“Sy is ‘n ewebeeld van jou”
As ‘n Mamma van 2 dogtertjies, is hierdie woorde iets wat gereeld op my ore val. Ek vat dit elke keer as ‘n kompliment, want dis mos lekker om te hoor as jou dogtertjies soos hulle Mamma lyk, né? Maar, elke keer as ek dié hoor, dink ek al dieper.
Is ek die regte voorbeeld vir hulle? Kan hulle na my opkyk? Elke oggend terwyl ek my grimering doen, is ons oudste dogtertjie vinnig op haar pos langs my - besig met haar eie kwassies besig om te tittewyt voor skool. Sy kyk wat ek doen, en probeer dan ook op haarself. Ons 3-jarige is al glad met haar bekkie wat komplimente uitdeel, want dis is wat sy in ons huishouding hoor. “Mamma, jou rok is so mooi. Ek soek ook abief so een” en my hart smelt.
Met klein ogies wat vasgenaal is op ons, hou hulle ons beslis haarfyn dop, en woorde wat gesê word, word beslis gehoor al lyk hulle besig.
Ek wil terugkom by hoe sien jy jouself? Hoe ons van buite lyk is vir baie mense belangrik. Voordat jy die huis verlaat het jy seker gemaak jou lipstiffie is reg en jy het sommer ‘n ekstra spuit parfuum gegee.
Het jy al voor die spieël beland en jouself af gevra: “ Wat maak ek met die onbeantwoorde vrae wat agter my glimlag skuil?” Soos wat jy net weg stap van die spieël vol selfvertroue, stap hierdie dinge die dag saam jou in. In Jakobus is dit in ‘n ander konteks - ons kyk en vergeet net soos wat ons die waarheid van die Woord vergeet. Waarheid soos in Jesaja bevestig word.
Jakobus 1: 23-24: “Iemand wat altyd net die Woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat in ‘n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het.”
Jesaja 43:10 “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou”.
As jy jouself weer voor die spieël bevind, druk eers die pause knoppie. Kan ek iets verander aan die magdom vraagtekens in my kop? Dalk nie letterlik nie, maar ek kan ‘n wilsbesluit neem om blindelings te vertrou, daar waar die wasem die spieël verdof.
Aanvaarding van dít wat ek nie kan verander nie is nooit maklik nie. Dit kan wel bevrydend wees as jy handdoek ingooi in die hemelse bak van gebede, daar waar God se stem weerklink “... Ek versterk jou, Ek hou jou vas ...”.
In ‘n tydlose oomblik met jou eie oë wat terug staar vanaf die wasige spieël, kan jy sien waarvoor Jesus gesterf het: ‘n onvolmaakte self wat deur genade omvou en behou word, al probeer jy alles toeplak. Al probeer jy vergeet wat jy gesien het ... dit is sy oë wat na jou terug staar.
Jy is nog hier. Daar moet ‘n rede wees.
Ek wil afsluit deur te sê, dit is nie net klein ogies wat na ons opkyk nie. Iemand anders kan na jou opkyk - ‘n familielid, jou sussie, broer, ‘n vriendin - wieokal dit mag wees. Mag dit hoe jy lyk, wees wat binne aangaan. En mag dit wat uit geleef word God se waarheid en Sy liefde deur gee. Mag jy hande vat met die mense om jou, en in God se ewebeeld stap, want ons is geskape na Sy Ewebeeld - en Sy liefde is volmaak.
Gebed vir hierdie week:
Hemelse Vader, as ek vandag in ñ spieël kyk, wil ek U in my spieël van die lewe sien. Ek wil u waarheid “aanspuit” en mag dit my daagliks marineer en my uitrusting voltooi. Ek wil in u oë kyk en genade voel soos net U kan gee.
Amen