top of page

Verwagtinge - ♡

Soveel keer as ons na 'n nuwe geleentheid, ontmoeting of samekoms genooi word, word daar vir ons gesê: "Moenie te veel verwag nie want dan sal jy nie teleurgesteld word nie. Moenie te veel verwag nie want dalk is dit nie wat jy gedink het dit gaan wees nie."

'n Verwagting word gedefinieer as 'n sterk oortuiging dat iets in die toekoms sal gebeur. Dat as jy iets groot verwag, jy iets groot sal ontvang. Hoekom as die definisie vir ons so duidelike aanduiding gee dat as jy vir jouself verwagtinge skep dat daar wel iets groot sal gebeur, is ons bang om teleurgestel te word of om minder te ontvang as wat ons gedink het die situasie sou bied. Is dit omdat ons bang is dat die verwagting nie by ons planne of ideale prentjie gaan inpas nie? Of is dit dat ons vergeet het om ons geloof een te maak met dit wat God vir ons beplan en belowe het?

In my geval is opsie twee beslis vol waarheid. Wanneer ons verwagtinge begin skep vir ons toekoms raak ons somtyds vasgevang in die ideale werêld. En wanneer jou verwagting nie ooreenstem of realiseer soos dit in die ideale werêld lyk nie is daar onmiddelik 'n gesegte wat sê "jou verwagtinge was te hoog".

Maar wat as ons verwagtinge hoog is. Wat as dit groot en ideal is? Solank dit gevestig is in God se woord kan ons mos nie teleurstelling ervaar nie. Ja, ons gaan dalk nie ervaar wat ons ideal was nie maar ons gaan ervaar dit wat God se ideal vir ons lewens is.

Die term verwagting het in die laaste maand vir my 'n baie groot realiteit geword. 'n Realiteit omdat dit wat ek verwag het en dit wat in werklikheid bymekaar gekom het 'n nuwe betekenis vir my ten opsigte van die woord verwagting gegee het. Wanneer ons 'n nuwe hoofstuk aanpak in ons lewe, veral as ons uit 'n hoofstuk kom wat jou mens-wees negatief beïnvloed het kan ons verwagtinge, uitsig en hoop op iets beter kortsigtig wees.


Maar wanneer die pad wat ons in een hoofstuk stap geanker en gevestig is in God kan die realiteit wat in die volgende hoofstuk aan ons geopenbaar word net ons verwagtinge oorskry. Want as ons aan elke hoofstuk se verwagting begin dink as 'n deeltjie in God se legkaart vir ons lewe sal ons verstaan dat dit net 'n klein deel is van die groter plan wat Hy reeds voltooi het.


Groot verwagtinge gevul met hoop en genade ontvang deur Hom sal lei tot vervulling ongeag die uitkomste. Wat ook al jy verwag, jy moet dit tot stand bring. Jy moet daarvoor gaan! Jy moet dit verklaar en in die hande van God oorlaat.

My hoop vir elkeen van ons in die jaar is dat ons groot verwagtinge sal hê, maar sal weet dat ons verwagtinge nooit te groot kan wees as ons God se plan vertrou nie. Om groot verwagtinge te hê is nie om blind te wees vir die moontlike struikelblokke of negatiewe wat jy sal ervaar nie. Dit is beslis nie 'n afwesigheid van probleme nie. Dit is om na die groter prentjie uit God se perspektief te kyk ongeag jou struikelblokke. Ten spyte van jou probleme.


Mag ons groot verwagtinge hê in 2022.

Verwagtinge om te groei.

Verwagtinge op iets nuuts.

Verwagtinge vir geluk.

En verwagtinge op 'n lewe gevestig in God.

- Liefde Charne ♡

381 views1 comment

Related Posts

See All
bottom of page