Vandat ek ma is drink ek wyn
deur Zandré Kotzé
Vandat ek ma is drink ek wyn. There, I said it! Die mense wat my ken weet ek was nog nooit ‘n groot alkohol-liefhebber nie. Saam ‘n vriendin geniet ek ‘n gin so hier en daar, maar verder is ek ‘n Coke-Zero tiepe, die “boring” tiepe jy weet. Maar vandat ek ‘n ma is, hmm geniet ek ‘n glasie vonkelwyn in my bad. Darem nie elke aand nie, nie eers elke tweede aand nie. Net wanneer ek regtig voel ek is op “borderline” van mal raak.
Voel ek skuldig? No ways… die bietjie wat ek in neem in drie maande se tyd kan nie eers my voëltjie-bad in die tuin vol maak nie! Geniet ek dit? Oh ja, vir daardie oomblik verbeel ek my ek is een of ander ryk tannie wat die dag afsluit met franse sjampanje, ‘n borrelbad en ‘n King size bed wat vir my lê en loer. Met elke slukkie blaas ek stoom af. Raak die geraas in my ore stiller en my kop voel minder mal. Dan klim ek uit, trek myself aan en dan tref die werklikheid van ma-wees hier aan my been. “Mamma, mamma!”
Ek tel dan my seuntjie op met ope arms en ‘n vol-hart. ‘n Kop wat weer minder weeg en krag vir ons aand-roetine. Een glasie vonkelwyn het die ding gedoen. Vir jou mag dit dalk twee glasies wees, of selfs vier. Solank ons dit nou net nie oordoen nie nê. Drank moet verantwoordelik gebruik word, veral as jy ‘n ma is. (Hier kom my pliggie-streke nou weer uit.) Maar nee regtig, ek dink ons mammas is superheroes, ons ore kan nogal baie geraas hanteer, ons lywe baie optel, buk, klim en klouter, ons koppe kan dink, baie dink, oordink ook ja! Net so voor breekpunt moet jy jouself net gou ‘n kansie gun om te herlaai. Hetsy dit nou ‘n glasie vonkelwyn is, ‘n ekstra-lang piepie agter ‘n geslote deur, stappie om die blok of jou “beursie in die kar gaan soek.” Jy het dit nodig!
Ons mammas probeer elke dag superheroes wees, maar selfs superheroes het ‘n blaaskansie nodig. Hulle kan nie elke dag 24/7 teen monsters baklei nie. Iewers moet hulle “superhero suit” gewas word. You catch my drift…
Ons is so bang om te fail as moeders, bang om tyd vir jouself te vat, bang jy stel jouself bo jou kind. Ons is so bang dat ons nie goed genoeg is nie. Ons sal onsself eerder laat uitbrand voor ons ‘n paar minute vir onsself steel. Ons sal eerder ons kinders vergil as ons mans vra vir hulp. Hoekom? Want ons dink dis wat die “society” van ons verwag. Ons dink mammas MOET maar net.
Die waarheid is, as jou battery nie 100% vol gelaai is nie, gaan jou battery halfpad vrek en jy gaan nie die mamma kan wees wie jy wil en kan wees nie. Ons kan nie vir iemand anders ‘n steunpilaar wees, of in die geval, vir jou kind ‘n ouer wees as jyself nie ten volle present is nie. Jy as individueel en as vrou moet eers jouself ken, jou boundaries ken. Gemaklik wees met jouself, gelukkig wees met jouself. Dis dan wanneer jy vir iemand anders ‘n mamma kan wees. En dan beteken dit jy moet jouself so goed ken om te weet wanneer jy naby aan groen-dakkies se deur staan. Jy moet weet en kan erken jy het hulp nodig. Jy moet dan nie skaam wees om op iemand se knoppie te druk nie. Moenie skaam wees om jou glasie vol te maak en in die bad te gaan klim nie. Moenie sleg voel om vir 5 minute langer op die toilet te sit nie. (Let wel pappas, ons weet julle doen dit elk geval!)
Doen wat ook al jy moet om die beste jy te wees, om die beste mamma te wees. Moenie skuldig voel om vir jouself tyd te maak nie. Die wyn is egter ook maar net ‘n manier waarop jy vir jouself ‘n paar minute vat om asem te skep. En soms om so bietjie ons sorge te laat verdwyn ook! (Moenie hierdie vir jou ma sê nie)
Ma wees is moeilik, maar ma wees is magical…
