tye. En dan wanneer ek die dag 'n fout begaan, dit net onaanvaarbaar en verstommend is. Hoe kon sy!? En nou vandat ek mamma geword het, is daar net nuwe druk en verwagtinge waar ek daagliks voel ek misluk. Voel jy ook soms so? Of jy niks kan reg doen nie? Of jy net altyd aanjaag? Of jy keer op keer dieselfde foute maak? Genadiglik is daar genade. En 'n oorvloed daarvan. Die ding is, God verwag nie van ons om perfek te wees nie. As ons perfek kon wees, sou ons nie vir Jesus nodig gehad het nie. Dan sou dit nie vir die Heilige Gees nodig gewees het om vir ons te lei, reg te help en te leer nie. Net nou die dag vra ek die Here of Hy my sal vergewe. Weer vergewe vir dieselfde mislukking waarvoor ek al soveel keer om vergifnis gevra het. Hoeveel keer sal die Here my vir dieselfde ding vergewe, want dis duidelik 'n stryd in my lewe? Maar Matteus 18:21-22 kom by my op en hierbinne my ervaar ek net hoe die Here sê: as Hy van ons as mense verwag om mekaar sewe maal sewentig keer te vergewe, waarom sal Hy wat God is iets van ons verwag wat Hy nie ook self sal doen nie. God se genade is groot. Indien jy waarlik berou het, staan Hy gereed om jou te vergewe. En selfs al hou mense jou foute teen jou, sê God as Hy vir jou is, kan niemand teen jou wees nie (Romeine 8:31). Ons moet leer om bietjie sagter op onsself te wees. Dis menslik om foute te maak en te misluk, maar met die Here aan jou sy kan jy opstaan en môre weer pobeer. Want God se genade is elke môre nuut. En daar is 'n oorvloed van genade vir ons almal.