Verwagtinge, die ewige vyand
Verwagtinge. In alles in die lewe skep ons verwagtinge, gebeur dit nie, dan is ons teleurgesteld, mismoedig, seer gemaak.
Die lewe skep daagliks by ons verwagtinge, wat ons natuurlik meer gedruk laat voel dat daardie spesifieke “hoop” in jou lewe moet en sal gebeur wat dan op die ou einde, indien dit wel nie gebeur nie, die teleurstelling soveel dieper maak. Party mense kry dit goed reg om nie voor af verwagtinge te skep nie en dan kry jy weer mense, soos ek, wat nie kan help om situasies oor en oor voor af te skets.
Reaksies van mense is my grootste ondergang. Ek verwag altyd die mooi in mense. Gebeur dit nie so nie of kry ek nie die reaksie wat ek verwag nie is ek diep teleurgesteld. Ek klou nogal styf vas aan hoop. Ek dink soms lewe ek in ‘n “fairytale” waar almal en alles net mooi en goed is.
“Fairy tale” idee van mense is nie noodwendig vir my ‘n slegte ding nie. Ek kies om altyd die persoon die “benefit of the doubt” te gee, maar die nadeel natuurlik is die ewige vyand.
Verwagtinge word nie net altyd geskep as dit kom by mense nie, maar ook gebeurtenisse, doelwitte, mylpale. Dit is menslik. Ons vrouens is nog meer emosioneel as dit by verwagtinge kom, maar ons moet onsself leer om minder verwagtinge te skep, maar steeds te glo in hoop. Verloor jy jou hoop, verloor jy jou menswees.
Verwagting put jou emosioneel uit. Soos die verwagtinge wat jy van ander mense het, het mense verwagtinge van jou ook. Daardie verwagtinge kan mens ook uitmergel. Jy kastei jouself permanent oor dinge “want dis wat van jou verwag word.” Ek wil nie mense teleurstel nie, want ek weet hoe voel teleurstelling. Soms voel dit asof jy in die middel vasgevang word, want jy wil almal probeer gelukkig hou en niemand teleurstel nie. Soms doen ons dinge teen ons wil oor hierdie rede.
Feit is; jy gaan nooit almal gelukkig hou nie en jy gaan ook self nooit altyd net geluk ervaar nie. “That’s life.” Een van die lewe se lesse.
Dit is soms net ‘n bitter pil om te sluk. So die beste oplossing is om nie te veel verwagtinge te skep nie, verlos jou verwagting en vrede sal jy ervaar. Hoe kleiner jou verwagting, hoe kleiner die teleurstelling. Makliker gesê as gedaan. Tog iets wat ek myself daagliks probeer aanleer.