Vat vir jou stukkies geluk vir die lang pad in ‘n take-away boksie saam.”
Aan die begin van ‘n nuwe jaar het ons uit ouder-gewoonte ‘n elle-lange lys van ‘nuwe jaar, nuwe ek’ voornemens. Vir party mense is dit ‘n wonderlike manier om doelwitte te stel, vir ander is dit eintlik net ‘n teleurstelling wat wag om te gebeur.
Net omdat dit ‘n nuwe jaar is, beteken nie die wêreld vereis nou skielik ‘n ‘nuwe jy’ ook nie. Ek dink die weergawe van onsself soos ons vandag is, is meer as genoeg. Inteendeel, dink ek hierdie weergawe verdien ‘n massiewe celebration! Hierdie weergawe is die boek van ‘n vrou wat hoofstukke van geluk, hoofstukke van hartseer, hoofstukke van verdriet, opgewondheid, onsekerheid, contentness en soveel meer moes skryf om tot op hierdie bladsy te kom, en haar storie is nog vêr van klaar!
Hoe bevoorreg is ons, dat ons tot op hede, deur die storie van ons lewe kon wandel met die Hoof Redakteur aan die skryf. Ongeag hoe ons voel, is geen detail uitgelaat of onnodig ingeskryf nie. Die trane het ons geleer om die skaterlag te waardeer. ‘n Yskoue winter het ons geleer om te hoop vir ‘n kleurvolle somer, gelukkig het ons Skrywer het ‘n hele kaleidoskoop van kleure, ons moet net kies om nie kleurblind te wees nie. Teëspoed het ons geleer om op ons knieë te bly, en voorspoed het ons geleer om ons tafels, eerder as ons mure hoër te bou, want uiteindelik probeer ons elkeen hierdie waansinnige kunswerk tot die beste van ons vermoeëns te (oor)leef. Geluk het ons geleer dat hartseer net tydelik is, en hartseer het ons geleer dat ons ook net mens is wat God so broodnodig het.
Ons hoofstukke word geskryf in ‘n kaleidoskoop van kleur, soos wanneer die blare in herfs daardie mooi burnt orange is net voordat die winter seisoene selfs die natuur beetkry. Die mensdom is nie veel anders nie. Ons voel ‘n herfs-seisoen aankom, wanneer ons begin besef dinge raak bietjie moeilik, maar ons het nog genoeg kleur om teen die koue te baklei. Dan kom winter, en los ons met ‘n beperkte hoeveelheid kleur, amper soos die vetkryt-houers in Spur. Werk is tough, jou huwelik voel of dit aan skerwe is, mamma is uitgeput en die amper-mamma is al moeg gebid, vriendinne is skaars en jy, wel op hierdie stadium herhinner jou debietorder jou wat jou naam is. Die lewe is ‘n sirkus, and it’s your monkeys, maar in hierdie seisoen is jy die nar. Maar nes die kinders in die Spur, kan ons kies om die kleur wat ons het te vat en verder in te kleur. Een kleur na die ander. Een voet voor die ander. Een of ander tyd gaan die res van die vetkryte weer hul verskyning maak. Of ‘n maatjie dit terug bring, en of ons Pa ‘n nuwe pakkie koop. We did it. Ons het nog ‘n winterseisoen oorleef.
Lente wink vir ons, want sy weet watter giggel-geel sonneblomme, skaterlag en samesyn die somer vir ons bring, toegedraai in ‘n groot strik vol absolute genade. Hierdie is die hoofstuk in ons storie waar ons weer opnuut begin glo, wanneer dinge voel of dit weer in ons guns draai, wanneer alles net werk en ons sonder om te huiwer kan sê ‘dit gaan goed’ wanneer jy ‘n ou kennis in die winkels raakloop.
