top of page

Skilpad se droom

Hi guys!


Dis Marianne hier en hierdie week het ek geïnspireerd gevoel om te praat oor 'n onderwerp wat my al vir 'n paar jaar by bly – drome. Nou die keer verwys ek nie na iets wat jy in die middernagtelike ure droom nie, maar eerder na die tipe drome wat jy droom oor jou toekoms, wat jy wil word en graag wil bereik.

Ek self dink dat Jessica van Twilight dit nie beter kon opsom nie. Met hulle matriekafsluiting het sy in haar toespraak genoem hoe onderwysers deur die jare wou weet wat hulle eendag wil word. Op 'n vyf jarige ouderdom wil jy 'n prinses wees, op tien wil jy 'n soldaat wees en op sestien 'n dokter, maar op agtien soek almal 'n ernstige antwoord. Ek het altyd gedink (en ek dink nogsteeds so) dat dit onregverdig is om te verwag dat 'n agtien jarige kind klaar moet weet wat om met sy of haar lewe te doen – vir die res van sy/haar lewe. Hel, op agtien dink ek min kinders weet wie hulle regtig is of selfs waar hulle ware belangstellings lê. Dis seker ook oor hierdie dilema waar baie ouers self besluit en namens hulle kind besluit watter beroep die beste is.


Nou, terwyl die 'n goeie debat kan raak, is ek seker dat jy al die meeste argumente en situasies gehoor het. Sommige kinders weet wat hulle wil word (kunstenaar, akteur, komediant), maar dan aanvaar die ouers dit nie omdat hulle dink die beroepe voorsien nie 'n goeie inkomste nie. Ander weet nie wat hulle wil word nie en speel maar net ‘inkie pienkie ponky’ op die beroepslys en hoop dat als uit werk. Ander kinders kan van beroepe verander op universiteit en ander het nie geld om te eksperimenteer nie. Aan die anderkant, dis scary om so groot besluit te maak en die lewe is baie kort om veertig jaar van jou lewe te mors op 'n beroep wat jy eintlik haat met 'n passie.


Tog, ons almal word vasgevang in die idee dat jy MOET dit nou doen of jy MOET dat nou doen en as jy dit nie doen nie, dan het jy gefaal in jou lewe. Dis met hierdie idee en argumente waarmee ek laas naweek gestoei het soos ek besig is om nog 'n hoofstuk in my lewe af te sluit. Ek het op my bed gelê, pootuit na 'n lang uitmergelende finale jaar, en gewonder wat die opvolgende jaar vir my gaan inhou. Gaan ek 'n goeie werk kry? Is ek tevrede met wat ek bereik het tot dusver? Is ek tevrede met my keuse van beroep? Met hierdie gedagtes wat langs my kom lê en met leë ogies aangluur, het ek besluit dat dié my nêrens gaan kry nie en dat 'n bietjie skrywery my sal help. Stadig staan ek op, gryp my skootrekenaar en loop sleepvoet na ons agterstoep toe om daar in die koel windjie te gaan sit. Die eindresultaat was waar ek na ‘n ‘blank’ papier staar en met my gedagtes wat weer dwaal rondom my keuses en toekoms. Ek was nog so vasgevang in my gedagtes toe ons skilpaaie my oog vang.


Nou hier moet ek myself onderbreek. Ons (ek en my familie) was nog nooit groot troeteldier eienaars nie, maar duidelik het lewe ander planne met ons gehad. Pappa wou 'n groot hond hê vir ons erf om al die boewe te verjaag en een het ons gekry. Twee jaar na die tyd, het my ouers net vir 'n tannie gaan kuier – net gaan kuier – toe mamma terug kom met 'n Yorkie. 'n Jaar na die nuweling, kontak dieselfde tannie ons en vra of ons nie maar nog 'n Yorkie wil hê nie. Sy het vertel hoe daar 'n paartjie opgedaag het opsoek na 'n hondjie, maar sy vertrou hulle glad nie en voel dat haar hondjie nie na 'n goeie huis toe sal gaan nie. As iemand anders die Yorkie vat, kan sy net hande in die lug staan en vir die paartjie weg wys – haar gewete skoon. Natuurlik het dié mamma se hartstringe getrek en so trek ons by drie kindertjies. Dit was skaars twee weke toe ons buurvrou opdaag met 'n groot skilpad. Sy vertel hoe sy die skilpad gered het van haar werkers en hoe hulle die arme ding wou braai vir aandete. Met trane in die oë, vra sy of ons nie na die dingetjie sal kyk nie. Voor pappa nog kon antwoord, spring boetie hom een voor en neem die skilpad vertroetellend onder sy arm en kondig trots af hoe dié sy diertjie is.


Daar kry ons nog een by en pappa staar net na die dak en wonder waar als verkeerd gegaan het.

Boetie het ywerig te werk gegaan soos hy self die eenkant van ons agter erf omkeer om 'n huisie, fontuintjie en eetplek te bou en sommer ook help om gras aan te plant. Hy en pappa was nog so besig met die bouery toe 'n geraas ons na die voorkant toe trek. Ons groot hond het baie verdag na 'n hoekie gekyk met sy stertjie wat stout rond wip. Toe ons nader kom, daar in die hoekie, staan 'n klein skilpad. Sonder om te dink, neem boetie die kleintjie en marseer trots agterkant toe om vir pappa te gaan wys. Vies, kon ek hoor hoe pappa 'n graaf neer gooi en hard afkondig “nie nog een nie”. Jaaa, dit som ook die rusie in ons huis op – troeteldiere. Dit het ook nie gehelp dat 'n duiwekolonie ook kom nes skrop het nie, maar hulle versorg ons nie. Ons wil nie nog geveerdes uitnooi om te kom intrek nie, maar ons is tog lief vir ons diere.


