• MOOISTEVROU

SHARINE BARNARD stel vandag haar nuwe enkelsnit en video, Breathe, bekend.

Ons het met haar gesels om bietjie meer uit te vind oor die dinamiese vrou van Bloemfontein.


1. Wat maak vir jou n vrou mooi? Mooi is vir my ‘n relatiewe begrip. ‘n Vrou wat mens nie ken nie, kan pragtig wees wat betref gelaatstrekke en fisiese voorkoms - geen twyfel daaraan. Mooi bly mooi. Maar ‘n Vrou se mooiheid vir my kom egter van binne: om met vriendelike woorde te praat; om die goed in mense te soek en te sien; om uit te deel en om met wysheid die pad te loop. Hierdie dinge straal uit ‘n mooi vrou. 2. Wat maak 'n vrou sterk? Al die fasette van ‘vrouwees’ maak ‘n vrou sterk. Om ‘n vrou te wees behels soveel uiteenlopende elemente, en die feit dat ons daardie onus op onsself plaas om dit als te wees, soms uit eie keuse en ander kere bloot omdat dit oor ons pad kom, maak ons sterk. 3. Wie is vir jou die Mooistevrou? ‘n Vrou wat met dankbaarheid en geloof die lewe in die oë staar; wat tevrede is met die feit dat uiterlike perfeksie of mooiheid irrelevant is ten opsigte van wie sy is, maar eerder fokus op die lig wat sy uitstraal om diensbaar te wees in die sin van haar ‘purpose’ wat God vir haar het. Of sy ‘n besigheidsvrou is; ‘n ma; ‘n kunstenaar; ‘n vriendin; ‘n luisteraar - watookal die hoedanigheid van haar ‘purpose’ - om dit te ‘embrace’ en te leef in elke faset wat jy kan. Dit is ‘n Mooistevrou.

SHARINE BARNARD SE NUUTSTE ENKELSNIT IS HULDEBLYK AAN HAAR PA VIR VADERSDAGBREATHE gaan oor hoe ons die herinneringe van mense wat uit ons lewens geskeur is, hetsy deur die dood of ander omstandighede, inasem en dit gebruik om aan te gaan; asook hoe daardie herinneringe dit soms vir ons moeilik maak om asem te haal,”Sharine Barnard oor haar nuutste enkelsnit. Hierdie pragtige huldeblyk aan oorlede pa, vervaardig deur 2 Tone Records, kom uit haar eie pen en kombineer elemente van pop en klassieke musiek. “My pa is in 2017 oorlede na ’n kortstondige stryd met brein- en longkanker. Niks kan jou ooit voorberei op ’n geliefde se dood of die stryd teen kanker nie. Ek het BREATHE verlede jaar geskryf, presies vier jaar na sy dood, toe die gemis en hartseer my ontvou het en net nie wou weggaan nie. Dit was net konstante heimwee wat my gemoed gevul het, omdat die herinneringe nooit ophou nie,” deel sy. “Die liedjie simboliseer die onregverdigheid van die lewe en hoe drome verwoes word en als net aangaan, want al is mense nie meer met ons nie vloei die water steeds. Gelukkig vloei die herinneringe nie saam weg nie. Dit bly en ons asem dit in. Dit moedig my ook aan om elke oomblik saam met diegene wat ek liefhet te waardeer en in te asem; want daardie asem is net vir ons geleen.” Sharine glo dat almal verlies verstaan en daarom by die snit sal aanklank vind. Sy hoop ook dat dit vir luisteraars troos sal bring wanneer hulle hartseer en heimwee ervaar. Die musiekvideo van die liedjie, waarvan die klaviergedeeltes in die M.L. Spiessaal by Hoër Meisieskool Oranje verfilm is deur Johan Pretorius, is ’n roerende onthou-video waarin sy die herinneringe van haar pa verewig. “Ek het gekies om ’n kombinasie van foto’s en video-beelde van my pa, asook skote van myself voor die klavier te gebruik. My pa het vandat ek ’n klein dogtertjie was altyd gesit en geluister as ek klavier gespeel en gesing het, was altyd trots op my en was verskriklik lief vir musiek luister,” verduidelik sy. “Die liedjie gaan oor hom en hoe sy herinneringe in my hart vas gesetel is. Almal was lief vir hom en ek wil graag hê dat diegene wat hom mis na die video moet kyk en weer vir Hannes Liebenberg ervaar.” BREATHE is dié sanger, liedjieskrywer en diereliefhebber se sesde enkelsnitvrystelling en volg in die suksesvolle voetspore van treffers soos Pray en Killer wat baie goed ontvang is. Sharine het Jan Kempdorp grootgeword, waar sy ’n sorgvrye kinderlewe gehad het. Alhoewel sy altyd mal was oor musiek, was dit nie die hooffokus van haar lewe nie – sy het die afgelope twintig jaar kinders grootgemaak, ’n veilige hawe geskep vir leeus en ander groot katte en verskeie suksesvolle besighede gebou wat sy steeds bedryf. Dit het verander gedurende grendeltyd, toe hierdie ma van vier uiteindelik tyd gehad het om asem te skep en weer haar musiekpassie uit te leef. Sy het toe begin skryf oor die lewe en die liefde en die res is geskiedenis. Buiten vir haar liefde vir musiek, is Sharine – wat die mede-eienaar is van Bagamoya Wildlife Estate – ook passievol oor diere. Sy is ook baie passievol oor sport en gesondheid en is mede-eienaar van ’n Osoonterapie-kliniek – Ozone Clinic – wat mense help om gesonder te wees. Naweke werk sy ook as sjef by haar eie restaurant. BREATHE is ’n besonderse lied wat beslis met harte gaan praat en, net soos die persoon waaroor dit gaan, diep spore gaan laat in die harte van dié kunstenaar se aanhangers. “Ons moet tyd vat om die mense wat nie by ons is of kan wees nie se herinneringe te koester. Hulle was deel van ons lewens en het gehelp vorm aan die mense wat ons vandag is. Daarom moet ’n mens hulle lewe vier. Die gemis raak nooit makliker nie, maar die mooi herinneringe bly. Veral op dae soos Vadersdag en Moedersdag is dit uitdagend om hulle nie meer met ons te hê nie, en daarom dra ek die lied op aan hom. Om sy herinnering op Vadersdag vier en te koester,” sluit sy af.



SOSIALEMEDIASKAKELS: Facebook: https://www.facebook.com/sharine.barnard/ Instagram: @sharinebarnard YouTube: https://www.youtube.com/channel/UC6Zcv-9dred5cHreBul9ZZg

STARBURST PROMOTIONS Gizela Arndt - PUBLICIST

53 views0 comments

Recent Posts

See All