Swaarkry - ‘n groot & belangrike leerkurwe
deur Noelene Bester
Jakobus 1:2-4
“My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”
Met hierdie vers in gedagte: wat soek ek vir my kinders? Ek glo elke ouer sal dadelik kan antwoord dat jy geen tekortkominge wil hê nie, elke behoefte en begeerte wil vervul. Dan oorweldig die gevoel jou om net te gee, die beste te gee. Alles te gee.
Maar, soos ons hierbo in Jakobus lees is dit duidelik gestel dat ons Hemelse Vader selfs in tye van beproewing sal voorsien. Soms moet mens dan bewustelik dinge weg hou om so te kan leer.
Jy wil alles gee, jou kind toedraai in watte en beskerm teen die lewe se seer. As swaarkry dan die weg is na groei, hoekom my kind hiervan weerhou? Ek wil tog nie my kind weerhou van groei en volwassenheid nie. Dit is ons as ouers se plig om ‘n voorbeeld te stel, te lei en ook toe te laat die lewe skaaf en skuur.
Swaarkry kan ook gesond wees, maar hoe lyk gesonde swaarkry?
om nie te beskerm teen die gevolge van swak keuses nie
Moedig selfbeheersing en dissipline aan
Gee met vryheid, in liefde, en maak opofferinge
Laat jou kind toe om uit hul gemak zone te beweeg en te leer hoe om in ongemaklike situasies op te tree, en hoe om dit te hanteer
Wees ‘n voorbeeld en behou jou waardes
Soms al kan jy ja sê, is nee ‘n beter manier om nig iets te kan leer.
So sal ons kinders geleer word dat mense anders is, dat nie almal dieselfde het nie en dat goeie waardes veel meer werd is.
“Learning to be content with less..”
Hebreërs 12:7-11
“Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien 'n kind wat nie deur sy vader getug word nie? As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie. Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad. Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie? Ons vaders het ons wel 'n kort tydjie na hulle goeddunke getug, maar Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel. Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, 'n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.”
As ons in God se wil en met Goddelike wysheid ons kinders grootmaak, hoef ons nie te beskerm teen swaarkry nie. Ons sal eerder hulle leer om swaarkry te verwelkom en dit te aanskou as die pad na heiligheid.
Ons, as ouers, sal deur alles aan hul sy stap, aanmoedig wanneer dinge moeilik raak, ondersteun deur swaarkry en seker maak dat hul God se belofte hier deur sal sien.