Stock-Take vir die siel.
Soos die einde van die jaar nader wink, is dit ook die tyd van die jaar wat aangebreek
het vir meeste maatskappye om ‘stock-take’ te doen. Dit is nie altyd ‘n maklike taak
nie, dit is virseker ook nie die lekkerste taak nie, maar dit is wel tog so broodnodig om te
bepaal waar jy staan in jou besigheid.
Net soos groot besighede het ons soms ook nodig om ‘n ‘stock-take’ in ons eie lewens
te neem. Ons het nodig om ons verhoudings en vriendskappe te filter, ons het nodig om
onsself onder die vergrootglas te neem en te kyk waarop fokus ons die meeste in ons
lewens – is ons oë werklik gevestig op die dinge van die hemel of staar ons onsself blind
teen die dinge van die wêreld?
Verder, is dit suurstof vir ons siel om ons hart en denke in lyn met die Here se wil vir ons
lewens te kry. Soms het ons vriende en familie nodig om die waarheid wat ons gerieflik
vermy met ons te deel, ander kere het ons nodig om op ons eie tyd, en gewoonlik teen
‘n duur prys die waarheid te leer. Hoe dit ookal sy is daar elke keer inspraak van God
nodig – nie om ons oor die vingers te tik nie, maar om ons op die nou en reguit pad te
hou.
Ons het moontlik meer as een keer ‘n jaar nodig om werklik ‘stock-take’ in ons eie
lewens te neem, maar vandag skryf jy nog jou nuwejaars-voorneme en voor jy sien
doen jy Kersfees inkopies. Die lewe gebeur so vinnig, maar jy is jouself dit verskuldig om
‘n ordentlike ‘stock-take’ te doen voor jy ‘n nuwe seisoen betree, hetsy dit ‘n nuwe jaar,
nuwe maand of nuwe week is. Jy kan op enige gewewe oomblik van jou dag besluit
‘this is not serving me’ en kies om dit nie deel van die voorraad te maak waarop jy
energie en aandag spandeer nie.
Hierdie is een van daardie ‘makliker gesê as gedaan’ aktiwiteite wat ons almal op een
of ander stadium in die gesig moet staar. Jy weet dit is tyd vir ‘n lewens ‘stock-take’
wanneer jou siel stof opgaar en jou gemoed ‘n allergiese reaksie toon. Dit is eers dan
wanneer jy besef dat die dinge waaraan jy aandag skenk, die einste dinge is wat gaan
veroorsaak dat jy buite die wil van die Here vir jou eie lewe gaan beweeg en niemand
anders kan verantwoordelikheid daarvoor neem totdat jy self ‘n stokkie daarvoor steek
nie.
1. ‘Stock-Take’ in jou verhouding met jou Skepper:
Hierdie is moontlik een van die teerste onderwerpe om aan te raak, want dis hier, in jou
gebrokenheid en verdwaaldheid waar genade die oorhand kry. God sien jou. Hy het
die 99 gelos om jou te gaan soek, en Hy sal dit weer doen en wanneer jy, soos die
verlore seun, weer terugkeer huistoe, sal jou Vader oor jou ook jubel en juig! Neem
asseblief kennis, hierdie is nie ‘n ‘once-off’ gebeurtenis nie. Ek verwys persoonlik daarna
as ons natuurlike ‘human error’ – die les wat geleer moet word wanneer vingers eers
moet brand voor jy van geduld kan leer. Wanneer ons die pen uit God se hand wil vat
en volgens ons eie tydlyne wil skryf, terwyl ons die hoofkarakter en nie die Skrywer van
ons eie lewe is nie. Vir jou wat hier lees en dalk voel jy is vir die hoeveelste keer alleen
op ‘n onbekende stofpad en bang is om terug te gaan, die Here wag vir jou met ope
arms – daarvan kan ek getuig, ek was ook al die een wat God die 99 voor gelos het.
Ons mensdom hou nie daarvan wanneer die antwoord ‘nee’ of ‘nie nou’ is nie. Dan
beweeg ons bitter vinnig buite die wil van die Here, die Een wat oor al die stukkies van
ons lewenslegkaart gedroom het en in Sy hand hou. Ons weet ons kan ons planne
maak, maar die Here bepaal ons pad – en steeds sal ons eers soos stoute kinders, die
waters toets op ons eie manier. Maar, wanneer ons seerkry en ons terugkom na ons
Skepper, wag Hy alreeds met pleisters van vertroosting en genade soos dettol om die
gapings te kom vul en ons weer heel te maak.
