Rus in die oorwinning wat reeds behaal is.
“God understands the cries of our hearts, even when they’re too deep for words”
Selfs sonder woorde, weet God presies wat ons soek, Hy weet wat ons nodig het op die perfekte tyd. Ons tyd en Sy tyd stem nie noodwendig altyd ooreen nie, en ons het soms (teveel) vrae oor dinge wat in ons lewe aangaan. Maar, sal Hy iets verniet laat gebeur?
Ek beskou die lewe elke dag as ‘n leer skool. Ek hou daarvan om te beplan, maar ook nie te ver nie, die hier en nou is die belangrikste. En meeste van die tyd, laat ek dinge oor aan die Here se wil en Sy beplanning. Iewers oor my struikelblokke en seer sien ek steeds Sy hand en ek besef daarna die groei wat ek beleef het.
Ons word in situasies geplaas wat ons soms bitter diep raak en vir ewig ‘n merk laat, elke kleinste dingetjie het iets vir ons om uit te leer. Solank ons net uit die negatiewe kan groei en die positiewe kan saamdra.
Ons is geneig om gou te vra, hoekom ek? So paar weke terug is ons dogtertjie op 34 weke gebore, ek onthou hoe ek op die bed sit in die teater terwyl hulle my spinaal narkose gee, met trane wat oor my wange stroom het ek net vir die Here gevra dat hierdie klein dogtertjie wat nou in die lewe gebring word, net okay sal wees. Dis okay dat dit ek is, want ek weet hoe groot is Hy. In hierdie situasie het ek nie eenkeer Hom bevraagteken nie, want ek het net geweet. Hy is hier deur hierdie onsekerheid en seerste seer ook. Dit is met ‘n rede dat sy nou moet kom, al is dit te vroeg..
Ek het nog nooit God se teenwoordigheid gevoel, gesien en beleef soos hierdie laaste ruk nie. Ek het my dogtertjie 15 ure na geboorte vir die eerste keer gesien en my hart het gebreek. Om NICU toe te stap en nie te weet hoeveel drade gekoppel is nie, dan nog boonop te sien hoe bitter klein sy is en reeds so hard moet veg.
Ek het weer baie gou besef hoe groot en almagtig ons Vader is. Die geboorte van ons dogtertjie het mense laat bid. Ek het verstom gestaan - mense wat ons ken, mense wat ons nie ken nie - almal het gebid.
Dis nie nodig vir ons om God se plan te verstaan nie, want met geloof en vertroue in ons Vader kan ons deur dit wat vir ons onmoontlik lyk en voel, sterker deur kom. God gee vir ons die nodige krag vir môre, sonder om bietjie te moet hou vir nog ‘n dag. Hy dra ons deur diep waters, Hy is ons veiligste vesting.
Mooistevrou, as jy op die oomblik iets in die oë kyk wat onmoontlik lyk, iets wat so seer maak jy sien nie kans vir nog nie, wil ek vir jou sê daar IS krag in gebed. Hy luister werklik! Dit gaan nie in ‘n oogwink beter wees nie, maar ek verseker jou Hy gaan na jou omsien en jou deur dra.
Word stil by Sy voete, gee oor aan Hom, en leef Sy lig uit. Bid sonder ophou, bid op enige plek, want Hy luister.
Liedjies vir bemoediging:
I Surrender - Hillsong
What A Beautiful Name - Hillsong
Broken Vessels - Hillsong
“So take this heart, Lord
I'll be Your vessel
The world to see
Your life in me” - Broken Vessels, Hillsong.
Wees Sy Lig