Herfs kuier nou al 'n volle maand lank by ons. Stadig maar seker begin die blare hier en daar afval en die koel oggend briesie herinner my dat verandeing in die lig is.
Kyk, ek sal die eerste een wees om te erken dat ek glad nie goed is met verandering nie – of altans ek wás nooit goed daarmee nie.
Ek dink dit was iets omtrent die onbekende wat saam met verandering kom, wat gemaak het dat ek meeste van die tyd teen dit baklei. Die onsekerheid van nuwe vriendskappe, die onwilligheid om iets buite my gemaksone te probeer en die oningeligtheid oor wat verandering regtig beteken.
Ek het altyd vrees ervaar wanneer verandering tersprake was. Dit het egter alles verander toe Yahweh vir my wys dat ek verandering nodig het om te kan groei. Het jy al daaraan gedink, dat daar nie seisoene sou bestaan sonder verandering nie. Dat ons nooit die mooi van 'n bloeisel, die hitte van die somerson, die prag van herfsbome of die knusheid van 'n wintersaand sou ken sonder verandering nie?
Ek het onlangs tot die besef gekom dat niemand van ons kan groei sonder 'n bietjie verandering nie. Dis juis deur verandering wat ons weer vreugde kan vind.
Met elke nuwe seisoen in my lewe, groei ek as mens. Verander ek. Dis my keuse of ek die veranderinge gaan omhels of teen dit gaan baklei.
In plaas daarvan om te fokus op wat die veranderinge van my eis, kies ek om te fokus op wat Yahweh vir my daardeur wil leer. Ek kies om dinge anders te sien. In plaas van onsekerheid kies ek hoop, in plaas van onwilligheid gee ek oor aan die groei en in plaas van vrees kies ek vreugde.
As seisoene nie verander het nie, sou die dooie blare altyd aan die bome bly hang het. As groei nie plaas vind nie, sal daar nooit skoenlappers wees nie.
Yahweh het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie. Moet nie verandering teenstaan nie. Sien dit as 'n geleentheid om jouself te verbeter en vreugde te vind.
“Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want Yahweh is met jou, oral waar jy heen gaan.” -Josua 1:9.
Geniet die nuwe seisoen met al sy veranderinge en uitdagings. Hou op om bang te wees dat verandering jou lewe in 'n ander rigting kan stuur. Hoe weet jy dat die rigting waarin jy oppad was, beter is as die een wat kom?
Vind vreugde en kalmte in jou verandering.
Soms is verandering al wat jy nodig het.