top of page

Verlies

Tans bevind ons onsself in ‘n moeilike tyd.Soveel mense verloor hulle geliefdes. Verlies is nie noodwendig net verlies aan die dood nie maar kan ook ’n verhouding,vriendskap en selfs ’n werk wees.

Verlies is iets wat ons almal in gemeen het met mekaar maar elke persoon ervaar dit anders.In my lewe het ek al mense verloor in verskeie forms maar my grootse verlies(e) was tussen December 2018 en Februarie 2019. Ek moes afskeid neem van twee mense aan die dood waarvan een my pa was en in dieselfde periode het my kêrel op daardie stadium opgebreek met my. Ja jy lees reg. Hulle sê slegte goed gebeur in drie.

Hoe ek daardie verlies of trauma kan beskryf is in een woord, leeg. Ek het absoluut leeg gevoel. Ek was kwaad, angstig, moeg, depressief ,fisies siek geraak en gesukkel om te fokus. My pa het lewer en pankreas kanker gehad. Hy het 2 maande na ons uitgevind het gesterf. Ek het gebid en die Here gevra om hom te vat dat hy nie meer so lei nie.


Om iemand te sien sterf a.g.v kanker is aaklig. Daai persoon kwyn letterlik weg voor jou, stukkie vir stukkie. Hulle word swak, kan nie meer loop nie,kry nagmerries, het geen eetlus nie, hulle liggaam word geel en later kan hulle nie meer praat nie. Ek moes my pa optel van die badkamer vloer want hy was te swak en kon nie self opstaan nadat hy geval het nie.My pa was ’n troste man so om hom so te gesien het was hartverskerend. Dit was te laat vir hom om te gaan vir bestraling, die kanker was reeds te ver. Aan die eenkant is ek dankbaar dat ek my pa kon groet maar aan die ander kant maak dit nie die verlies makliker nie maar ek troos myself daaraan dat ons nie altyd die geleentheid kry om te kan groet nie.Die verlies het my nie opslag getref nie , eers heelwat later toe alles begin bedaar het.


Verlies het nie ’n tydlyn nie. Verlies is eensaam. Verlies is persoonlik. Verlies verander jou. Verlies leer jou die belangrikheid van tyd. Verlies leer jou wie daar is vir jou.


Iets wat vir my spesiaal was aangaande my pa se dood was die feit dat hy nie kon praat die laaste week voor hy gesterf het nie, maar toe die Pastoor hom kom sien en hom gevra het , “Is jou saak reg met die Here ?” het hy duidelik geantwoord, “ja” en kon met die pastoor ’n gesprek voer. Iets wat vir my hartseer is , is die feit dat my pa my nooit in die kerk sal kan inloop of sy kleinkinders sal kan ontmoet nie of met hulle sal kan speel nie.

Ek dink ’n vraag waarmee ons almal al gestruikel het is, hoekom Here? Hoekom gebeur al hierdie slegte dinge ? Hoekom moes ek soveel mense verloor? Waar is die Here tydens hierdie tye ?Hoe gaan ek hierdeur kom?Ek het lank gaan navorsing doen daaroor en kry nie ’n direkte antwoord daarop nie maar het wel besef ons lewe in ’n gebroke wêreld. Jy kan besluit of dit jou bitter gaan maak en jy kwaad gaan bly of jy kan kies om die Here te vertrou. 1 Petrus 5 vers 10 se dit vir my so mooi: “God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het , self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.”

Verlies het my geleer om te vergewe. Verlies het my dankbaarheid geleer. Dit het my geleer om tyd en mense nie van selfsprekend te aanvaar nie. Jy is nie alleen nie al voel jy so. Die lewe gaan aan maar jy kan ook nie jou genesing aanjaag nie. Vat jou tyd, huil en skreeu soveel as wat jy wil. Verlies verander jou hele uitkyk oor die lewe. As iemand jou verlaat terwyl jy deur ’n traumatiese periode gaan, sal daardie persoon in ander situasies jou ook waarskynlik teleurstel, so wees lief vir die mense wie vir jou lief is. Moenie jou tyd mors nie, dit is kosbaar. Bid elke dag vir krag van Bo. Die Here sal jou vertroos al voel dit nie dadelik so nie.Alles gebeur regtig vir ’n rede al verstaan ons dit nie nou nie.


Dit is moeilik om positief te wees veral die tyd waarin ons, onself nou bevind maar die volgende vers herinner my dat ons nie moet opgee nie en die goeie moet raak sien in elke dag.Romeine 8 vers 18: “ Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.”


384 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page