TOEVAL
Deur Jani Marais
Toeval, toevallig, perongeluk of eintlik aspris?
Ek was onlangs in 'n intieme gesprek oor toeval wat my alles wat in hierdie lewe gebeur laat
bevraagteken het. Glo jy in toeval, of glo jy nie in toeval nie? Dit het my gepla my tot in my hart
in, want wat is toeval nou eintlik?
Google sê dat toeval 'n merkwaardige instemming van gebeure of omstandighede is
sonder 'n duidelike oorsaaklike verband, met ander woorde goed gebeur soos dit gebeur
want mense is in en op plekke vir geen rede anders as smaak, voorkeur en
omstandighede nie. Hierdie warboel van 'n situasie laat my besef dat selfs as ek sê ek glo nie
in toeval nie, ek wel in dit glo, want ek glo dat goed wat spontaan gebeur 'n doel het en gebeur
vir ' rede; EN as ek sê dat ek wel in toeval glo, sê ek presies dieselfde as wat ek sou sê as ek
nie in dit glo nie, WANT goed wat toevallig gebeur en ons lewens 'n beter plek maak, moes ook
iewers vandaan kom, vanuit 'n plek wat net die beste vir jou wil hê.
Na baie dink en kopkrap, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat ek wel nie in dit glo nie, deur
in dit te glo. Ek weet hierdie maak mens baie deurmekaar, maar hoor my uit: Gestel my
lewensdoel is om mense aan te raak met my woorde, ek wil graag genesende stukke skryf wat
wêreldwyd 'n impak sal maak. Ek gaan eet een aand saam 'n vriend uit, daar ontmoet ek
'toevallig'; een van sy vriende en die is 'toevallig'; 'n uitgewer. Ek vertel hom van my droom en hy
besluit net daar om die stukke wat ek skryf te publiseer, verniet, want hy glo in my droom en hy
wil ook 'n verskil maak, al is dit net deur my te help. Skielik kry toeval dan 'n heel ander
betekenis, want hierdie uitgewer was lus vir hierdie spesifieke restaurant se spesifieke ribbetjies
en daar vind ons mekaar. Hy maak my droom waar op 'n "random"; Dinsdagmiddag iewers in
Bloemfontein. My brein kan dit nie begryp nie, want was dit nou toevallig of was dit beplan?
Was hy regtig vanuit homself lus vir hierdie ribbetjies of het "iets"; hom daarvoor lus gemaak?
Werk alles in die heelal saam? Is daar iewers in die geestesdimensie iets aan die gang waarvan
ons nie bewus is nie, of is my God net so almagtig om selfs diegene wat nie eens in Sy
bestaan glo te lei en te oortuig om die wat wel in Hom glo se drome (wat Hy in hulle harte
geplaas het) te bewaarheid?
Ek besluit op al die opsies. Die opsie waar God gelyk is aan toeval, waar toeval gelyk is aan
aspris en die opsie waar alles in die heelal saam werk. Ek besluit om te glo dat God se vinger
op my pols is, ek besluit om te glo dat alles saam werk sodat ons as mense (Christen of nie) die
wêreld vir mekaar 'n beter plek kan maak.
Na al hierdie informasie gaan staan ek op die Woord en ek val terug op Handelinge 17:26 - and
He determined the times set for them and the exact places where they should live. Ek kies
om te glo dat jy is waar jy is, want God het dit presies so beplan. Ja, ons as mense maak foute
of keuses wat ons vir 'n oomblik op grondpaaie laat ry. Uit onkunde of ongehoorsaamheid neem
ons besluite wat ons vat op "detours", maar ons moet glo dat God daar ook is en dat Sy "toeval"; ons volg, selfs op die paaie wat ons nie self gekies het nie, die paaie waarop ander se besluite
waaroor ons geen beheer het nie, ons neem. Want as Sy toeval nie selfs op die "detours"; is nie,
hoe sal ons ooit weer op die regte, bestemde, beplande pad kom, die een wat Hy al vir jou
beplan het toe jy nog bloot'n gedagte was.
Jy lees hierdie ook nie toevallig nie, daar is 'n rede, altyd 'n rede, al is dit bloot net om te onthou
dat jy ’n doel het en ook deel is van ’n groter prentjie.