Kan jy jouself indink om al hierdie lesse en seisoene uit te wis want die wêreld skree vir ‘n ‘nuwe jy’? Nee dankie. Ek moes myself verloor om myself weer te vind, die karakter wat my Skrywer in die eerste plek vir my toegeken het om eer te bring tot Sy groter verhaal. Ek moes leer dat iets wat aanvanklik vir my ‘n een-paragraaf les moes wees, ‘n drie-uur opstel uit ons Skrywer se pen was, want ons kyk nie na dieselfde horlosies nie. Ek moes leer dat ‘wag’ nie ‘nee’ beteken nie. En dat my lysie nie God se beste wil vir my is nie. Ek moes leer om in elke seisoen die eenvoud te soek, vas te vang en te koester, want geluk kan nie aan aardse dinge gekoppel word nie. Geluk kan nie aan mense gekoppel word nie. Ons elkeen stap ons eie pad. Ons kan nie ons pakkie geluk in iemand anders se hande plaas om daarmee hulle eie pad te stap nie. Inelkgeval dink ek nie God wil net vir ons ‘n pakkie geluk groot genoeg gun om te kan ronddra nie. Ek dink die geluk wat Hy gun, strek so groot soos ons eie hart. Hoe groter ons hart vir Jesus, hoe groter ons geluk.
Ek hoop jy kies om hierdie jaar gelukkig te wees. Dit is bietjie jou beurt, Mooiste Vrou.
‘n Hartsvriendin het gistraand gesê: “Ek weet nie van julle nie, maar hierdie is defintief my jaar, ek kan dit voel.Voel julle dit ook? Want ek voel dit!” Gelukkig. Eenvoudig. Content. Ek hoop elkeen van julle het so hype-girl vriendin. Een wat meer vir jou wil hê as van jou. Een wat saam bid, saam lag, saam laf is, saam stop vir roomys, saam wyn en koffie drink, saam huil, saam staan vir accountability, saam in mekaar glo, net saam wees.
Ek hoop ook dat jy in jou alleen-wees stukkies geluk soek in die eenvoud en dit veilig koester vir wanneer die winter-seisoene kom, en lente geduldig om die hoekie vir jou wag – jy moet net aanhou inkleur, aanhou skryf, aanhou probeer. Ek hoop ‘n sonneblom langs die N1 oppad Vrystaat toe maak jou gelukkig. Ek hoop jy sing jou hart uit op jou gunsteling liedjie elke keer wanneer jy die kans kry. Ek hoop draairoomyse maak jou gelukkig en dat die calories en carbs nie ‘n winter seisoen in jou lewe is nie. Ek hoop die trane van Sondag se preek kweek vreugde vir ‘n nuwe week. Ek hoop jy lewe lig hierdie jaar. Geen verwagtinge, slegs afwagting oor die verhaal waarmee ons Skrywer besig is. Alles hoef nie beheer te word nie, ons het ‘n Hoof Redakteur daarvoor. Ek hoop jy onthou die eenvoudige dinge hierdie jaar. Ek hoop jy pak dit in jou rugsak, en reis lig deur die jaar.
Ek hoop jy leer hierdie jaar dat om jou heel beste lewe te leef, niks lyk soos wat Instagram of die res van die wêreld vir jou skree nie. Jy is meer as genoeg. Jy het meer as genoeg. Ons Skrywer is nog lank nie klaar nie - geniet die reis, en vat vir jou stukkies geluk vir die lang pad in ‘n take-away boksie saam.
Soos in die woorde van Jo Black, “Jou storie is ‘n lied leer op die ritmes dans.”
Liedjies vir die week:
- Jo Black & Refentse: Rig jou oë op na die Berge
- For King & Country: Joy
- Katy Nicole: God is in this Story
Versies vir die Week:
“I pray that God, the source of hope, will fill you completely with joy and peace because you trust in Him. Then you will overflow with confident hope through the power of the Holy Spirit.”
Romans 15:13
“You will show me the way of life, granting me the joy of Your presence and the pleasures of living with You forever.”
Psalm 16:11
Baie liefde,
Rouxnette