top of page

Vergifnis

Hoe lyk dit nou eintlik as mens iemand vergewe ? Is dit so eenvoudig soos om te sê , “Ek vergewe jou? “Vergewe? Hoe kan ek haar vergewe na wat sy aan my gedoen het? Sy het my seer gemaak en soveel skade aangerig. Na wat sy aan my gedoen het is daar nie ’n manier wat ek haar sal vergewe nie."


As jy al ooit daardie woorde gesê het, weet net jy is nie alleen nie. Jy wil dalk daardie persoon net so seer maak soos hulle jou seergemaak het of bid dat geregtigheid sal geskied. Jy voel dalk bitter, kwaad, teleurgesteld, hartseer en vra die volgende, " Hoe kan ek die persoon vergewe na alles wat hulle aan my gedoen het? Jy sal nie verstaan nie, jy weet nie hoe dit voel nie, dit is onvergeeflik en ek kan nie saam met dit leef nie."


Die lewe deel harde klappe uit: hartseer,verlies, verwerping, siekte en die dood. Niemand kan dit ontduik nie. Almal het letsels en alhoewel ons almal dieselfde ervarings beleef,is elke mens se seer uniek en persoonlik. Baie mense loop met ’n masker rond om hulle seerkry weg te steek maar pyn en seerkry wat nie behandel word nie verander in ’n sweer. Dalk is vergifnis soos om ’n ui te skil. Jy is konstant besig om te genees soos jy laag vir laag skil. Vergifnis gebeur nie oornag nie.


Dalk lyk jy aan die buitekant gesond en gelukkig maar binne jou bloei jy met angs,woede,hartseer,emosionele afgestomptheid en bitterheid. Ek is een van daardie mense wat my emosies baie onderdruk en ignoreer maar dit is glad nie gesond nie. Hoe meer ek begin werk het daaraan, hoe meer het ek gevoel ek wil net vergeet daarvan maar die realiteit is, jy moet jou seerkry in die gesig staar en daardeur werk. Jy moet jouself toe laat om te voel. Hou op vlug na verslawing en kyk die realiteit in die oë.


“Ja maar jy sal nie verstaan nie. Ek kan nie net vergeet en aanbeweeg nie.”Kom ek wees eerlik, niemand se lewe gaan tot stilstand kom omdat jy sukkel daarmee nie. Jy straf net jouself om daarmee te lewe. Die persoon wat jou seer gemaak het staan defnitief nie stil nie en dink sekerlik nie eers aan wat hulle aan jou gedoen het nie so hoekom hak jy daar vas?


Daar is ’n bekende sê ding, “Hurting people hurt people.” Romeine 12 vers 19 sê dit so mooi, “Moenie self wraak neem nie, geliefdes,maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: Dit is my reg om te straf. Ek sal vergeld sê die Here.”


Nou hoe moet ek vergewe? Vergifnis voel nie altyd soos ’n wen nie. Jy mag dalk voel as jy daardie persoon vergewe, dat hulle weg kom met wat hulle verkeerd gedoen het. Dit is nie waar nie. Jy kan gerus weet dat die Here jou hart ken en elke situasie sien. Hy weet hoe seer dit gemaak het en steeds seer maak. Jou vergifnis “dismiss”nie die persoon se verkeerde aksies nie. Die enigste manier hoe jy werklik iemand kan vergewe is as jy die Here vra om jou te help. As jy iemand vergewe vertou jy die Here om daardie persoon aanspreeklik te hou en dit maak jou vry van enige bitterheid. Jy hou net jouself gevange as jy nie kan vergewe nie. Vergifnis is nie maklik nie.


Deur iemand te vergewe, sit jy die oortreder en oortredings agter jou en dan kan jy finaal aangaan met jou lewe. As jy dit nie doen nie sal daardie bitterheid jou martel oor en oor. Niemand wil so lewe nie. Die Here wil definitief nie hê jy moet heeltyd ongelukkig en bitter wees nie.


So besluit vandag om te vergewe en vertrou dat die seer binne jou genees sal word.

Let Go and Let God.

177 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page