SKATKIS VAN HOOP
Ek sien my lewe as ‘n reis op ‘n boot. Party seisoene het verskriklike stormwinde, die see is rof en dit voel of ek enige oomblik gaan verdrink en ek kan net nie my boot se seile op hou nie. Ander kere skyn die son oor elke aspek en ek weet presies waarheen ek oppad is.
Eers as my storm seisoen verby is, kyk ek terug en ek besef HOEKOM dit gebeur het, en waarheen dit my gelei het. Ek besef dat God my oor hierdie stormwaters stuur om die lewe se dieper betekenis en doel net weer raak te sien en te waardeer. Dat God selfs in die ergste storms van my lewe steeds daar is en dat Hy eintlik die een is wat my steeds op koers hou al voel dit of ek rigting verloor en alleen is.
Deur elke seisoen is daar hoop, ons kan vashou ons lewende God en weet dat Hy ingryp in die goeie en slegte oomblikke. Jou hoop moet in geloof geanker wees. Hoop is die geloofsanker waaraan jy vashou. Stormwinde en rowwe lewenswaters ruk ons terug om stywer vas te hou aan iets wat vas is.
Wat is jou anker? Waaraan word jou anker vas gemaak?
My ankertou is my geloof en die rots waaraan my tou vasgemaak word is hoop.
“Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees.”
ROMEINE 15:4 AFR83
Om hoop te hê tenspyte van moeilike onstandighede, bied krag om die volgende tree te gee. Hoop dra jou wanneer jou geestelike geloof uit die oog verloor word. Hoop herinner ons aan die mag van God se liefde wat jou lewenspad skoon en gelyk sal maak.
Hoop is vir my ‘n besonderse belangrike bestanddeel van die lewe. As ons hoop het kan ons enigiets hanteer wat die lewe ons mee uitdaag. As ons hoop het kan ons die uitdagings aanvat en oorwin. Dit is hoop wat ons in die oggend laat op staan.
God wil hê dat elkeen van ons met hoop in ons harte sal lewe. God se genade en krag is daagliks vir ons méér as genoeg. Wanneer hierdie goddelike hoop vir ons ‘n realiteit word, kan ons ‘n bron van hoop vir ander mense word. As ons aan die bron van hoop, God, gekoppel is kan jy ‘n bron van hoop vir iemand anders wees wat met hoop worstel.
Daar is ‘n onbreekbare band tussen geloof en hoop. Deur te hoop het jy ‘n verwagting vir die beste of na iets beter, maar om geloof ook te hê is om te glo dat God ons sal help en daarom vertrou ons op Hom.
“Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!”
ROMEINE 15:13 AFR83
Deur jou geloof te versterk sal jy ‘n groeiende hoop ervaar.