Sy tyd is perfek - ♡
"Have a brave, bold and confident faith in God"
Het jy al ooit gaan na dink oor wat dit beteken om vergenoeg (content) te wees met jou huidiglike omstandighede? Wat dit beteken as ons in Filippense 4 lees: "Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God".
Ek het maande terug enige iets op papier neergeskryf vir Mooiste Vrou blog, nie omdat ek nie wou of die tyd gehad het nie. Die innerlike konflik wat ek beleef het as gevolg van die feit dat ek nie my eie omstandighede kon verstaan nie was grootliks die oorsaak dat ek nie 'n enkele woord kon neerskryf wat sin sou maak of wat van waarde sou wees vir myself of iemand anders nie. Maar soos ons altyd leer weet ons elke padjie, elke draai, elke situasie en seisoen word gebruik om ons te leer om geloof in Hom te hê. Met dit gesê weet ek dat hierdie seisoen waarin ek myself bevind of gevind het daar is (was) om sin te maak van alles wat daar daagliks op my pad gesit word. Fillipense 4 was heel moontlik die begin punt vir my om op 'n baie klein skaal te verstaan wat dit beteken om tevrede, vergenoeg of gelukkig te wees met my huidiglike omstandighede.
Dit is so moeilik om te aanvaar of te verstaan wat ons huidiglike omstandighede vir ons beteken of bied. Wanneer die toekoms duister is en ons planne, ons idees en ons drome val nie in plek nie veroorsaak dit stress, frustrasie, moegheid en sommer net 'n demper op ons gemoed. Ek het presies twee maande terug myself op hierdie plek bevind, soos nog nooit van tevore nie. Daar was soveel faktore, omstandighede en mense wat my mens-wees negatief beinvloed het.
Maar ek was baie vinnig daarvan bewus gemaak dat ons omstandighede, ander mense en eksterne faktore nie is wat ons mens-wees definieer of bepaal nie. Ek het vinnig besef hoe kleinlik en ongelowig ek eintlik was (is) op daardie gegewe oomblik van my lewe.
God se tyd is die regte tyd, nie myne nie. God sal en het nog altyd voorsien op Sy tyd. Dit is ek wat moes leer in die laaste twee maande. Ek moes leer om soos Paulus vergenoeg te wees met my huidiglike omstandighede en te glo en hoop in die plan wat God vir my toekoms het. Ek moes leer om my angs, stres en frustrasies daagliks met God te deel en te weet sy tyd is perfek. Ek moes leer om te besef God gebruik ander mense om ons oë oop te maak vir ons eie selfsug, omstandighede en ook ons sterk punte.
Ek het besef dat my grootste droom en wens is dat elkeen van ons ongeag die omstandighede elke sekonde ons vertroue in God sal plaas. In tye van oorvloed en in tye van droogte. Ek het geleer deur nuwe boeke in my stilte tyd te lees, dat as ons moet begin lewe met 'n "selfs as" tipe geloof.
Selfs as ek nie kan swanger raak nie, sal ek op God vertrou.
Selfs as ek ongelukkig is met my huidiglike omstandighede, sal ek op God vertrou.
Selfs as ek onsuksesvol was in daardie belangrike vergadering , sal ek op God vertrou.
Selfs as ek op die punt is van uitbrand, sal ek op God vertrou.
Selfs as ek siek word, sal ek op God vertrou.
Dit het my geleer dat ons tevrede kan wees met ons omstandighede al is dit nie deel van ons planne of ons eie wil nie, want God se tyd en God se wil is al wat saak maak.
Hy wag geduldig, liefdevol en konstant vir ons sodat ons vergenoeg kan wees met ons omstandighede sodat Hy sy plan kan uitvoer, en sodat ons ten volle in Sy wil kan wandel. God wil deur ons werk, Hy wil ons elke dag seën en ons deel maak van Sy plan. Dis ons wat moet leer om Sy genade, liefde en planne te vertrou al verstaan ons nie altyd die nou en hier nie.
Vertrou op God met jou hele hart. Hou op glo wat die wêreld vir ons sê en begin vertrou wat Hy vir jou lewe wil hê. Eer Hom in elke situasie wat jy tans beleef. En maak seker dat jy lief is vir God en nie net hom nodig het wanneer dit jou pas nie.
Liefde Charne - ♡