Terug by die storie, die groot skilpad het boetie ‘Skillie’ (oorspronklik, ek weet) gedoop en die kleintjie het sommer ‘Kleintjie’ gebly. Nou, tussen my en jou, ek glo vas dat beide skilpaaie baie seksisties is, want hulle kom net uit hul hoekies uit wanneer boetie nader kom. As ek of mamma nader kom, dan wil hulle van niks weet nie, maar dis net tussen ons twee.


Skillie is nogals 'n bedrywige vroumens soos sy rond beweeg deur die dag en Kleintjie is maar stil en eenkant. Ek glo vas dat hulle nie daarvan hou om aandag te deel nie en dus is hulle kwaad vir mekaar. Kleintjie laat haar ook nie af sê nie en patykeer, as jy gelukkig is, kan jy sien hoe sy vir Skillie treiter. Laas naweek was so 'n geleentheid. Albei was in hulle hokkie toe Skillie (met verbasende spoed) reguit loop na die eenkant toe. Drie sekondes later kon jy vir Kleintjie sien soos sy najaag. Toe loop Skillie anderkant toe, en Kleintjie is weer agterna en die keer lyk dit asof sy nader is en toe…toe verdwyn hulle van my visie af. Ek het dit oorweeg om op te staan en te gaan kyk toe Kleintjie anderkant toe woeker en met Skillie die keer agterna!


Mense! Ek was nou vir jou so stom geslaan oor hoe die twee mekaar jae dat ek net sit en toe kyk. Toe die lag my oorval, het mamma kom kyk of ek okay is. Later sit ons almal en toekyk tot ons besef het dat ons vir die afgelope tien minute na skilpaaie sit en kyk. Dit sê nie baie nie nou doen dit?


Maar tog het Skillie en Kleintjie se ressies met mekaar my laat dink aan drome en hoe mense drome najaag. Dit 'n snaakse vergelyking, maar ‘hear me out’. Wanneer ons 'n droom kry, jaag ons dit so ywerig na soos Kleintjie vir Skillie gejaag het. Ons doen enigeiets om die droom te bewaarheid, al kyk ons vas in 'n gehoor van mense soos hulle bly vertel dat dit nooit sal gebeur nie. Die droom bly ons ontduik, maar ons hou voluit. Dan kry ons 'n staduim waar ons geneig is om moed te verloor en op te hou glo. Ons kry nie die resultate waarvoor ons gehoop het nie of erger, ons begin mense glo dat ons droom nie vir ons gemaak is nie. Ander kere kan dit voel asof ons ons tyd mors en tree die sosiale denke in om ons weer vas te vang in 'n tronk. Ons MOES universiteit toe gegaan het om 'n goeie werk te kry, maar nou is ons 'n mislukking. Dis gedurende hierdie onsekerhede wanneer ons drome ons begin najaag soos Skillie vir Kleintjie woes nagejaag het, maar dan sien ons nie die geleenthede raak nie omdat ons vas glo dat dit ‘never meant to be’ was.


My boodskap aan jou is, as jy in jou ‘gut’ voel dat jou droom dit is wat jy veronderstel is om te doen en dat dit jou vervulling gaan gee, moet nie opgee nie. Jaag daardie droom na soos Kleintjie – stoei met die droom en gryp hom vas tot dat jou droom jou najaag soos Skillie het. Wanneer jy voel asof jy moed verloor of wanneer jy voel dat dinge nie uitwerk nie, staan terug en kyk na wat jy gedoen het. Dalk was daar iets wat jy verkeerd gedoen het en moes jy eintlik 'n ander pad gevolg het om by jou droom uit te kom. Moet net nie opgee nie, hê vertroue dat jy sal bereik wat jy veronderstel is om te bereik.

Laastens, soos Prediker 3 ons leer, elke ding het 'n vaste tyd. Daar is nie rêrig iemand wat voor of agter is nie. Sommige mense behaal sukses op sestien net om op dertig te sterf. Ander werk hulle lewe lank hard, kry 'n familie en behaal sukses is veertig net om op tagtig te sterf. Wie is voor en wie is agter? As jy nie NOU universiteit toe gaan nie of nie NOU daardie werk kry nie, moenie jouself afbreek daaroor nie. Moenie ingee tot die tronk wat die samelewing vir jou skep nie. Dis soos die Bybel al gesê het, as die antwoord nee is, beteken dit nie dit bly nee nie. Dit beteken net dat dit wat jy soek nie nou vir jou is nie. Dalk is daar iets anders wat jy eers moet doen of eers moet leer voordat jou droom jou najaag.


So ja, hopelik het ek genoeg geskryf om jou te inspireer en eerlikwaar, as ek nou verder moet skryf gaan ek seker meer gesels as wat ek 'n inspirasie stuk skryf. Soos altyd, ek wil graag meer weet van jou en omdat hierdie so 'n goeie gesprek kan word, comment gerus op my stuk en saam kan ons lekker gesels!


met alle suider-liefde,

Marianne.


309 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page