Verdien jy wat jy kry?
Deur Susan Westraadt
Mooiste vrou, voel jy vandag ‘n bietjie platgeslaan deur die lewe? Oorwin? Skaam? Skuldig? Verniel? Verwaarloos? Uitgelewer aan omstandighede? Vasgeketting deur iets in jou verlede óf jou hede?
Voel jy dat jy nie verdíén wat jy kry nie of dat jy nie krý wat jy verdien nie?
Vandag wil ek hê jy moet weet jy is meer as jou foute. Jy is meer as jou seer. Jy is meer as wat met jou gebeur het. Jy is meer as wat jy het. Jy is meer as hoe jy lyk. Jy is meer as die nommer op die skaal en die hoeveelheid plooie in die spiel. Jy is meer as wat ander sê. Jy is meer as hoe hulle jou behandel. Jy is sovéél meer as wat jy sien en van jouself glo.
Jy is uniek en anders en perfek geskape vir God se doel en jou roeping hier op aarde. Jy is nie minder waardig of minder werd nie. Ek wil hê jy moet dit glo.
Jou waarde word nie minder omdat ander nie jou waarde begryp nie. En jou waarde word nie minder a.g.v n verkeerde besluit wat jy gemaak het nie.
Dikwels hou ons vas aan ons tekortkominge in plaas daarvan om dit vir Jesus te gee sodat Hy dit tot ons voordeel kan gebruik.
Dikwels kruisig ons onsself vir dit waarvoor Jesus reeds aan die kruis gesterf het.
Ons almal maak foute want ons almal is mense.
Ons sukkel om onsself te vergewe en glo dat ons swaarkry verdien.
Wat ons eintlik verdien is om vry te wees van skuld gevoelens. Vry te wees van ander se gebrek om lief te hê. Vry te wees van opinies.
Mooistevrou, ek wil jou aanmoedig om reg te maak waar jy verbrou het met mense. Dit beteken nie noodwendig dat húlle gereed is om jóú te vergewe nie. Dit beteken dat jý gereed is om jóúsélf te vergewe en daarvan te vergeet. En jy mag
Dan wil ek jou aanmoedig om reg te maak met jóúself! In hierdie tyd van swaarkry het jy gegroei. Jy is nie wie jy was toe jy n verkeerde besluit geneem het nie. Jy is wyser en kan gesonde grense stel. Jy kan niks doen aan die verlede nie, maar elke dag is ’n geleentheid om beter te wees as gister. Jy mag beter vir jouself kies, want wat jy kíés is wat jý kry.
As jy kies om soos ’n kluisenaar te lewe, gaan jy eensaamheid kry.
As jy kies om onoordeelkundig met geld te werk, gaan jy armoede kry.
As jy kies om in ’n ongesonde verhouding te bly, gaan jy hartseer kry.
As jy kies om uit te reik na mense, gaan jy vriende kry.
As jy kies om by jou begroting te hou en aan innoverende idees dink om ekstra inkomste te genereer, gaan jy gemoedsrus en finansiële vryheid kry.
As jy kies om weg te stap van iemand wat jou fisies of emosioneel breek, is jy een stap nader aan gesond word en op die regte tyd jou lewensmaat te kry.
Jou foute of die manier hoe iemand jou behandel, verander nie die feit dat daar goedheid in jou hart lê nie.
Jy ís goeie grond en het merkwaardige potensiaal. Die wie in jou saai sál n goeie oes hê. Die wie in jou belê sál ‘n bo gemiddelde opbrengs ontvang. Die wie met jou “partner”, sál geseënd wees en in jou sukses deel. Daar waar jy betrokke is, sal dit goedgaan. Jy voeg waarde toe en maak ‘n verskil.
Ek hoop dat jy vandag uit die stof en roet sal opstaan. Dat jy die puin van jou gebroke lewe sal afskud en van niks af jouself sal oor bou met beter keuses en gesonde denke. Dat jy vir jouself ‘n beter toekoms sal kies en weet jy verdien dit.
Jy verdien die goed en die mooi van die lewe.
Jy verdien om die kettings wat jou wil terug hou, los te maak.
Jy verdien om vorentoe te beweeg - sonder al die bagasie van die verlede.
Jy verdien passie en toeweiding.
Jy verdien om met jou mond en jou oë te lag. Uit jou maag. Tot die trane loop.
Jy verdien om lief gehê te word. Met ‘n liefde só diep en só bevrydend dat al jou behoeftes tot vervulling kom.
Jy verdien om lief gehê te word deur iemand wat jou vlerke gee, en dit nie kort knip nie.
Jy verdien iemand wat na jou kyk asof niks anders in die wêreld saak maak nie en asof tyd gaan stil staan.
Jy verdien om lief gehê te word deur iemand wat jou op die hande deur die lewe dra, die beste vir jou gun en seker maak dat jy dit kry.
Jy verdien om lief gehê te word deur iemand wat die standaard só hoog stel en jou menswees so hoog ag, dat jy nooit weer met 2de beste tevrede sal kan wees nie.
Mooistevrou, as hierdie soort mense in jou lewe ontbreek, hoekom kan jý nie daardie iemand vir jouself wees nie?
As jy jouself nie waardig ag en kan lief hê nie, hoe verwag jy dat ander dit moet doen?
Wees goed vir jouself. Werk sag met jouself. Hê geduld met jouself. You are beautifully and wonderfully made.’ Glo dit!
Ek hoop dat die seer van gister en vandag nie die storielyn van jou lewe sal word nie. Dat dit jou nie sal definieer nie. Ek hoop dat dit slegs ’n gebeurtenis in die tydlyn van jou lewe sal wees en dat jy dit sal ontgroei. Ek hoop dat jy baie lesse langs die pad sal leer en by God sal luister waar jou volgende afdraai is. Ek hoop dat daar baie hoogtepunte is wat die storie van jou lewe kleur gee. Ek hoop dat jou storie vol karaktervolle mense is wat vir jou goed is en jou lewe opwindend maak. En ek hoop dat wanneer jy jou kop neerlê, jy tevrede en trots sal wees met die storie van jou lewe wat oor geslagte heen vertel sal word. Ek hoop dat jy sal verdien wat jy kry en kry wat jy verdien.