To-don’t lysie.
Het jy al ooit gewonder hoekom God vêr voel, mooiste vrou ? Kom ons wees nou maar eerlik – dis omdat jy te vêr vooruit hardloop ! Om heeltyd een stappie voor te wees en om heeltyd daardie “ek moet besig bly” gevoel te hê mag soms vir ons ‘n coping mechanism wees, maar te vêr is te vêr.
Ons kan onsself nie met “besig bly” toegooi en dan wonder waar God is nie. Hoekom wil jy heeltyd besig bly, mooiste vrou ? Hoekom wil jy heeltyd mense om jou hê en hoekom moet jou selfoon heeltyd in jou broeksak wees ?
Ek is iemand wat mal is oor musiek en wanneer my oë in die oggende oopgaan, word my Spotify gewoonlik saam wakker. Tot my onsteltenis besef ek nou die dag ek sukkel om God se “goeiemôre” te hoor wanneer ek myself onmiddelik omring met aardse klanke. Dieselfde geld vir my selfoon en my oggendroetine van boodskappe antwoord en opvang met die nuutste sosiale media tendense. Ek het dan nog nie eers die son se loer deur my kamervenster gegroet nie.
Na middagete voel ek gewoonlik asof my oggend nogsteeds te stil en rustig was en krap ek gewoonlik een of ander onnodige takie uit om myself mee besig te hou. Só besig dat ek aan die einde van die week ‘n hele lys verskonings het vir waarom ek nie bybelstudie kon doen of koffie saam met God kon drink nie ... en voel ek só sleg omdat ek nie tyd maak vir die dinge en die mense wat regtig saak maak nie.
Net omdat almal besig is beteken nie jy hoef ook te wees nie, liewe vrou. Raak gewoond aan ‘n stil oggend sonder musiek. Raak gewoond aan ‘n middag alleen in die tuin en ‘n koue koppie koffie. Raak gewoond aan weird-wees ! Want die normale besige lewe werk nie noodwendig vir almal van ons nie.
“Being still won’t stop the world from chaos, but it will stop the chaos from ruling our lives” ... dis tyd vir niks-doen en gelukkig wees met eenvoud. Jy hoef nie elke dag sukses te behaal, die hardste te lag of die meeste take af te handel nie. Jy hoef nie elke dag ‘n to-do lysie te hê nie en as jy hom het hoef jy hom ook nie binne die eerste uur te voltooi nie.
Begin met jou to-don’t lysie, mooiste vrou.
Moenie te vêr vooruit hardloop nie.
Moenie God se “goeiemôre” mis nie.
Moenie jou koffie opdrink voordat hy koud word nie.
En moenie tyd jou vyand maak nie.
Johané Snyders