top of page

Soms verlang ek terug na eenvoud

Ons almal kon nie wag om met skool klaar te maak en die wêreld aan te pak as “grootmens.” Dis opwindend, alles wat vir jou voorlê, alles wat jy kan en gaan bereik, jou drome en wense, alles lê en wag vir jou. Tog, het jy nie ‘n benul waaroor die lewe gaan nie en nog minder wat regtig vir jou lê en wag.


Ek sal nie sê ek wil weer ‘n skoolkind wees nie, veral nie met vandag se druk en politiek onder die skoliere nie, maar tog verlang ek na die eenvoudige lewe wat mens daardie tyd gehad het. Op daardie stadium het jy gedink jou lewe is so moeilik, vol spanning en en en, vandag besef jy hoe eenvoudig alles was. Jy het eenvoudig elke oggend skool toe gegaan, na dieselfde groepie maats, jy het geweet wat jou dag vir jou inhou en jou grootste bekommernis was jou skooltake en eksamens.


Ek weet dit is wel nie die geval vir alle skoolkinders nie, maar ek het ‘n redelike eenvoudige en maklike skool-loopbaan gehad en vandag verlang ek so effe terug daarna.


Ek verlang na my ma se kos,

en Sondae-aande se fliek.

Ek verlang na die bekendheid

van roetine en skoolmaats.

Ek verlang na pouse-geselsies

en stresvrye-vakansies.

Ek verlang na vriendelike gesigte

en naweke se sport.

Ek verlang na die snoepie se tjips

en die pawiljoen se koue sitplekke.

Ek verlang na verjaarsdagpartytjies

en groot Kersfees-etes.

Ek verlang na die eenvoud van kind-wees

en die sorgvrye dae.


Skoolwerk, verhoudinge, vriendskappe, familie… alles was sonder moeite. Soos dit hoort. Die eenvoudige lewenstyl wat jy op daardie oomblik as van selfsprekend aanvaar het en gesien het as “te gewoon” is vandag dieselfde lewenstyl waarna soveel smag. Om net ‘n rukkie weer te wees soos in die ou dae.


Jy kon sê hoe jy voel, sonder om geoordeel te word, jy kon eerlik wees, sonder om op tone te trap. Kinders is rou, eerlik, opreg. Vandag moet ons heeltyd ons woorde tel, want ons word tog so gou oor die vingers getik. Sê jy hoe jy voel, is jy swak, praat jy die waarheid, dan breek jy verhoudinge, bevraagteken jy optredes, dan oordeel jy. ‘n Konstante warboel van “moets en moenies.”


Ek weet as mens kind is steur jy nie jouself aan grootmense en al hulle wysheid nie, maar ek moes.


Liewe mede-grootmense, lees asseblief die vir die kinders rondom jou:

Sit langer op jou pa se skoot, laat jou ma toe om jou hare te borsel.

Nooi jou beste maatjie vir Vrydag-middag se speel, gaan na elke partytjie.

Eet die laaste happie malva-poeding, koop die pakkie Nik-Naks pouse.

Sê ja vir ‘n Valentyns-date en wees vriendelik met die nuweling in die skool.

Kies familie-tyd bo alleen in die kamer lê en musiek luister.

Geniet die eenvoud van jou lewe, want môre, oormôre is jou eenvoud kompleks.


Só is die lewe, ons soek altyd meer, verwag altyd dat die volgende fase in ons lewens lekkerder sal wees. Ons skep hierdie hoop en ideaal in ons gedagtes dat dit wat kom beter sal wees. Ons vergeet heeltemal om die fase te geniet waarin ons tans is.


Ek geniet my fase van mamma-wees van ‘n kleuter, maar ek kan nie help om so nou en dan te verlang na die fase toe ek kind was…


457 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page