Wag ñ bietjie….
Is dit net ek of vlieg die tyd al vinniger verby? Raak ek ouer en stadiger of word die lewe vinniger? Dis ‘n konstante gejaag in ons daaglikse lewens. Jou lysie vir die week is uit geskryf en voor jou eerste koppie koffie gemaak is, het jy reeds jou dag beplan.
Met Paasnaweek pas verby, het hierdie rustige paar dae by die huis saam my gesin my gedwing om so bietjie te wag. Dis nat en koud buite, so met dié is my een bondel wasgoed wat nou 3 geword het agter, dit lyk of ‘n orkaan deur ons sitkamer is soos wat ons torings bou met blokkies en ons gaste is klomp sagte speelgoed wat die banke vol sit. Die huis bly net doodeenvoudig nie skoon nie en ek besef dit is nou die tyd om alles in te neem.
Tyd saam my gesin het my weer tot die besef gebring dat elke oomblik so kosbaar is. Dat dit meer as okay is om jou doen lysie op sy te skuif en aandag aan nou te gee.
Voor die lewe weer ‘n gejaag raak en die dinge gedoen kan word, het ek iewers binne my ‘n wens om net ‘n “pause” knoppie te druk. Ek wil my 2-jarige net sien speel, sy spring met vreugde in die water buite as die reën ons kans gee, ek wil elke oomblik saam my man in neem, langer sy hand vashou en meer kondensmelk-koffie geniet en in die agtergrond ‘n kinderlike lag en gesels hoor. Vergeet van die lewe se gejaag, die druk, die laste wat ons môre weer moet optel en dra….
Soos wat ek stil word in hierdie oomblik, besef ek hoe belangrik dit is om ook so stil te raak in God se teenwoordigheid. Om al jou vrese en bekommernisse by Sy voete neer te lê en na Sy stem te soek. Om bietjie te wag met die daaglikse dinge, in te neem waar jy jouself bevind in jou lewe.
As jy ‘n pause knoppie gehad het - wat sou jy doen as daardie knoppie ingehou word?
Noudat ek besef hoe kosbaar tyd saam my gesin is, en hoe ek konstant tyd maak om ‘n goeie vrou en mamma te wees, weet ek, ek kan net dit wees as my beker vol is, as ek genoeg stil word in Sy teenwoordigheid kan ek alles en meer gee.
Tyd vir God en tyd in Sy woord, sal ons vul met innerlike krag en wysheid om vir ons naastes te kan gee sonder om moeg te word, sonder dat dit soos moeite sal voel.
Wag ñ bietjie - word stil, hoor God se stem, voel Sy vrede.