top of page

Staan op vir jouself


Die week wat verby is sit en gesels ek en my naeltegnikus so oor die lewe, kinders en die lesse wat ons al geleer het. Sy sê toe vir my die belangrikste les wat sy al ooit geleer het was by haar ouma – “staan op vir jouself, veral as vrou, want niemand anders gaan dit namens jou doen nie.”


Daar was ‘n stilte na hierdie “powerful” woorde. Net daar het ek ook ‘n belangrike les van haar ouma af geleer en hierdie sin sal ek vir ewig saam my dra. Ek was nog altyd ‘n redelike sterk vrou met ‘n sterk opinie, maar oor die jare het my hart sag geword (ek vermoed dit is die titel van ma wees wat dit aan my gedoen het), elk geval, ek het begin toelaat dat mense oor my loop, het minder my opinie begin lug en het sommer net dinge begin aanvaar.

Jy kan seker sê, ek het ‘n tikkie van my menswees begin verloor.


Na daardie sin kon ek nie ophou dink aan hoe maklik ‘n mens kan ophou om vir jouself op te staan nie. Die wêreld kastei jou indien jy waag om jou opinie te lug (let wel in die regte situasies met respek), so dit is beter om stil te bly en toe te laat dat ander oor jou loop.


Ek dink ons vrouens is so geneig om terug te tree ter wille van vrede. Dit gebeur so dikwels, in ons werksomgewing, huwelik, vriendskappe en enige mense verhoudings.


Dis belangrik om te onthou om vir onsself op te staan. Ek is dankbaar vir die herinnering dat ek dit moet doen, vir myself, want niemand anders gaan dit namens my doen nie.


Ek dink daar is ‘n illusie rakende vrouens met sterk persoonlikhede, maar sagte harte. Mense dink dikwels sulke vrouens kan nie seer gemaak word nie of dat woorde en dade gou vergete kan wees. Tog, is dit ons wat met die hartseer agter toe deur rondloop.


Mense dink dikwels dat sulke tiepe vrouens juis altyd vir hulle self sal op staan, tog het die lewe ‘n impak op almal en ons verdrink in die gang van dinge en vergeet so effe van onsself. Dis dan wanneer ons ons rug draai en die skerp messe voel. Pleks van die vyand in die oë staar en die messe af keer.


Dan kom die oumas, met jare se lewenservaring en herinner ons dat ons onsself nie moet verloor nie. Dat jy jou hart eerste moet stel. Dit moet koester, maar nie jou sagheid moet verloor. Dat dit tyd is om weer vir jouself op te staan met die nodige genade en respek.


Ek hoop dat elke vrou so nou en dan ‘n ouma lessie of twee hoor, net om ons weer terug te draai op koers.

456 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page