Ons leen ook te maklik ons ore aan die wêreld en al sy stories uit. Ons skuil agter skerms
en slegs sekere dele van die Bybel en slegs halwe versies is op toepassing van ons
generasie. Die versies wat my toelaat om ‘n roekelose lewe te ly, want liefde bedek
mos alles. Nee. God se liefde en genade is nie ‘n groen lig om ‘n roekelose en
losbandige lewe te leef nie. Daar lê verantwoordelikheid in die versies wat jy jou eie
maak en waarby jy leef. Wees versigtig vir wat in jou hart omgaan, want dit bepaal die
koers van jou lewe. Kies jou vriende versigtig, want ons almal ken die gesegde: meng
jou met die semels, en die varke vreet jou op.
2. ‘Stock-Take’ in jou verhoudings met vriende en familie.
Tyd bepaal nie wie ‘n plekkie op die vloer in jou hart se pakkamer kry nie. Net omdat jy
hulle al vir jare ken, beteken nie jy moet aanhou om kosbare plek vir hulle te stoor en ‘n
plekkie ontneem van iemand wat werklik ‘n verskil en positiewe lig in jou lewe in skyn
nie,
Familie is familie en vriende is vriende, maar soms kies jy vriende wat familie word en
dan besef jy die waarde van ‘n vriend wat soms nader as ‘n broer kan wees.
Vriendskap is ‘n voorreg. Dit omhels die goed en sleg met ope arms. Dit ondersteun, dit
bid saam, dit help jou reg wanneer jy op jou troontjie klim, dit help jou op wanneer jy
val, dit rol in die trane van lag en huil, dit het lief sonder voorwaardes, dit los jou beter
as wat dit jou gevind het.
Kennisse kom en gaan, maar jou vriende is jou binnekring wat jy nie ‘n stoorkamer bêre
nie, maar eerder in ‘n kluis bewaar. Dit is die siele wat jy saam op hierdie lewensreis
gaan neem, wat die lelik van die wêreld mooier gaan maak en die moeilik bietjie
makliker.
3. ‘Stock-Take’ in jou eie wese.
Bring die dinge waaraan jy die meeste aandag gee glorie aan God? Reflekteer die
wyse waarop jy mense hanteer by die werk, in die mall of in spitsverkeer die leefstyl van
iemand wat werklik volgens die wil van die Here wil leef. Is jou drome en
toekomsplanne uitgekerf binne die wil van God. Gesels jy met die Here oor jou vriende,
jou kollegas, jou toekomstige man of skoon-ouers. Lê jy ander mense in jou gebede
voor God se voete neer of sê jy dalk te maklik jou eie lysie op? Waar lê jou fokus
wanneer niemand kyk nie, en hoe tree jy op wanneer die hele wêreld kyk? Spreek die
woorde wat jy uit jou mond saai lewe of dood? Manifesteer jy in jou gedagtes die
goedheid en guns wat alreeds oor jou lewe gespreek is, of fokus jy op dit wat jy
kortkom?
Soms het ons nodig om ‘n oomblik stil te raak en te besef hoeveel ons werklik het om
voor dankbaar te wees, hoe skatryk ons werklik is. Selfs al is hierdie jaar of hierdie
seisoen in jou lewe nie wat jy verwag het vir dit om te wees nie, kon dit baie anders ook
gelyk het. Genade het jou tot hier gedra, en met genade sal jy dit maak tot waar jou
pad uitgelê is. Ons moet terugkom na ‘n plek van dankbaarheid vir alles wat Hy alreeds
gedoen het, en opgewonde in afwagting staan oor wat Hy nog gaan doen. Hy het dit
belowe, dit is alreeds joune.
Moenie jou heiligheid aan iemand anders se sondes meet nie. Ons almal hier is
aardsbewoners op geleende tyd en so lank as wat daardie wyser slaan en God nog ‘n
sonopkoms aan ons toevertrou, so lank sal ons elkeen op genade overdose.
Liedjies vir die week:
1. Elevation Worship – Won’t Stop Now
2. JP Cooper – Little Bit of Love
3. Elevation Worship – Graves Into Gardens
4. Hillsong Worship – No One But You
5. Bethel Music - Egypt
Versies van bemoediging:
“Guard your heart above all else, for it determines the course of your life.”
Proverbs 4:23
“And surely I am with you always, to the very end of age.”
Matthew 28:20
“One who has unreliable friends soon comes to ruin, but there is a friend who sticks
closer than a brother.”
Proverbs 18:24
“I have told you these things so that in Me, you may have peace. In this world you will
have trouble, but take heart, I have overcome the world.”
John 16:33
Baie liefde,
Rouxnette