Sy genade is genoeg vir jou
Ons is nooit belowe dat ons nie swaarkry en moeilikheid in hierdie lewe sou ervaar nie. Nie eers as jy ‘n kind van God is en elke dag jou beste probeer om reg te lewe, is jy gevrywaar hiervan nie. Die Bybel sê self: “…in die wêreld sal julle swaarkry beleef…” (Joh 16:33).
Op tye kan dit wel voel dat dit waar deur ons besig is om te gaan, net te veel en te swaar is om te dra. Ons wonder waar is God in dit alles en hoe ons gaan oorleef.
In my onlangste Bybelstudie het ek hierdie mooi demonstrasie gelees en deel ek graag die boodskap wat daaruit geleer word:
Omdat handelaars aan die einde van die 19de eeu gierig was, sou hulle die skepe so leeg as moontlik uitstuur om ‘n vrag en skatte te gaan optel. Wanneer hulle aan die anderkant kom sou die kaptein weer ‘n bevel gee om die skepe te oorlaai met als wat hulle daarop kon kry. Met die gevolg dat, met die eerste reis sou die skepe so lig wees dat hulle maklik in storms rondgeslinger kon word en geneig was om om te slaan. Met die terugkoms weer, sou die skepe so vol wees dat hulle te laag in die water ry en in onstuimige seë sou sink. As gevolg hiervan het Samuel Plimsoll ‘n wet gestig om te vereis dat alle skepe ‘n horisontale lyn op hul rompe moes laat verf om die ideale gewig te toon waarmee hulle vir veiligheid gelaai moet word.
Net so het God ‘n ‘ideale gewig’ op elkeen van ons geplaas van die hoeveelheid beproewinge (‘vrag’) wat ons elkeen kan hanteer.
Ons kan nooit te lig wees en geen beproewinge in die lewe deurgaan nie. So gaan ons nooit leer om op God te vertrou in moeilike tye en sterk te staan in ons geloof nie. Sou die geringste dingetjie gebeur, sou dit ons sonder moeite kon omslaan. Beproewinge is nodig om ons te help geestelik groei en nie staat te maak op ons eie wysheid en krag nie.
Maar in dieselfde asem sal God ons ook nooit meer gee as wat ons kan hanteer, sodat ons boot sal sink nie. Dit mag dalk op tye so swaar en te veel voel, maar God gee hier vir ons hoop: “My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking” (2 Kor 12:9).
Sy genade en krag is genoeg vir jou. En dit kom juis tot volle werking wanneer jy swak is. Wanneer jy voel dinge is te veel. Wanneer jy dink jy nie meer kan nie. Dis dan wanneer God instap. Hy gee aan elkeen net die genade wat jy nodig het vir jou spesifieke situasie. Op die presiese regte tyd bring Hy sy genade en krag tot volle werking in jou lewe.
Ek weet daar is dalk dinge wat jy in jou lewe tans deurgaan of al moes deurgaan, wat ondenkbaar is en genesing klink nie na ‘n opsie nie, maar weet net God is met jou, Hy is getrou en daar is nie ‘n oomblik wat Hy jou alleen sal laat nie. Dis juis in die alleen, hopelose tye wat ons God soveel dieper kan ervaar, want ons kan uiteindelik waarlik oorgee aangesien die ondenkbare reeds gebeur het. So gee oor, gee Hom jou seer en vrae, en laat Sy genade jou aanraak.