top of page

Verlore Paaie en Vreemde Plekke


Daar is niks wat jou so opnuut laat kyk na die liefde en genade van die Here soos die dag wat jy self ‘n ouer word nie.


Vandat my seuntjie so paar maande terug leer loop het, dink hy mos hy is katjie van die baan wanneer hy Sondaeoggende voor diens die hele kerk op en af kan deurloop. Vreemd hoe ek by die huis skaars twee treë mag gee dan huil hy agter my aan, maar hier in die grote kerk steur hy hom nie aan my nie en vat sommer self die pad. Ek is natuurlik agterna en volg hom geduldig waar hy die opdraende van die gange versigtig uitklim en is daar om te keer wanneer hy die afdraende te vinnig aanpak en hy dalk kop-onderste -bo by die gangetjie gaan afrol. En ek is dadelik daar om hom op te tel as hy dalk geval het.


Laas Sondag terwyl ek hom so volg en hy met die gang afwaarts sy hand na myne toe uitsteek, dink ek hoe dit nie ook ons met die Here is nie. Somtyds in ons lewe vind ons onsself op paaie wat die Here nie noodwendig vir ons uitgekies het nie. Daar is styltes om uit te klim, tye wat ons te vinnig afdraand beweeg en kere wat ons val. Dis in sulke tye wat ons baie maal dink ons is op ons eie. Dat ons weggedwaal het van die Here se plan vir ons lewe en dus weggedwaal het van God. Maar hoe verkeerd is ons nie in hierdie denke nie. Sê die Bybel nie juis ‘he left the 99 to find the 1’ (Matteus 18:12).


As mense dink ons mos soms ons weet beter of glo dat die pad wat ons volg, die Here se wil is. Net om op ‘n latere stadium te besef ons het die pad dalk so bietjie duister geraak. En dan wonder ons: ‘wat nou?’ en “waar is die Here nou?’. Die berusting is egter dat die Here ons nooit gelos het nie. Hy was altyd ‘n paar tree agter ons. Hy het gekeer wanneer Hy sien ons gaan dalk nou regtig in die moeilikheid kom. En hy tel ons op as ons langs die pad struikel en val. Sy oë het ons nog nooit in hierdie hele tyd verlaat nie, selfs nie toe ons oë van Hom af was nie.


Onlangs by die verjaarsdagpartytjie van ‘n niggie van my seuntjie, het hy vir ‘n oomblik tussen ‘n groepie mense in die middle beland en benoud het sy lippie sywarts getrek. Verward het hy rondgekyk, opsoek na sy plek van veiligheid. Waar ek eenkant op ‘n stoel gesit het, het ek heeltyd geweet waar hy is, het ek hom dopgehou en dadelik gesien toe hy verlore lyk. Ek het uitgeroep ‘mamma is hier’ en my hand na hom toe uitgereik, en toe ons oë ontmoet toe is hy weer oukei en het aangegaan om te speel.


Net so hou die Here ons dop en roep Hy in tye van benoudheid en onsekerheid uit “hier is Ek”. Hy belowe dat Hy ons nooit sal verlaat of in die steek laat nie (Hebreërs 13:5). Punt. Niks ‘maars’ of ‘asse’ nie. Nie Hy sal ons nooit verlaat solank as wat ons Hom nie verlaat nie. Of Hy sal ons nooit in die steek laat behalwe as ons nie gehoorsaam is nie. Ongeag wat ons doen of waar ons onsself bevind, Hy sal ons nooit verlaat of in die steek laat nie. Punt.

So as jy vandag voel dat jy het ‘n pad gekies wat weg van die Here is, of iewers opgeëindig en dat God nie van jou weet nie, wees nou verseker dat die Here is net daar by jou op hierdie oomblik. Sy oë was nog die heeltyd op jou. Hy het nog die hele tyd geweet waar jy is en wat jy doen. En as jy jou hand sal uitsteek, sal Hy daar wees om dit te vat.

102 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page