top of page

Vergewe, Maar Hoe Vergeet Ek?

‘Ek sal hom vergewe, maar ek sal nooit kan vergeet wat hy aan my gedoen het nie.’ Hoeveel van ons het nie al hierdie stelling gebruik nie: vergeet en vergewe. So word daar mos maklik gesê.


Vergifnis op sy eie is moeilik, maar om dan nog te vergeet ook. Dit voel soos ‘n onmoontlike taak. Maar die vraag is, is dit ooit moontlik om werklik te vergeet? Dis nie asof daar ‘n towerstaffie gewaai word en die gebeurtenisse is uit jou geheue gewis nie. Dit sal altyd deel wees van jou verlede en het heel moontlik ‘n impak gehad op jou lewe en jou menswees. Die feit kan nie geignoreer word nie.


Maar hoe lyk vergewe en vergeet dan?

Ek dink daar is ‘n miskonsepsie oor hierdie stelling. Dis belangrik om eerstens te verstaan dat vergifnis is nie ‘n gevoel nie. Sodra jy besluit het om iemand te vergewe, gaan jy nie net oornag beter voel en nooit weer kwaad of teleurgesteld in die persoon wees nie. En dis juis waar vergeet inkom. Dat vergifnis ‘n keuse is. Jy besluit om die persoon te vergewe. Om te vergeet wat hy of sy gedoen het.


Maar hoe vergeet ek?


Verbeel jou jy gaan winkels toe om ‘n paar goedjies te koop. Jy kom by die huis, pak alles uit en besef jy het die brood vergeet. Jy vergeet nie totaal en al van die brood en gaan aan met jou lewe asof die brood nooit nodig was nie. In die winkel het jy net nie aan die brood gedink nie tot en met jy by die huis gekom het nie.

Hierdie is die verband tussen vergifnis en vergeet. Om te vergewe en vergeet beteken jy dink nie meer die heeltyd aan wat die persoon gedoen het nie. Daardie toneelspelle wat ons tog so graag oor en oor in ons koppe laat afspeel. Sodra die gedagtes opkom, besluit jy om op iets anders te fokus. Jy praat nie meer oor wat gebeur het met ander mense of skinder oor daardie persoon nie. Alles rondom wat gebeur het, lê jy neer en vergeet daarvan. Nie asof dit nooit gebeur het nie, maar jy dink nie daaraan of tob daaroor nie.


God kan nie vergeet nie. So Hy sal nooit van ons iets vra wat Hy self nie kan doen nie. Hy vergewe ons sondes en dan dink Hy net nie weer daaraan nie. Hebreërs 10:17 sê: “Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.” Hy verwyder dit ver van ons af. Soos in Psalm 103:12: “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.”


Ek sê glad nie dis maklik nie. Maar ek kan jou belowe dat mettertyd gaan jy nie meer jouself hoef te dwing om aan iets anders te dink nie. Jy gaan net eendag besef dis iets wat net nie meer jou gedagtes beheer nie.


Moenie te hard wees op jouself nie, Mooistevrou, maar doen tog jouself die guns en begin een dag op ‘n slag jou gedagtes op mooier dinge fokus. Dis hierin waar jou vrede en vryheid lê.


940 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page