Veilig in Sy arms - ♡
Waarna verwys of gryp ons in oomblikke van onsekerheid oor die toekoms, oor situasies wat buite ons beheer is en oor hoe ons sekere situasies gaan oorkom? Ons is somtyds so vasgevang in die nou van elke dag dat ons vergeet wat die ware liefde en omgee van God inhou. Hier moet ek bieg dat die “ons” dalk meer na “ek” verwys as enige iets anders.
Dit gebeur so vinnig dat my lewe gevul word met situasies wat ek nie kan beheer nie, dat my planne nie uitwerk soos ek wil he dit moet nie of dat my lewe gevul word met gebeurtenisse en oomblikke wat ek nie altyd verstaan nie. Ons is so oorweldig met realiteit, ons probeer self-sin maak van situasies wat buite ons beheer is en ons sukkel om vrede te maak met dít wat nie volgens ons beplanning verloop nie. ‘n Mens maak besluite, jou liggaam laat jou in die steek, jou skedule raak so vol dat as jy jouself weer kry hardloop jy rond in sirkels soos ‘n verlore skaap opsoek na iets wat nie bestaan nie.
Maar wat help dit om rond te hardloop sonder ‘n plan, sonder ondersteuning en sonder krag wat ons net op een plek kan ontvang. Met dit gesê moet ek met julle deel wat ek op ‘n daaglikse basis by my man leer. Hy stel vir my ‘n daaglikse voorbeeld van wat dit is om letterlik op jou knieë te wees voor God. Ek leer by hom dat ongeag die situasie, goed of sleg, moet God altyd eerste gestel word, want ons is op ons veiligste in God se arms. My man herhinner my daagliks daaraan dat maak nie saak hoe hard ons probeer om ons eie situasie en toekoms te bepaal nie, as dit nie in God se plan is nie gaan dit nie nou dadelik gebeur nie.
God is die enigste een wat die mag en krag het om ons situasie te verander mits ons saam werk en vertrou dat ons toekoms in Sy hande is. Wanneer ons situasie op die oomblik nie lyk soos ons dit vir onsself beplan het nie moet ons vertrou en weet dat God vir ons ‘n beter plan het. Ons verstaan net nie altyd wat dit moontlik kan wees nie.
Om ‘n lewe in geloof te leef is om die onbekende met passie en volharding aan te gryp. Maar om die onbekende na te jaag moet ons leer en verstaan dat slegs in God se arms is ons veilig. Ons gaan moet leer om op ons kniëe, deur gebed en geloof die onbekende, bekende en alles tussen in aan te pak. Gebed verander ons as mense, dit gee vir ons ‘n nuwe perspektief oor God se wil in ons lewens.
Wanneer ons God se wil vir ons lewens verstaan en besef hy wil net die beste vir elkeen van ons hê sal ons ook besef dat ons daagliks op gesëende grond loop, veilig in Sy arms.
- Liefde Charné ♡