Presies wat jy nodig het
Porsie. Hierdie woord laat my maag sommer op ‘n knop trek. Dit laat my altyd aan daardie “weight watcher” advertensies dink. As mens “porsie” hoor, dan dink jy aan kos. Dit verwys vir my na ‘n ontneming, om iets wat lekker is tot so mate te beperk dat dit eintlik nie meer lekker is nie.
Deesdae se dieetgiere en ingesteldheid om die presiese porsie grote in te neem, is eintlik net ‘n onlangse neiging in ons kultuur van genotsug en oormaat.
Porsie vir my, beteken ‘n maatstaf. ‘n Perfekte maatstaf. ‘n Maatstaf wat uniek is aan jouself, niemand anders nie. Dit is die presiese hoeveelheid wat jy nodig het. Indien jou porsie nie voldoende is nie, vra jy vir meer, jy vat meer.
Psalm 16:5-6 AFR83: "Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. 'n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi." Ons het 'n goeie erfenis omdat God goed is. Ons het 'n porsie, 'n volmaakte maatstaf wat aan ons toegeken is wat ons veilig hou, wat ons ondersteun, wat ons in staat stel om bo die storm uit te styg en gevegte te voer deur sy voortdurende getrouheid en krag. Sy porsie en maat vir ons is 'n volmaakte geskenk wat ons so broodnodig in hierdie lewe het.
Omdat God ons vooruitgaan en ons van agter beskerm, het Hy ons gevegte reeds hanteer. Hy weet presies wat op ons wag, Hy word nie deur swenkballe verras nie. Hoe meer ons probeer om die gevegsswaard te swaai en die aanval sonder Hom in te gaan, hoe meer sal ons sukkel en moeër sal ons word. Hy het ons vooruitgegaan en vir ons die presiese maat van verlossing verseker wat ons nodig het.
Is dit nie wonderlik om te dink, en te weet, dat die porsie wat Hy vir ons lewe verseker het, die heel beste vir jou, en jou alleen is nie?
Jou porsie sal heelheid en oorvloed vir jou verskaf, maar nie noodwendig vir jou naaste nie. Net so is jou naaste se porsie nie noodwendig dieselfde as wat jy nodig het nie.
God wil aan jou Sy porsie vir jou lewe gee. Hy weerhou nie goeie gawes nie, Hy wil dit vervolmaak, Hy oortref immers elke dag ons verwagtinge. As jy vir Hom brood vra, sal Hy nie vir jou 'n klip gee nie! Hy sit en wag vir jou, om na hom te roep, te vra hoe jy jou porsie moet beheer.
Om jou eie drome en doelwitte te ontwikkel, en in die proses God vooruit te gaan, veroorsaak dat ons meer teleurstelling ervaar en oorweldig voel…..
Onthou vandag dat Hy JOU porsie is, dat Hy 'n noukeurig afgemete geskenk het wat met groot sorg vir jou gekoop is. Jesus Christus het vir jou gewerk. Hy het vir jou gearbei. Hy het vir jou volhard. Hy het vir jou gebloei. Hy het vir jou gesterf. Die belangrikste is egter dat Hy nie net al jou gevegte op sy skouers geneem het nie, Hy het elke ding wat jou bedreig het, verslaan sodat jy voluit kan lewe.
God is alles wat jy nodig het.
Gister, vandag en vir altyd.