Twee is beter as Een- ♡
“Twee is beter as een.
Saam bereik hulle meer in hulle werk.
As een mens val, kan sy vriend hom ophelp.
Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom te help nie”
In die laaste jaar het ek werklik besef hoe belangrik gesonde, eerlike en opregte verhoudings is. Ek het ook besef waarom daar in Prediker 4:9-10 geskryf staan twee is beter as een. En hoe ons nie gemaak is om enigsins deur die lewe te gaan op ons eie nie.
Ek onthou so goed toe ek op universiteit en skool was, was die belangrikste ding vir my die aantal vriende wat gehad het. Ongeag die kwaliteit van verhoudings, die getal was meer werd as die waarde wat ek daaruit kon kry. Een ding wat ek wel gou besef het was al het ek volgens my standaarde “baie” vriende gehad was ek soveel keer wanneer ek ander die meeste nodig gehad het, alleen. Ek het baie vinnig besef dat daar ‘n groot verskil is tussen “baie” vriende of verhoudings en “ware” vriende en verhoudings.
Die alom bekende sê ding “die lewe is te kort” is iets wat ek daagliks myself aan herinner wanneer dit by verhoudings met ander mense kom. Die lewe gaan oor verhoudings. In alles wat ons doen en alles wat ons aanpak, het ons ander mense nodig om ons te help groei. Ons het ander nodig om ons te help groei sodat ons die beste weergawe van onsself kan wees. Maar ons het ook ander mense nodig om te kan lief hê soos wat God dit vir ons beplan het. Ons moet verhoudings bou sodat ons ander op ‘n onvoorwaardelike en onselfsugtige manier kan lief hê.
Saam met dit gesê het ons verhoudings nodig met mense wat nie gaan deel vorm van jou “baie” vriende of verhoudings status nie maar eerder jou “ware” vriende of verhoudings seëninge. Hoe ouer ek geword het, het ek die volgende belangrike vraag begin vra: “Wie kyk uit vir jou, wie gaan jou bystaan as dit baie swaar gaan en wie gaan jou help as jy hulle 3 uur die oggend bel?. Dit het my opnuut laat besef dat ek eerder my energie en tyd wil spandeer aan die verhoudings en mense wie gaan uitkyk vir my wanneer dit nodig is, maar ook omdat ek vir hulle belangrik en spesiaal is.
Ons kort mense in ons lewens wat ons gaan verdedig wanneer dit nodig is, ons sal beskerm en opstaan vir jou, jou verantwoordelik gaan hou vir jou dade en op die regte pad gaan hou. Maar ons het ook mense nodig wat jou gaan waarsku wanneer jy verkeerde keuses in die lewe gaan maak.
Die vraag wat jy dalk vra is, hoekom het ek gekies om die versie “Twee is beter as een” te gebruik as die hoof konsep van die stukkie vandag? Wel heel eerste is ons nie gemaak om alleen deur die lewe te gaan nie. Ons het ‘n ander helfde nodig maar ons het ook verhoudings nodig met vriendinne en vriende om soos ek vroeër geskryf het ons te help groei in die lewe. Maar die gedeelte wat vir my uitstaan is “As een mens val, kan sy vriend hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom te help nie”
Onvoorwaardelike en onselfsugtige liefde en hulp bring die beste in ander uit. Wanneer ons vriendelik en onbaatsugtig is teenoor ander mense, het ons die vermoë om vir hulle die tipe liefde te wys en te gee wat hulle verdien. God het vir ons die geleentheid gegee om ander lief te hê op so manier dat die fokus moet weg draai van ons eie behoeftes af en eerder te fokus op die mense naaste aan jou sin.
Fokus daarop om lief te wees vir die mense wie deel is van jou “ware” verhoudings seëninge. Maak tyd vir jou hartsmense sodat jy nie nooit hoef te sê “die lewe was te kort nie”.
Wees bereid om elke dag op ‘n dieper en onbaatsugtige manier lief te wees vir ander.
- Liefde Charné ♡
